ELEPHANTASTIC!

 

By Namwi Island Lodge het ons bure (Chris en Nicole Lötter) saam met hulle skaaphond, Daloush, gekamp. 


Dis ‘n vreeslik gehoorsame hond en hy was ons sekuriteitsbeampte as die blouapies kom pla het. Chris het ons gewaarsku om nie te skrik as ons die Gewone Boskraai (Trumpeter hornbill) se skree by die kamp hoor nie. 

Die voël klink net soos ‘n baba (of kind) wat huil...

Die Namibiese grenspos was Maandagoggend nie te besig gewees nie en ons is sonder enige moeite deur na die Ngoma grenspos in Botswana. Daar is die maatreëls om bek-en-klouseer te keer baie streng – nie net moet die voertuie deur ontsmettingsmiddel ry nie, maar ons moes ook al ons skoensole in die ontsmettingsmiddel druk. Die Botswana grensposte het ook nou begin om besoekers wat onlangs in lande soos Suid-Afrika en die Demokratiese Republiek van Kongo was te toets vir monkey pox. Gelukkig kon ons bewys dat ons die afgelope 5 maande in Namibië was, so ons is nie getoets nie. Na die grenspos ry jy deur ‘n gedeelte van die Chobe Nasionale Park en ons het ‘n paar diere langs die pad gewaar.

Ons het eers die wa by Tilodi Safari Lodge, ons eerste kampplek in Botswana, afgepak voor ons terug is na Kasane. 

Ons was wel bly om weer ‘n georganiseerde dorp te sien, veral na die paar weke in die Caprivi. Die eerste stop was by die Orange winkel om ‘n SIM-kaart en data te kry, daarna het ons proviand by die Kasane Spar gekoop. Orange het ons geduld getoets, want die verkoopsmense was maar traag om te werk… Orange kan gerus die Kasane-tak vir ‘n kliëntediens-kursus stuur.

Tilodi is ‘n aanvaarbare kampplek, maar eerder net vir nag of twee. 


Dit het ons nie te veel gepla nie, want ons het nie veel tyd by die kamp spandeer nie. Hulle het ons wel gewaarsku dat die bobbejane baie stout is, so ons moes die wa se dak laat sak en sorg dat alles toe was voor ons gery het. Ten minste het Tilodi vir Bruno, ‘n baie vriendelike hond, wat permanent op bobbejaan-patrollie is.

 

Dinsdag het ons by Coffee Buzz in Kasane iets gaan eet en toe na ‘n paar ander kampplekke gaan kyk. Ons wou ‘n ekstra paar dae in die omgewing bly, maar wou seker maak dat dit ‘n lekker kamp is. Ons was by Thebe River Lodge, Kubu Lodge en toe by Big 5 Chobe Lodge. Ons was (stadig) op pad uit by die Big 5 Chobe Lodge se ingangshek toe ons ‘n harde slag hoor… Die wind het die swaar regterkantse hek toegewaai maar gelukkig nie die kar getref nie. Dit het wel die stone guard, wat effens langs die kar se bumper verbysteek, so hard getref dat die hele ding windskeef gebuig het.



Jakkie was glad nie dik van die lag nie, veral omdat daar ‘n klip was wat die hek moes keer, maar die hekwag het nie aandag geskenk nie, want hy was besig met sy selfoon. Die lodge se werksmense het gehelp om die stone guard af te haal – en het met geen toerusting gepoog om dit reguit te kry, maar dit was tevergeefs. 




Ons het toe maar die stone guard op die dakrak vasgemaak en gery. Needless to say, ons het nie die Big 5 Chobe Lodge as ons tweede kampplek in Kasane gekies nie!



Die eerste daguitstappie was ‘n self-drive in die Chobe Nasionale Park. Ons is douvoordag by die kamp weg om eers die Fortuner vol te maak en bande af te blaas voor ons by die park in is. Die park se tweespoor-paaie het baie dik sand, maar die voertuig en bestuurder was in hulle element! Die park het baie wild en ons was gelukkig genoeg om twee jong leeumannetjies te sien.

 









Diere:

     1.       Koedoes
2.       Vlakvarke
3.       Rooibokke
4.       Buffels
5.       Bobbejane
6.       Kameelperde
7.       Bastergemsbokke
8.       Leeus
9.       Jakkalse
10.   Zebras
11.   Seekoeie
12.   Olifante

Natuurlik was daar ook heelwat voëls wat ons kon afneem!

 













Ons het die Kasane/Ngoma gedeelte van die Chobe Nasionale Park platgery en teen die agtermiddag was ons batterye pap, maar dit was heerlik!

Die volgende oggend was ons weer vroegoggend aan die gang want ons moes oor die grens Zimbabwe toe om die Victoria Watervalle te besoek. Ons het nie self gery nie, maar eerder gekies om van ‘n transfer gebruik te maak. Dit werk goedkoper uit want ons hoef dan nie die road taxes te betaal nie – en deesdae word alles in Zimbabwe in Amerikaanse dollar gedoen. Almal weet die land se ekonomie het jare gelede al in die hek geduik – die Zim dollar is minder as niks werd nie, so ek dink die regering het moeg geword om 1 miljoen Zim dollar note te druk.

