Sien jy daai stoffie?

HURRY UP AND WAIT

Die groot dag het aangebreek en Jakkie het sy belofte nagekom om die toer met 'n heeltemal skoon gesig te begin 😁 Na 'n geskarrel om die laaste goed agtermekaar en gepak te kry was ons gereed om net na 10:00 te vertrek vir die groot avontuur. Maar... ons het vergeet dat Pringlebaai se loadshedding 10:00 begin en dus kon ons nie die solar geyser afskakel nie. Ons moes noodgedwonge op die stoep sit en bolle rol tot 12:00 voor ons kon vertrek.

Die Wes-Kaapse hittegolf was minder aangenaam, veral toe ons in Piketberg stop om proviand te koop. Teen 42°C het niemand dit buite die kar gewaag sonder 'n baie goeie rede nie. 





Ons eerste week spandeer ons by Jamaka Organic Farm & Resort wat ongeveer  5 km van CapeNature se Cederberg Algeria kampterrein is. Dit was harde werk om in die hitte op te slaan en ons moes swoeg toe die jockey wiel in die sand vasval - maar met die hulp van die movers, houtplankies en 'n rubbermatjie is ons basse gered.



Ons staanplek teen die Rondegatrivier en het lekker skadu, wat vreeslik belangrik is omdat dit sover gedurende die dag niks koeler as 35 
°C is nie. Ons sien geen ander kampeerders van waar ons staan nie, so ons geniet die stilte en rustigheid. Ons het ook skoon en netjiese ablusiegeriewe wat ons nie hoef te deel nie.













Carina en Rynhard se Kers/toergeskenk van 'n misting fan kom baie handig te pas, selfs Lienkie geniet dit.






Sy kry warm, maar gaan staan self onder die fyn sproeier wat permanent aan is op die kampterrein (vir stof!) of soek koelte onder die Bush Lapa. Sy het selfs al die klein waaier vir haarself geëien en dis nou "Lienkie se waaier".


Ons het gaan afkoel in die rivier, maar Lienkie was na die tyd nie baie beïndruk met ons gewees nie.



Dis heerlik om saans met die klank van die rivier te gaan slaap en soggens so wakker te word. 
Ons is hier tot 26 Januarie voor ons verder ry.

Opmerkings

Gewilde plasings