'n Zonkey is 'n wonderlike ding!

 

 'n Versameling padtekens wat ons tydens ons toer in Namibië afgeneem het.




Die week van die Mooiloop toer was ongewoon omdat Jakkie se vlug na Johannesburg reg in die middel van die week gebeur het.

Maandag het ons weer ‘n draai in Windhoek gaan maak om na die Christuskirche, ‘n baie bekende kerk en landmerk, te gaan kyk. 



Dis ‘n Lutherse kerk wat in 1907 deur die Duitse gemeenskap gebou is en het tans nog elke Sondag ‘n diens. 





Die kerk deesdae reg in die hartjie van waar dinge gebeur – die adres is deesdae Robert Mugabe Avenue (arme kerk…), dis reg oorkant die Independence Museum en ook die Namibiese Parlementsgebou. Ek onthou die jare toe die kerk ‘n bietjie meer ruimte om dit gehad het om asem te haal. Nou vorm dit die middelpunt van ‘n baie groot verkeersirkel. Maar die gemeente is nog dienend en hou ook gereeld kerkdienste vir gemeentelede op plase in die distrik.

Independence Museum


Later die middag het ons die gewone duvet omgeruil met die donsduvet – dis belangrik, want die nagte koel nou baie af en ons het die vorige nag koud geslaap, selfs met die ekstra kombers. Die pakkery vir Jakkie se besigheidsreis begin en teen die aand was alles in orde. Tussendeur het ons die gemsbokke en veral die gemsbokkalfie dopgehou. 



Die kalfie, net meer as 1 week oud, is so oulik en het Maandagaand sulke mal draaie al om sy ma gehardloop. Sy kleur is ook anders as ‘n volwasse gemsbok, meer ligbruin as grys, maar daar is reeds twee parmantige horinkies wat op sy kop pryk.

Ons het Maandagaand, nadat ons gestort het, die donkie weer gestook, met die hoop dat die water vroeg die volgende oggend nog warm sou wees vir Jakkie se stort. Toe ons 05:30 opstaan was dit 6 ˚C, maar die water het gelukkig warm genoeg gebly vir ‘n lekker stort. Sonder warm water sou dit bitter onplesierig gewees het, want dit was koud en die stort is semi-opelug, so koue stortwater sou die dag net verkeerd afgeskop het. Teen 06:30, met ons bekers koffie in die hand, het ons die pad gevat na Hosea Kutako Internasionale Lughawe, wat ongeveer 20 km is van waar ons gekamp het.

Dinsdag was ‘n rustige dag by die kamp en teen laatmiddag het die gemsbokke en blesbokke naby genoeg kom wei sodat ek ‘n beter foto van die klein gemsbokkie kon neem. Die groot gemsbokke het my met ‘n houtoog dopgehou en later weer die kleintjie weggelei.






Woensdag het ek eers instandhoudingswerk gedoen (lees wasgoed gewas) en toe in die mall gaan uithang. Net jammer ek het Wernhill gekies, want dis ‘n deurmekaar plek, gebou op baie verskillende vlakke. Ek het darem twee ure in die mall spandeer – toe was ek gereed vir die stilte van die kamp.

Ek was gelukkig gedurende die tyd wat Jakkie weg was, want ek was die enigste persoon wat daar gekamp het. Die ander mense was in die Lodge, maar teen Donderdagmiddag was die ander kampplekke ook vol. Dit was ‘n bietjie van ‘n anti-klimaks want die mense was luidrugtig en dit het die wildsbokke effens verdryf.

Vrydagoggend was dit tyd vir oppak en aanbeweeg. Ons eerste stop was by Bush Whackers in Windhoek om die probleme met die wa se geyser uit te sorteer. Bush Whackers is agente vir Bush Lapa in Namibië en ons was aangenaam verras want die man wat ons gehelp het was flink, vriendelik en goed met sy werk. Daarna het ons eers by ‘n vulstasie aan die buitewyke van Windhoek gestop om die tyres bietjie af te blaas want die C28 is grondpad en kan met tye rof raak. Die pad is die kortste maar glad nie die vinnigste roete tussen Windhoek en Swakopmund.






Ons was gelukkig, want die C28 was eintlik goed rybaar sonder enige skud-skud sinkplaat. Nou was ons in die hartjie van die Khomas Hochland en die omgewing het nie teleurgestel nie. Die uitsigte is regtig mooi want die pad loop oor heuwels en deur dale. 




Ons het gestop by Liebig House, ‘n vervalle Duitse mansion wat uit die vroeë 1900s dateer. Die geskiedenis van die is baie interessant want dit was eens deel van ‘n 21 000 ha plaas wat behoort het aan die man wat heel eerste “beef extract” (Oxo of Bovril) begin ontwikkel het. Die oorspronklike plaas is na die Tweede Wêreldoorlog deur die Suid-Afrikaanse regering gekoop en verdeel om kleiner plase vir terugkerende soldate te skep.

Vandag is ons laaste dag by Harmonie C28, ‘n plaas wat oorspronklik deel van die Liebig plaas was. 




Die plaas het baie gerieflike kampplekke met eie ablusie en opwasplek. Ons het krag, maar die warm water word nog steeds deur ‘n donkie gestook. As deel van die verblyf kry ons elke dag ‘n sak braaihout en 2kg ys.







(On)gelukkig is hier glad nie sein by die kampplekke nie en om sein te kry moet ons ry na ‘n uitkykpunt op die plaas. Ons was gisteraand by die uitkykpunt toe drie van die plaaswerkers te perd verby ons ry. Ek moes net ‘n foto neem.





Hier is ook heelwat voëllewe en wild op die plaas.

Kyk net Jakkie se mooi foto's van die Koningblousysie




Maar die headlining act is die mak zebramerrie en haar kind, ‘n zonkey (zebra/donkie kruising). 

Zonkey

Die zebra stap ewe gemaklik deur ons kamp


En Zonkey volg sy ma



Die eienaars het die zebra hans grootgemaak nadat haar ma deur ‘n luiperd platgetrek is en haar eerste (en enigste) vul is toe die buitengewone kruising. Sy is nog steeds mak by die eienaars en as hulle agterdeur oopstaan stap sy in op soek na iets om te eet.

Die volgende stop is by Farm Prospect, op die C26 wat Walvisbaai toe gaan.

NS. Hier is koringkrieke maar vanoggend was daar meer as gewoonlik. En toe word ons geseën met ‘n lekker buitjie reën!



NNS. Hier is die mooiste, mooiste sterrehemel, want dis tans ‘n sekelmaan en hier is geen ligbesoedeling nie. Die eienaar het vir ons vertel dat mense eergisteraand die Southern Lights gesien (en afgeneem het). Dis soos die Northern Lights, maar die kleur is nie blou-groen nie, eerder skakerings van rooi. Dis vroeg in die oggend sigbaar, so met sy raad het ons die alarm vanoggend vir 02:00 gestel, met pajamas en al in die kar geklim en by die plaas uitgery, op soek na die hoogste punt. Jakkie het geweet waar suid is en ons het vir ‘n tydjie gewag, maar ongelukkig was dit bewolk met donderweer in die verte. So ons moes druipstert maar weer omdraai om verder te kom slaap. Dis so ‘n rare verskynsel - wie weet, miskien staan ons moreoggend weer 02:00 op om te gaan kyk of ons dit kan sien!

En dis hoeveel moeite ons by die Nagkantoor doen om die blog uit te kry


 

 

Opmerkings

Gewilde plasings