Die gids het ons meer vertel van die aktiwiteite by die Watervalle, en alhoewel nog altyd my derde bungee jump by die Victoria Watervalle wou doen, kon ek dit nie oorweeg nie want ek wil nie my beseerde knie nog verder seermaak nie. Ons het dit oorweeg om die zipline te doen, maar toe het die helikoptervlug gewen.



Dis peperduur, veral omdat dit Amerikaanse dollars is, maar dis eerlikwaar ‘n once-in-a-lifetime bucket list item. En dit was regtig die moeite werd! Ons kon die valle vanuit die lug sien – wat jou ‘n heeltemal ander perspektief van die Zambezi-rivier en die valle self bied en asemrowende foto geleenthede oplewer.

 







HIER is die reënboogbrug waaroor die honde en katte spring!

Na die helikoptervlug is ons terug na Victoria Falls dorp om op die tradisionele manier na die valle te gaan kyk. Die Victoria Watervalle is die grootste waterval in Afrika en vorm deel van die grens tussen Zimbabwe en Zambië. Die plaaslike mense verwys na die valle as Mosi-oa-Tunya of “the smoke that thunders”. Meimaand is die valle op sy volste en teen September is die watervlak “laag”, maar dis nog steeds ongelooflike hoeveelhede water wat daar afstort. Ons het na al 16 die uitkykpunte gestap en by sommige het die sproei van die valle ons lekker klam gehad, wat welkom was want dit was warm. As jy die valle in Mei besoek sal die sproei jou sopnat maak – soveel so dat gidse die toeriste aanraai om droë klere saam te bring. Ons gids het wel genoem dat die foto’s in Mei nie so mooi is nie, want die sproei vorm ‘n misbank wat fotografie moeilik maak.







Na die uitkykpunte het ons gou iets by die Rainforest Café geëet - ek het 'n krokodilvleis wrap geëet en Jakkie 'n hoender wrap. Hy het GEWEIER om 'n happie van my wrap te proe! 

My krokodilvleis wrap - dit was LEKKER!

Ons het vlakvarke buite die valles se ingang gesien en later was dieselfde vlakvarket net langs die restaurant besig met hulle middagslapie. 

Vlakvarke buite die valle se ingang

Besig met 'n middagslapie

Ons het ook ‘n draai in die dorp gaan maak – dis ‘n baie mooi dorpie met interessante winkels, maar definitief vir die internasionale toeriste geprys.

 



Ons tweede kampplek is Senyati Safari Camp – wat ‘n hele 1,5km van Tilodi af is! Hier het ons privaat ablusie en ‘n lekker grasdak wat welkom is in die hitte. Die kamp het sy eie watergat wat deur boorgatwater gevoer word en die meeste agtermiddae en aande kan ons kyk hoe die troppe olifante kom water drink. 









Die kamp het ook ‘n ondergrondse betonbunker wat reg by die watergat op grondvlak geleë is, wat die kamp uniek maak. Om die olifante van sy naby te kan dophou is iets buitengewoon, maar die watergat is verlig, so jy kan hulle na sononder ook nog na hulle kyk. En glo my, hulle drink liters en liters water by die watergat.

 

'n Aandfoto uit die bunker geneem

Senyati het ook ‘n mak gebande muishond (Banded mongoose) met die naam van Moses. Hy het vanmiddag by ons kom kuier en ‘n bietjie in die koelte van die afdak kom lê want dit was baie warm. Ek het ook vir hom ‘n bietjie water gegee en kon darem ‘n kans kry om sy pensie te krap – te oulik!

 





More gaan die toer aan, die keer suid in die rigting van Nata. Ons besluit nog of ons by Pandamatenga gaan oorstaan voor ons Nata toe ry, maar die algemene rigting bly suid.

NS. Ek was vanoggend in die sop want ek het per ongeluk vir Jakkie in die badkamer “toegesluit”. Die badkamerdeur het ‘n buitenste draaihakie en ‘n Grendel (latch) aan die binnekant. Ek het eerste gestort en toe die laaste van ons vuil klere uit die badkamer gevat om te gaan was – terwyl Jakkie stort. Die badkamerdeur moet toe bly om te keer vir slange en muise, maar ek was vanoggend ingedagte en het die draaihakie toegemaak, sonder om te besef dat Jakkie nie sal kan uit nie. Ek het rustig wasgoed gewas toe ek skielik ‘n benoude stem hoor roep. Jakkie het op een of ander manier die deur oopgekry, maar volgens hom het hy al ‘n honderd keer my naam geroep, sonder antwoord. Ek dink hy oordryf. Ek sou hom later in elk geval gaan soek het. En hy was “toegesluit” met ‘n toilet en waterkraan, al wat nodig is vir oorlewing…





Opmerkings

Gewilde plasings