HAMBURGER WARNING IN BOTSWANA

 



Die week wat ons oor die grens gaan het interessant begin, want Maandag was dit redelik koud en het dit die hele dag gereën. Teen die aand het die donderwolke saamgepak en die hemele het oopgemaak – soveel so dat ons later in poele water op die grondseil gestaan het. Dinsdag se weer was ons genadig gewees want die awning en grondseile moes droog word sodat ons dit die namiddag kon wegpak vir Woensdag se vertrek. Ons moes ook seker maak dat daar minimale kos oorbly en natuurlik moes ek ‘n plan maak om die bak geelmeel en die ekstra bottels wyn in die wa te versteek.

Ons was heel verbaas want niemand by die grensposte het gevra om na iets in die yskas of in die wa te kyk nie, hulle was meer bekommerd dat ons die portable aircon wat op die agtersitplek gestaan het wil invoer. 





Ons het die Google map na Kalahari Rest afgelaai want ons het geweet dat ons geen sein in Botswana sal hê nie, maar ons het ook die GPS gebruik om seker te maak oor ons vordering (en spoed). Die dag en die pad was maar lank want jy moet versigtig verby al die beeste, bokke en donkies langs die pad ry. 










Daar was darem twee keer ‘n bietjie opwinding toe ‘n vlakvark reg voor die kar oor die pad gehardloop het en later het ‘n kalf besluit om sonder waarskuwing in die middel van die pad te gaan stilstaan. 




Die dorpies is few and far between en meeste van hulle, behalwe Kanye en Jwaneng, is eerder nedersettings as dorpies. Gelukkig het ons geweet dat ons in Kang, net voor Kalahari Rest, kon brandstof ingooi.

Kalahari Rest was ‘n welkome gesig na ‘n lang dag en meeste van die staanplekke is groot genoeg dat daar ten minste twee karavane met gemak kan inpas. Ons het net die nodigste oopgemaak en opgeslaan, want die volgende oggend wou ons vroeg vertrek. 












Die personeel stook elke aand en oggend die donkie sodat daar meer as genoeg warm water is vir die kampers. 




Alhoewel ons beplan het om daardie aand die kerrie & rys te eet het die vriendelike aandete uitnodiging van ontvangs na die restaurant met Jakkie se kop gesmokkel en ons het uiteindelik baie lekker steak geëet.

Ons het die volgende middag die Botswana/Namibië grens oorgesteek en by my neef, Deon, en sy familie gestop op Eastgate. 






Dit was regtig lekker om hulle weer te sien en saam te kuier. Deon het daardie aan vir ons gerolde gemsbokrib in die oond gemaak – baie lekker! Die volgende dag het ons saam met Deon se oudste seun, DR (en sy jaghond, Buddy), in die Uri na die wildkamp gery om voer by die verskillende punte te versprei. 









By die jagkamp het ons ‘n groot trop springbokke oor die vlakte sien hardloop en dis nogal iets om te sien, net sodra jy dink dis die laaste springbok, dan kom daar nog ‘n klomp. 





Deon het later die middag ook vir ons die kapel, konferensiesentrum en granaatboord gaan wys – van daar af het jy die mooiste uitsig oor die hele area en die stilte is iets om te beleef.

Die laaste aand het ons saam met die hele familie gebraai, want die volgende oggend moes Deon en Rita hulle middelste seun, Rion, en sy kinders by die lughawe in Windhoek gaan aflaai. Rion en sy vrou woon tans in Uruguay waar hulle in die bediening is.

Ons is die volgende oggend direk na Gobabis om ‘n MTC SIM-kaart te koop en te registreer sodat ons darem nie heeltemal afgesny van die buitewêreld is nie. Toe was dit tyd om by die supermark te stop vir proviand voor ons die pad kon vat na Grootfontein. Ons was aanvanklik van plan om eers suide toe te gaan, maar omdat ons vroeg in Mei weer in Windhoek moet wees het ons besluit om eerder eers Noord beweeg. 



Die pad van Gobabis na Grootfontein is in die laaste paar jaar geteer, so dit was ‘n gemaklike rit. Natuurlik is ons deur nedersettings soos Okamatapati, Otjinene en Okakarara, almal tradisionele Herero name. Jakkie het darem in Gobabis ook van die Herero vrouens skelm afgeneem, net omdat hulle drag so vreemd is in die moderne era. Die vrouens se tradisionele drag dateer uit die Victoriaanse era en meeste se uitrustings is baie statig. Wel, die meeste van die vrouens is lank en statig.

Iets wat opvallend is in Namibië is hoe skoon die rusplekkies langs die paaie is. Glad nie so morsig en onnet soos ons dit in Suid-Afrika ken nie. ‘n Mens voel gemaklik om daar te stop, sonder dat jy bekommerd is of jy op ‘n been van KFC hoender gaan trap nie. Dit maak nie saak of die rusplek in die middel van nêrens is nie, die mense kry dit reg om die plekkies skoon en netjies te hou.





Ons staan tans by die Meteorite Rest Camp buite Grootfontein, wat ongeveer 3 km van die wêreldbekende Hoba meteoriet. Ons gaan more na die meteoriet kyk, dan na Tsumeb ry en ook by die Otjikoto-meer ‘n draai maak.






Soos dit die afgelope ruk gewoonte is het die plaas se hond, Lexi, by ons kom kuier. Sy is ‘n oulike jong Jack Russell wat baie bly is as hier gaste kom kuier, maar die keer is sy ekstra bly, want die plaas se eienaars is weg vir die naweek.



 Gisteraand, na donker, het hier skielik ‘n ander, groot hond arriveer. Dis ‘n jong Pit Bull kruising en Lexi was nie baie ingenome met hom nie. Hy is so ‘n groot, lomp lummel wat, indien hy nie so groot was nie, op ons skoot sou klim. Ons het gedink dis een van die ander plaashonde, want die hond het die hele nag buite die karavaan geslaap en ‘n paar keer met so ‘n diep stem hier buite geblaf. Hy het homself as ons persoonlike sekuriteit aangestel.



 Vanoggend het ‘n trekker met ‘n wa opgedaag en toe besef ons die groot hond, (sy naam is Tiger) is van ‘n omliggende plaas. Hy “ontsnap” gereeld en gaan kuier by die ander plase tot die eienaars van hulle werkers stuur om hom op te spoor.

Hierdie doringboom is deel van die kamp - dis 'n Umbrella Thorn Tree en is enorm groot.




Waarheen ons Dinsdag gaan ry is nog ‘n duistere saak, want ons weet nie, maar ons sal later vanaand oor dit besluit.

NS: Die snaakse ding wat gebeur het die afgelope week - toe ons by Meteorite Rest Camp aankom en die wa se dak opslaan sien ons dat ons iewers 'n padda vasgedruk het onder die dak. Die arme padda het teen die tyd al uitgedroog en het soos 'n bokkem aan die dak gehang...





Opmerkings

Cath Jackson het gesê …
I love the open spaces - wow what an incredible adventure you guys are on and how wonderful to share this with you. Thank you for giving me access. I have been offline for a bit so lovely to catch up

Gewilde plasings