BIRTHDAY BOY! 🥳🎉🎂

 


Die uitmergelende hitte in Gauteng is klaarblyklik nie van plan om gou te verdwyn nie en die afgelope week was weer ‘n sweterige affêre. By die kamp het ons gedurende die dag gereeld ons swembroeke aangetrek, onder ‘n koue stort gaan staan en net so nat-nat onder ‘n koeltekol gaan sit. Of ek het die klein en minder effektiewe waaier op die tafel gesit vir effense lafenis.




Maandag het ek vir Zia (Christo se Yorkie) vasgekeer en lekker gebad. Haar hare was vol klitsgras en ek het die opslaan badjie waarin ek wasgoed was en Lienkie se Johnson & Johnson babasjampoe gebruik. 

Zia bid dat haar bad moet einde kry

Ons het stortjel vir die toer, so Lienkie het spesiale 2-in-1 babasjampoe gekry waarmee ek gedurende die toer seker nog vuil hondjies sal bless! J Zia was nogal gehoorsaam tydens die bad, baie meer rustig as waaraan ek gewoond is, want al drie ons stinkies was maar redelik woelig as dit by badtyd gekom het.

Dinsdagaand het ons vinnig gebraai – maar nie vinnig genoeg om die reënbui voor te spring nie… Ons het juis vroeër die middag gewonder hoekom die kampers langs ons so vroeg hulle vuur aansteek. En toe vind ons uit. Jakkie het soos ‘n ware planmaker die braai aan die gang gehou met ‘n golfsambreel en ons kon darem later eet.


Die Mary Poppins van braai

Woensdag was besig – want dit was Jakkie se verjaardag! Woensdagoggend het ek hom geneem vir ‘n lekker ontbyt en die gereg wat hy gekies het was so reg in sy kraal. Die “Mexican Boat” bestaan uit: mielie pap topped with scrambled eggs, savoury beef mince, melted cheddar cheese, garnished with chopped bacon and roasted Mexican-style corn.

Mieliepap vir die verjaardagseun


Daarna het hy ‘n koffieafspraak gehad met die prokureur wat meeste van die RMI se regsake behartig het en toe is ons na ‘n vervaardiger van karavaanseile om die moontlikheid van hitte-reflekterende seile vir die wa te ondersoek. Die konsepte en werk wat die mense doen is topklas, maar die man is besig en ons oorblywende tyd in Gauteng sal ons nie toelaat om dit nou te doen nie, want die wa moet vir twee dae by die besigheid bly – en dan kan ons dit nie gebruik nie.

Woensdagaand het ons ‘n lekker ete saam met Carina en Rynhard by Hennie’s geniet. Dit was die aand vir cocktail en pizza specials, so ek en Carina het ‘n Frozen Margarita en Strawberry Daquiri gedrink en ons almal het pizza geëet. 

Hêppie-hêppie birthday!




Dit was slegs die tweede keer wat ons by Hennie’s was, so Carina en Rynhard moes ons weereens herinner dat een van die reëls is om met ons linkerhand te drink, anders word ons "gestraf". 😁

Donderdagoggend is ons vroeg uit die vere want Jakkie het ‘n afspraak saam met Jan Schoeman gehad terwyl ek en Annelize gaan ontbyt eet het en toe na die haarsalon is. Jakkie het ook ‘n koffieafspraak met Cathy Jackson gehad – sy doen al vir ‘n paar jaar die meeste van die PR vir die RMI. Cathy het geweet dit was Jakkie se verjaardag en sy weet ook van ons lang toer, so sy het vir Jakkie ‘n gelukspakkie van gemaalde koffie, biscotti, tjoklit, klein marshmallows en twee baie mooi en handige Stanley Coffee Mugs gegee. Ek het vir haar gesê ons sal van nou af na die bekers verwys as “Cathy’s mugs”.




