We will always have Paris (on the Vaal)

Die magtige Oranjerivier (naby Petrusville)


LAASTE AAND IN BRITSTOWN

Ons het die laaste aand by Rooidam Cottages & Camping buite Britstown spandeer deur rustig die laaste van ons vark-skaap tjoppies te braai.


Daarna het ons heerlike koffie gaan drink saam met Bonquet op die voorstoep van hulle plaashuis. Haar man, André, was saam met Jakkie in die laerskool in Britstown en ‘n eerstejaar by UVS, maar hy kon ongelukkig nie saam koffie nie want hy moes by die plaas se grensdraad langs die N8 gaan patrollie doen. Hy het ingligting gekry dat daar moontlik elemente is wat beplan om van sy skape te steel. Lienkie het so styf op Jakkie se skoot gesit dat sy amper wortel geskiet het, terwyl Lappe en Emmertjie beurte gemaak het om op my skoot te sit.

Terug by die wa het ons die nodige opgepak sodat ons die volgende oggend rustig kon klaarmaak en vertrek, maar toe raak ons altwee gedurende die nag wakker van ‘n harde slag en blare wat val. Dit het geklink soos een van die groot voëlnesse wat uit die boom op die wa se dak geval het, maar ons was nie veel gepla nie en en het verder geslaap.




Toe Jakkie die volgende oggend opstaan sien hy dis ‘n tak van ‘n groot Kareeboom wat gedurende die nag afgebreek het en tussen die wa en die Fortuner geval het – gelukkig het dit die Fortuner gemis, anders was dit ‘n gekners van tande.

Net voor ons vertrek het Bonquet vir ons ‘n roomysbak vol afgeskilde turksvye gestuur wat dadelik in die yskas gebêre is. Dis verskriklik lekker en ons eet elke dag een of twee van die turksvye.



Rooidam is regtig ‘n lekker plek met mense wat uit hulle pad gaan om verblyf lekker te maak – dis die tweede keer wat ons daar is. Ons was voorheen in die winter van 2018 daar met Wilson en Jordan, maar toe het ons in net vir ‘n nag in een van die huisies gebly.

RIGTING BLOEMFONTEIN

Ons het die N10 gevat na De Aar toe, maar eers by die afdraai na Sweetfontein gestop om ‘n foto te neem. Dis ongeveer 15 km buite Britstown en deesdae ‘n boutique farm lodge, maar toe Jakkie klein was was dit ‘n systasie waar vriende gebly het.


Die Bo-Karoo omgewing het goed reën gekry en is groen met baie gras wat tussen die bossies groei. Dit bly maar lekker om die Karoo so te sien!

De Aar se eie Tafelberg

Veldblomme langs die N10

Phillipstown is ‘n agtergeblewe Karoo dorpie waar alles agteruit gegaan het. Dis nogal hartseer om te sien hoe baie van die klein dorpies in Suid-Afrika so erg verval, want eens op ‘n tyd het daar het generasies plaasgemeenskappe floreer met mense wat trots was om dit hulle tuiste te noem. Nie meer nie…

Ons het vinnig in Petrusville gestop en toe oor die Oranjerivier deur Luckhoff, Koffiefontein en Petrusburg gery op pad na Bloemfontein. 

Oor die Oranjerivier

Die Havenga brug

Gedurende die gedeelte van die dag het die berigte op ons Pringlebaai Telegram groepe al hoe meer ernstig geword as gevolg van die veldbrande. Die opdrag het gekom dat die inwoners moet ontruim omdat die brandweer nie seker was hoe die brande gaan versprei nie en die rook so dig was. 



