Iemand het die oonddeur oop vergeet



JAMAKA ORGANIC FARM & CAMPING

 Die Cederberge is so majestueus dat dit moeilik is vir 'n foto om dit vas te vang, maar die week by Jamaka het ons toegelaat om 'n bietjie van dit te ervaar. Die Rondegatrivier het heerlike swempoele waarvan een 'n foefie-slide het.




Maar dit was BLOEDIG warm gewees en ons het meestal maar in ons swembroeke geleef. Ons het of in die rivier gaan afkoel of mekaar met die tuinslang natgespuit om af te koel. Ons het probeer om gedurende die laatmiddag te rus, maar dit was vergeefse pogings - dit was so warm dat ek my cooling towel vir Lienkie moes leen sodat sy nie vergaan van die hitte nie.


As gevolg van die hitte het ons vroegoggende gaan stap, iets wat Lienkie vreeslik geniet het want sy kon los rondhardloop en alles uitsnuffel. Tussen die waterpoele en die stof het Lienkie wel verskriklik vuil geword maar dit het haar glad nie gepla nie want sy was in haar element. Sy het tot die plaas se perde (oor 'n afstand) ontmoet.



Ons was verlig om 'n bietjie van Pringlebaai se stout bobbejane te ontsnap maar ons het 'n Kaapse muishond gehad wat elke nou en dan sy kans gewaag het vir 'n meevallertjie. 


Ons het lekker geëet 😋 Jakkie het een van die oggende mieliepap gemaak en ons het ook die "vark-skaap" boud in die swartpot gaargemaak, lekker sag en sappig.



Vaarwel, Jamaka!

HARDEMANSKAROO

Vrydag, 26 Januarie, het ons die grondpad gevat Clanwilliam toe en daarna op die R364 (verby die afdraai na Wupperthal) gery om weer by die R27 aan te sluit. 


Die R364 sluit die De Pakhuys- en Botterkloofpasse in. Die grondpad aan die Wes-Kaapse kant was in 'n goeie toestand, maar die toestand het geleidelik verswak na Doringbos... En toe besef ons dat ons die Noord-Kaapse kant van die provinsiegrens is. 


Die Botterkloofpas is nie 'n moeitelose pas nie, want die pad is lanklaas geskraap, besaai met skalieklip en effens verspoel met die rëen wat in Desember geval het.

Maar ons het veilig op die R27 aangesluit en 'n vinnige stop in Calvinia gemaak. Dit was (nog steeds) verskriklik warm en die Calvinia son sou jou doodbrand as jy lank genoeg stilgestaan het. Langs die pad het ons baie warrelwinde (dust devils) in die veld gesien - partykeer tot 4 op een slag

R27 tussen Calvinia en Williston


In Williston het ons vinnig opgeslaan en toe het Jakkie sy niggie, Annelize Louw, gebel en verras. Ons het haar en haar man Ockert by die Manna restaurant op die dorp ontmoet en daarna het ons saam met die locals en boere van die omgewing 'n Vrydagaand "uitvaldop" by die Williston gholfklub gaan drink. Dit was baie lekker want die mense is baie gaaf en gasvry. Natuurlik het Lienkie die meeste aandag gekry... 😁 Maar ons het ook uitgevind dat amper almal Jakkie se oom, Koos Olivier, onthou - hy word beskryf as 'n "legend" in die distrik.



Rynhard en Anél, ons het gedink julle sou lekker kon gholf speel op Williston se baan... (Dis nie ons foto's nie, maar dis die hoe die baan lyk 😀



Annelize en Ockert boer op De Kruis, wat so 8 km buite Williston is en Saterdagoggend het ons vinnig daar gaan kuier. Annelize en Ockert het vier volwasse kinders - 'n drieling en 'n laatlammetjie. Ons kon darem twee van die vier kinders ontmoet. Hulle boer hoofsaaklik met skaap maar verbou ook uiesaad en maak volstruise groot namens ander plase in die Oudtshoorn omgewing. Dit was baie lekker want die veld is mooi groen, ek kon weer plaashekke oopmaak en ons het agterop die plaasbakkie in die veld gaan ry. Veral Lienkie het dit geniet want die wind kon deur haar kuif waai en daar was nog 'n Maltesie (Tom) wat baie oulik is. 




BRITSTOWN DISTRIK

Ons het gisteroggend uit Williston vertrek en met die R63 gery tot in Carnavon waar ons gestop het vir 'n bietjie proviand. Daarna tot by Rooidam Cottages & Camping net buite Britstown, waar ons bly tot Dinsdag. 




Dis lekker om die Britstown omgewing so mooi groen te sien en ons kamp op 'n plaas, so daar is vrugteboorde, die lug is skoon, die sterre helder, die uitsig onverbeterlik - en hier is 'n plaasdam om in te swem.

Die uitsig oor die plaas


Skemeraand


Ons het ook plaashonde ontmoet: Nellie (die skaaphond), Lappe (die ouer worshondjie tefie), Emmertjie (die jong worshond tefie en ma van 2 baie oulike babahondjies) en Yster (die worshondjie reun en trotse pa van die babahondjies).

Emmertjie en haar babas

Emmertjie, Yster en een van hulle babas

Ons vertrek more (30 Januarie) na Bloemfontein sodat Jakkie 'n rock protector kontrepsie vir die Fortuner kan laat maak.








Opmerkings

Gewilde plasings