DIE AFGELOPE WEEK SE BOLLIE

 



WESTVAAL HOLIDAY RESORT




Die naweek by Westvaal was effens meer besig gewees as gedurende week omdat dit die ideale tyd was vir die papgooiers om hulle persoonlike visdoepas uit te toets – maar dit was nog steeds rustig. Teen Sondagaand was dit net ons en die lankstaners in die kampplek. Gedurende die weeksdae was die lankstaners weg gewees want hulle werk, so dit was net ons.

Op pad na Parys

Dinsdag het ons laatoggend die plaaspaaie gery en in Parys ‘n draai gaan maak. Jakkie het voor ons vertrek seker gemaak dat ons die wa se dak laat sak en alle deure toe is, spesifiek om moeilikheid met die blouapies te omseil.

Parys is redelik skoon en netjies met ‘n groot klomp interessante winkeltjies in die hoofstraat. Ons het middagete by die diere-vriendelike Plum Tree Vintage Restaurant gaan eet en Lienkie is verwelkom met haar eie melkbekertjie vol koue water, ‘n waterbakkie en ‘n hondekoekie.


Lienkie word by Plum Tree verwelkom


Die restaurant is gevul met interessante oudhede (en ou Springbok Hits plate), tuisgemaakte eetgoed en lekkernye, maar ons het die vintage tydskrifte die meeste geniet! 

Die Rooi Rose van 25 Februarie 1970

Die Huisgenote en Rooi Rose tydskrifte uit die 1970s het vir groot vermaak gesorg en ons lekker laat lag – veral die advertensies en fotoverhale…

 

Klaarblyklik was aambeie groot nuus in die 1970s

Die gebreide mansdrag was definitief van nylon, so die mans het sweet-lies ervaar

Die dae toe die Suid-Afrikaanse Poskantoor nog funksioneel was


'n Poskursus vir die huisorrel

Die immergewilde fotoverhale - die voorloper van hedendaagse TV sepies


Ons eie Kaptein Caprivi 😁

Terug by Westvaal was ons maar te bly dat die wa toegemaak is, want die blouapies het in ons vuilgoedsak baljaar en selfs van Lienkie se snacks probeer eet omdat ons een van die buitenste klappe oopgelos het. Na die blouapies se vriendelike waarskuwing was ons meer op ons hoede.

 

Lienkie hou toesig by die potjiekos

Ons het die volgende aand ‘n heerlike kerriepotjie met die vark-skaap gemaak en die reuk het ook twee van die wilde katte gelok. Hulle was nie opdringerig gewees nie, net lus. Een van die katte wou ook graag met Lienkie kom maatjies maak want die kat het ook net 3 bene, maar Lienkie het haar trots en meng nie graag met ‘n kreupel kat nie!

DIE “INSIDENT”

Donderdagoggend het ons nog ‘n uitstappie beplan en ek het op Google gelees van die Sylviavale Heritage Museum wat klassieke karre, ou trekkers en stoomenjins in die versameling het. By Syviavale moes ons uitvind dat die motormuseum nie meer bestaan nie en die daar nou ander besighede is (dankie Google!!), maar die geboue is nog steeds interessant. 

Ons het op die buitenste plein gaan staan om (weer) vir Google te vra vir ‘n koffiewinkel wat naby is. Die volgende oomblik het een van die eienaars se honde, ‘n Rottweiler kruising, uitgeharloop en vir Lienkie (wat aan haar leiband was) aan die nek gegryp en rondgeskud! Jakkie het die hond in die ribbes geskop en ek het vir Lienkie opgepluk terwyl sy soos ‘n klein speenvarkie geskree het. Gelukkig was daar geen bloed nie, maar ons almal was erg getraumatiseer. Die hond se eienaar het ‘n stink houding gehad en dit probeer afmaak as “spelery”. Die res van die dag was in die wiele gery en ons is terug Westvaal toe. Lienkie se lyfie was baie seer en sy was in skok. Ons het haar maar by die wa gepamperlang so goed as wat ons kon en besluit om haar die volgende oggend veearts toe te vat.

Die res van die dag het Jakkie soos Vader Tyd op die kampstoel gesit en die blouapies met die kettie probeer bykom – beide Jakkie en die apies se gedrag het vir groot humor gesorg.

 



Vrydagoggend het ons met wa en al eers by die Pierre van Ryneveld veearts gestop sodat hulle vir Lienkie kon ondersoek. Jakkie het buite gewag “om na die kar en wa te kyk” maar ek dink hy was bang die veeartse ondersoek hom ook! Lienkie het inspuitings en pille gekry, maar sy gaan Maandag weer na die veearts toe vir haar beplande inentings en sodat sy ‘n micro chip kan kry om saam met ons Namibië toe te gaan. Sy neem baie gehoorsaam haar pille (met die hulp van chicken viennas) en het weer ‘n huppel in haar stap.

 

DINOKENG (DE RUST CAMPSITE)



Dinokeng is baie welig en mooi groen, maar baie warm. Ons het Vrydagmiddag in die hitte opgeslaan sodat alles gereed kon wees vir die verwagte reën. Jakkie het net betyds vir ons ‘n tjoppie gebraai voor die groot druppels begin val het. Dit was ‘n behoorlike donderstorm maar dit het ten minste verligting van die verskriklike warm temperature gebring.

 




Lanings vol rose wat te koop is

Ek en Carina het Rose Gin & Tonic gedrink

Saterdagoggend het ons vir Carina en Rynhard vir middagete by Ludwig’s Roses ontmoet. Die digte skaduwee onder die bome was ‘n lafenis en ons het gekuier. Terug by die wa het ons almal skadukolle gesoek om van die hitte te probeer ontsnap en later het ek en Lienkie ‘n bietjie in die swembad gaan afkoel.

 

Ons gaan vir die volgende twee dae by Carina en Rynhard kuier - Lienkie moet weer veearts toe en dan gaan tannie Patricia Lienkie se bolla klits. Sy mag dalk weer soos Piglet lyk, maar ‘n baie kort kapsel is beter vir haar in die hitte.

 

NASKRIF

Die veldbrand in Pringlebaai is geblus en ons huis is veilig. Daar het onlangs ‘n kunsgalery (FOMO https://fomo.africa/) oorkant die ingang van Pringlebaai oopgemaak (aan die ander kant van die R44).


Die eienaars was baie behulpsaam tydens die brande en het ook die galery as ‘n tydelike veilige hawe vir die inwoners aangebied. 


Die foto is deur Janko de Beer geneem toe die veldbrande begin het en ek wou dit deel omdat dit ongelooflik treffend is.

 

Opmerkings

Gewilde plasings