Dis hartseer om sulke verwoesting te sien


Die middedorp van Pringlebaai



'n Helikopter laai brandbestryders af


Die Kaapse weer was baie warm en droog – ideaal vir weghol veldbrande. Teen die tyd het die Hangklip Hotel al afgebrand en die vlamme het oor die kruin van Hangklip versprei in die rigtig van Clarence Drive en Pringlebaai. Anél het troepe opkommandeer om belangrike en sentimentele goed uit ons huis te gaan verwyder – goed soos foto’s, die skilderye, die Olivier wakis, as wat nog gestrooi moet word, die olifantvoet, die bandietbankie, Ouma Rina se trekklavier – en Jakkie se versameling messe (waarvoor Anél lank moes soek). Alles is in die Venter sleepwa en die Audi gelaai en in Kleinmond gaan stoor.

Maar toe stuur sy vir my ‘n foto van die Audi met ‘n duik en krapmerke – en vra of ek daarvan weet… 


Ek is salig onbewus van dit en wys met skok dit aan Jakkie. Dis al dag 12 van die toer, hy lag skuldig en toe kom hy met die hele sak patats vorendag. Jakkie het ‘n dag voor ons vertrek die Audi met die Bush Lapa gestamp toe hy dit effens wou skuif. Nogal foto’s geneem “om later vir my te wys” maar NIKS daarvan gesê… Hy was so uitgevang!

Ons het in Bloemfontein arriveer sodat Jakkie die stone protector kontrepsie kon laat maak. Die ding is nie elegant nie, maar dit sal keer dat los klippe op die Namibiese grondpaaie die agterruit van die Fortuner uitslaan. Die eerste oggend in Bloemfontein moet Jakkie na die werkswinkel toe om die Fortuner te meet vir die kontrepsie. Ek ry voor sy vertrek na die naaste vulstasie “agter sigarette aan” (Jakkie se woorde en dit was vir Vuse pods). Ek vergeet van die Weekender yskas (agter in die Fortuner en ons vrieskas) wat met 'n lead op krag is. Jakkie is besig om te stort en ek reverse ewe versigtig juis om nie iets raak te ry nie. Toe ry ek stadig, hoor 'n kapgeluid, dink dis boomtakke wat die ammo bokse gehaak het. Stop, klim uit, check. Alles lyk reg. Ek ry uit die karavaanpark uit, maar nog op pad na die vulstasie bel Jakkie my, hondsdol kwaad want ek het die lead, waarvan ek vergeet het, heel afgeruk en een paal in die proses geknak. 


Toe ek terug is by die karavaanpark was al die krag in die wa af, ook by die plek se kragboks. Maar ons kon dit darem herstel en kon die onderpunt van die gebuigde paal vervang. Ek was vir die res van die dag in die dog box. 

Wat die skade aan die Audi gaan kos is ‘n duistere (en baie duurder) saak, maar Jakkie is van mening dat ons twee nou “quits” is omdat ons altwee aangejaag het.

Daar was by die karavaanpark ‘n paar goedversorgde rondloperkatte wat Lienkie se bloeddruk opgejaag het. Die jonger een kon sy jaag, maar die ouer mannetjieskat het nie so maklik geskrik nie en het haar ‘n paar keer na ons laat terug hardloop.

Die kontrepsie is intussen op die Fortuner monteer, baie netjies gemaak en gee gemoedsrus vir die grondpaaie. Dit kan afgehaal word, so indien ons op lang ente teerpad ry sal dit gestoor word. 


PARIS ON THE VAAL

Sonneblomme langs die N1

Ons is vir 7 nagte by die Westvaal Holiday Resort wat ongeveer 30 km buite Parys langs die Vaalrivier is. 







Lienkie het vanoggend 'n ander (bang) Maltesie gejaag dat hy klein word - dit was iets om te aanskou en baie snaaks. Daar het ook vanmiddag 'n groot trop blouapies deur die kampplek getrek, maar ons het vir Lienkie maar eenkant gehou sodat sy nie in 'n vuisgeveg met die apies betrokke raak nie.

Daarna gaan ons vir ‘n maand Dinokeng toe voor ons weer die agterpaaie na Namibië aandurf.

Opmerkings

Gewilde plasings