Die middag is ons redelik haastig terug kamp toe want die weerburo het swaar donderweer en erge reën vir die meeste van Gauteng voorspel. Ons was slaggereed, maar ons het nie die storm ervaar nie. Daar was ‘n bietjie reën, maar glad nie ‘n storm nie. Ons het egter die vorige oggend vergeet om ons vuilgoedsakkie in die groot asblik te gooi, so die apies het in ons afwesigheid lekker kanse gevat - en het 'n poef op die tafel gelos as bedanking dat hulle kon partytjie hou by ons. Ek het eers 'n foto geneem en toe die tafeldoek en handdoek wat oor een van die stoele se rugkant gehang het gewas.

Bewyse dat die apies 'n wilde partytjie gehad het

Ons het die aand ‘n Cowboy stew gemaak – regte kampkos. Gebraaide uie, knoffel, green pepper, bietjie van die, bietjie van daai, bully beef en baked beans op toast. Ek weet baie mense trek hulle neus vir so iets op, maar tydens ons grootwordjare was bully beef ‘n algemene ding en ons het heerlik gesmul.

Toe die hitte Vrydagoggend te erg begin raak het ons Safari Mall toe gery (die Fortuner se aircon was wyd oop) om proviand te koop vir die naweek, want Carina en Rynhard het saam met ons kom kamp. Op pad terug van die “mall” af het was ons gelukkig genoeg om twee olifante te sien en later ook kameelperde.



Ons het Vrydagaand gebraai en van Safari Mall se baie lekker kerrie noedelslaai en koolslaai geëet. 

Carina en Rynhard se chalet is gereed



Saterdagoggend is ons na die Tshikwalo Game Lodge (ook in Dinokeng) se restaurant vir ontbyt.

Terug by die kamp was dit knetter-warm maar ons het ons stadig begin om op te pak deur die tent se kantseile en die klein tafeltjies op te slaan. Carina en Rynhard het ‘n bietjie van die erge hitte ontsnap in die swembad en ons het later die middag ‘n draai met Zia deur die kamp gaan stap.



Ons het Saterdagaand ‘n heerlike kerrie hoenderpotjie gemaak (ek neem nie verniet amper een hele rak van die wa se kombuis met my botteltjies kruie en speserye op nie!
J) Christo, Zia se pa, het vir ‘n wyle by ons gekuier en gesels, maar hy is ‘n vegetariër en het die aanbod van hoenderpotjie vriendelik geweier.

Rynhard wys vir skoonpa hoe dit gedoen moet word 😆
 
Zia se pa, Christo, kuier 'n bietjie

Wie sal dan nee sê vir so 'n lekker cuddle?



Sondagoggend het rustig begin, en dit was duidelik dat niemand vreeslik lus was om te begin oppak nie, maar die hitte het ons bekruip so dit moes gedoen word. Ons het wel effense bietjie opwinding beleef toe ons ‘n klein rooilip slangetjie langs een van die ammo bokse op die grondseil ontdek het. 




Rynhard neem beheer terwyl Carina en Jakkie gil soos meisies

Carina was bang, Jakkie was NOG banger en Rynhard was manhaftig genoeg om die slangetjie in een van die opwasbakke te help en in die veld te gooi.

Amper klaar kamp opgeslaan by De Rust in Dinokeng

Ons is vir twee dae by Carina en Rynhard (ons voel al so sleg omdat ons so gereeld by hulle plak) maar die wa gaan more na Bush Lapa toe sodat die batterye uitgesorteer word. Hulle beter die batterye uitsorteer, want ons gaan vir 8 nagte by Stilte Boskamp staan, en daar is nie krag nie, so ons gaan van die sonpanele en batterye afhanklik wees. Stilte is net buite Dinokeng geleë en daar sal ons lekker kan stap en draf want die plaas het nie roofdiere nie. Ons sal definitief vir Bella, die mak volstruis, ontmoet en ons behoort ook nagapies te sien.

Opmerkings

Gewilde plasings