ALLES OOR VOËLE, PADDAS, KLOKKE EN DUUR GESKENKE

 


 

Groot Olivier-nuus! Hierdie week was Derrick se verjaardag en ons het hom vroeg Vrydagoggend gebel om hom geluk te wens.



Ons dae hier by Eagles Nest het ‘n vaste, stil ritme ontwikkel. Dinge wat deel is van ons dag. Jakkie se velddraffies (baseball bat in die hand), my kniestut, maar meer belangrik, die ritme en beweging van die diere. Maak nie saak of dit die blesbokke, neushoringvoëls, skape, padda of koggelmander is nie.

Hierdie padda klim vinniger boom as die apies!

Elke oggend, terwyl ons koffie drink, gooi ons voëlsaad uit en wag vir die duiwe, (Suidelike) Geelbekneushoringvoëls (Tockus leucomelas J), Bosveldfisante (Pternistes swainsonii J) en eekhorings om te kom partytjie hou. (Ek klink baie slim met die Latynse name, of hoe? LOL!)




Die klomp kompeteer om te sien wie die meeste saad kan eet en terwyl hulle almal besig is kom die koggelmander koes-koes teen die boom af om in die vroegoggendson te bak. Sodra hy (of sy) goed wakker is, word daar verby die braaiplek na die volgende boom geskiet waar daar ‘n permanente tapas-spyskaart van miere is.

Later die oggend word die skape uit die kraal gelaat en begin hulle daaglikse roetine van eet en poef. Die skape kom gereeld hier verby en ons het uitgevind hulle eet ook graag stukkies ou brood. Die brood was eintlik vir die voëls gestrooi, maar die skape het op ‘n afstand gesien iets word gestrooi en toe nader gehardloop. (Tussen my en julle – party van die skaapramme het ekstra-groot klokke wat hulle moet saamdra, dit lyk kompleet soos daai simpel Blou Bul ondersteuners met die blou rubber klokke agter aan die bakkie se haak.)

Ons het uiteindelik besluit om ‘n portable aircon vir die wa te koop (bietjie laat wakker geskrik want dit weer is nou eintlik baie lekker en ons mik vir herfs).


Ter verdediging, die plan is om nog tot die einde van die jaar te kamp en teen daai tyd sal die hitte sal ons weer na ons asems laat snak. Ons het ook ‘n ordentlike router aangeskaf want ons gaan by plekke kamp waar ‘n selfoon met ‘n MTC SIM-kaart as hotspot net nie goed genoeg gaan wees nie. Waar ons tans kamp het Jakkie geen Vodacom sein nie en gebruik my MTN sein as hotspot – maar my sein is soms ook maar op-en-af. En as dit die sein af is dan is hy so moeilik soos ‘n menopausal tannie met ‘n nat broek omdat hy nie Netwerk24 of Sondag se Rapport kan lees nie.

Anél en Mila het ook ons lêer met ons Namibiese geboortesertifikate in Pringlebaai gaan haal en dit met Pudo na Bela-Bela gestuur, so ons moes die logistiek om Bela-Bela toe te ry mooi beplan tussen die Takealot aflewering en die Pudo pakkie. Onthou, ons is 50km van Bela-Bela af en dis Paasnaweek.

Intussen het ons botter en jogurt op geraak en het ons noodgedwonge ‘n besoek aan Leeupoort en Koedoeskop gemaak (Thabazimbi se rigting). Daar het ons darem reggekom met die allenodigste tot ons uiteindelik Vrydag (Paasnaweek se Vrydag!) na Bela-Bela toe is. Neels en Joanne bly in ‘n aftreekompleks op die dorp en het ons basse gered omdat die Takealot pakkies by hulle adres kon afgelewer word. Na al die pakkies in die kar was het ons by die Bela Mall se Agri-Deli ‘n toebroodjie gaan eet. En hier raak dit komies. Ons het skaars by die buite tafeltjies gesit (want Jakkie wou ‘n oog op die Fortuner hou) en ‘n koffie bestel of ‘n jongerige vrou nader Jakkie. Ek het dadelik opgelet dat sy Down Sindroom het – en onthou, mense met Down Sindroom het nie die sosiale vaardighede van ander mense nie. Sy vra, sonder om hallo te sê: “Is jy besig?”. Jakkie, bietjie uit die veld geslaan, maar altyd baie ordentlik, antwoord: “Nee…”. Toe haal sy ‘n armband gemaak van houtkrale uit haar sak en gee dit vir Jakkie. “Dis R50, jy kan moet dit vir jou vrou koop.”
Jakkie, altyd bly om klein besighede te ondersteun, kyk toe in sy beursie en sien hy het net ‘n R100-noot. Hy vra: “Het jy dalk kleingeld?”
“Nee,” antwoord sy.
“Maar ek het net ‘n R100-noot,” antwoord Jakkie.
Sonder om ‘n oog te knip of aan ‘n oplossing te dink, antwoord sy: “Dis reg, jy kan maar die R100 gee.”
Jakkie is toe so verras dat hy toe maar die R100-noot oorhandig en sy is daar weg. Die hele insident was so onverwags en snaaks, ons het net vir mekaar gekyk en toe begin lag! 

Die (duur) armband

Nou het ek ‘n nuwe armband van houtkrale (wat nie regtig my “colours” is nie), maar die engel-vrou se hart is bly.

‘n Lekker groot skilpad het ons een middag hier naby verras, want dis die grootste “sterretjie skilpad” wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Dis seker nie heeltemal "sterretjie skilpad" (regte naam: padlopertjie) wat ons in Namakwaland ken nie, maar dit lyk baie dieselfde, net BAIE groter.






Teen Vrydagmiddag was die plaas se eienaars, Frans en Tersia Rossouw, terug van hulle Kaapse vakansie en die plaas se honde, Jock, Nikki en Milo, was baie opgewonde. Die eienaars het Vrydag vroegaand kom groet en toe het ek kans om vir hulle die doggie snacks, wat ek in Bela-Bela gekoop het, te gee.

Die afgelope week was die maan baie vol, maar het teen gisteraand die mooiste hemelruim vol stêrre aanskou. Dit maak ons baie opgewonde vir die mooi stêrrehemel wat ons in die middel van nêrens in Namibië gaan aanskou.






Ons bly hier tot Woensdag, 3 April, wanneer ons na Kareespruit Game Lodge buite Zeerust verskuif. Die tyd om oor die grens na Botswana te gaan kom al hoe nader…

Opmerkings

Gewilde plasings