THE WEEK OF UPS & DOWNS

 


Die afgelope week het ons emosies definitief wipplank gery. Ons het Sondagmiddag lekker by Carina en Rynhard gebraai en die aand daar oorgeslaap. Vroeg Maandagoggend het ek en Lienkie vir Jakkie by die Urologie hospitaal in Hatfield afgelaai vir sy jaarlikse ondersoek en later die oggend het ek en Lienkie weer by die veearts gedraai. Die veearts het haar weer ondersoek na die “insident” in Vuil Vanderbijl en toe het sy haar inentings en Virbac microchip gekry. Daarna het sy ‘n haarafspraak by tannie Patricia gehad vir ‘n “summer cut” en rooi strikkie, reg vir Valentynsdag.



Reg vir Valentynsdag

Toe ek en Lienkie vir hom later by die hospitaal gaan haal was die verligting groot om te hoor dat die dokter baie tevrede was met Jakkie se toetse en om dit te vier het ons gaan roomys koop by Royal Danish Homemade Icecream. Dit was soos altyd die lekkerste lekker roomys – ek het spesiaal vir Jakkie die Rum & Raisin en Butter Pecan geure gekoop.


I scream, you scream, we all scream for icecream!

Maandagaand het ons weer by Carina en Rynhard gebly en ons almal het baie lekker aan Indiese Kerrie en naan brood gesmul. Die Dinsdag sou ons vir Lienkie by Rynhard en Francina los sodat ons nodige inkopie draaie kon gaan maak, maar Lienkie het glad nie goed reageer op die inentings nie, en was siek, so ek het by die huis gebly terwyl Jakkie sekere inkopies gaan doen het. Ek het gelees dat kleiner hondjies meer geneig is om nie goed te reageer as hulle die hondsdolheid en booster inentings op dieselfde dag kry nie. Lienkie het geen eetlus gehad nie en was baie naar, wat glad nie lekker om te sien nie, veral nadat ons by die veearts moes draai na die “insident” en sy nog steeds pyn gehad het.

 

Ons is Dinsdagmiddag terug Dinokeng toe – ook net betyds want ons was skaars by die kamp toe maak die hemele oop. Donderweer, reën, sterk rukwinde en selfs ‘n bietjie hael. Die rukwinde het een van die tent se hoekpale losgeruk en toe moes ons net keer. Maar die gedoente het darem nie te lank aangehou nie en toe kon ons tot verhaal kom en die nodige skoonmaak.


Francina, wat Dinsdae by Carina en Rynhard werk. is ‘n raakvatter, maar sy het per ongeluk Lienkie se pynmedikasie in hulle medisynekas gepak – en ONS ALTWEE het dit vergeet. Natuurlik het dit drama veroorsaak en almal het Dinsdagaand met opgeblaaste wange gaan slaap. Ek het Woensdag vir Lienkie weer veearts toe gevat omdat ons geen medikasie vir haar gehad het nie – hierdie keer die veearts in Pyramid. Hy het haar ondersoek (na die termometer in haar twaksakkie en die ondersoek wou sy hom byt) en gesê dat sy inflammasie in haar spiere het en ‘n senuwee iewers vasgeknyp word. Dit sal moontlik met baie stil gedrag en rus herstel, maar dis ‘n lang proses en gaan nie oornag gebeur nie. Die keer het ons meer pille gekry en ons het maar deur trial & error uitgewerk watter pille om watter tyd van die dag te gee sodat Lienkie gemaklik bly en nie haar skouerspiere verder beseer nie. Maar, daar was tye wat ons albei baie teneergedruk was en hande in die hare gesit het want dis glad nie lekker om haar te hoor tjank/skree as sy pyn het nie of om te sien hoe sy so onvas op haar voete is dat sy omval nie.

Die naweek het sy klein verbeteringe getoon, maar dis een tree vorentoe en twee tree terug. Sy eet redelik goed en drink gereeld haar pille (chicken viennas is so last year, tans kry sy haar pille in skyfies boerewors versteek) en ons smeer gereeld haar spiere met arnica gel. (Dankie, Annelize!) Ons bly versigtig optimisties en is innig dankbaar vir elke bietjie vordering.

 

THE USUAL SUSPECTS

Jan en Annelize het die naweek kom kuier en dit was heerlik om weer saam te kamp. Ons het lekker gelag, gekuier, gebraai en (minder lekker) saam verskriklik warm gekry.



Ons het Saterdagoggend ‘n draai gemaak by Dinokeng se Safari Mall, Lienkie ook, sy het by my kruiwa gery. Saterdagmiddag het ons soos maplotters skadukolle gesoek, in ons swembroeke onder ‘n koue stort gaan staan en dan in die skaduwee gaan sit. Lienkie het saam warm gekry, maar sy het onder die cooling towel afgekoel. 


Jan het Saterdagaand vir ons lang murgbene gebraai wat ons na die tyd op varsgebakte potbrood geëet het – groot sonde, maar flippen lekker!

Die weer het later begin dreig en teen die tyd dat ons in die bed was het die donderstorms in alle erns begin. Hierdie keer was die weer regtig baie swaar en dit het ook baie gerëen – ‘n paar keer het dit gevoel het of die blitse die area reg buite die wa getref het. Die storm het vir Jan ‘n ligte turbo charge gegee toe hy buite hulle karavaan gesit en rook het – en nou kroes sy hare nie meer nie. 

'n Vroeë belofte van die donderstorm


Die elektrisiteit in die omgewing is ook uitgeslaan, en omdat Eskom so fluks is het ons vandag nie regtig krag gehad nie. Maar die sonpanele, die wa se battery en die battery wat agter in die kar is het vandag tot hulle reg gekom, so ons was darem nie heeltemal verlore nie. 

Op 'n vrolike noot het ons die week al 'n hele paar diere gesien - zebras, rooibokke, 'n njala, 'n vlakvark en blou wildebeeste - en natuurlik blouapies. Die rooibokke was 'n groot trop wat baie naby aan ons staanplek gewei het en die njala het ook baie naby aan Jan en Annelize se staanplek beweeg. Die video is van ons staanplek af geneem.



Ons hoor amper elke aand die jakkalse en die afgelope twee aande het ons ook hiënas hoor roep.

Die dam by De Rust - ons het nog nie vir Chomp, die seekoei, gesien nie




Dis vanaand se wolke, so ons verwag nog donderbuie

Opmerkings

Gewilde plasings