DIE PLAKKIE-BENDE



Verlede week was emosioneel. Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie. Ons sal nie in die fynste besonderhede ingaan nie, maar dit was ondenkbaar moeilik om Lienkie finaal te groet. Dis hoekom daar geen blog verlede week was nie – ons moes onsself tyd gee om te rou. 


Stylvolle Lienkie met haar summer cut en Valentynstrikkie


Lienkie se Valentynstrikkie wat nou oral saam met ons reis




Die Donderdag toe Lienkie by Onderstepoort behandel is het ons ‘n draai in Bela-Bela gaan maak om inkopies te doen en ook om ons gedagtes ‘n bietjie af te lei. Op die pad terug het ons by die Toeka padstal gestop om ‘n bietjie rond te snuffel en ‘n broodjie te eet.




Onderstepoort het ons op hoogte gehou van Lienkie se toestand deur in die oggende en laatmiddag te bel, wat ons effens minder angstig laat voel het. Die ironie is dat ons alles om Lienkie beplan het – waar ons die grens sou oorsteek, watter Namibiese kampplekke troeteldier-vriendelik is en watter plekke ons sou kon besoek. Nadat Lienkie oor die reënboogbrug gespring het (om haar boetas die Leviete te gaan voorlees) het ons besef dat ons nou enige roete kan ry en by enige plek kan gaan kamp, maar skielik was dit oorweldigend en het ons bietjie verlore gevoel. 

Henda het verlede jaar die prentjie vir ons gemaak 😢

Sy was die toer se mascot, ek het so gehoop ons kon ‘n foto saam met haar neem onder die teken by die Steenbokskeerkring. Ons mis haar nog steeds in alles wat ons doen, selfs met die mees eenvoudige dinge. En ek het die week die perfekte pienk kinder-kampstoeltjie vir haar gesien…

Een ligpunt was dat Carina verlede Saterdag kom kuier het om saam met ons te sweet. Ons het Saterdagoggend ontbyt by Twin Towers hier in Dinokeng gaan eet waarna ons vir  haar die Safari Mall gaan wys het. Sy het darem die kans gekry om ‘n paar diere langs die pad te sien.

Ons het ook tans 'n bietjie probleme met die yskas (of die wa se batterye). Indien die wa op 220V krag is OF deur die baie effektiewe sonpanele gelaai word werk die yskas soos dit moet. Maar sodra die kragbronne nie aan is nie dan is daar 'n probleem - en ons stoei nog steeds met Bush Lapa in Centurion om met 'n oplossing vorendag te kom. Jakkie het al die wa se DB bord oop gehad, hy het 'n multimeter gekoop en met Rynhard se instruksies die batterye se lesings in elke moontlike situasie getoets. No joy. Ons sal volgende Maandag by Bush Lapa aanmeld sodat hulle die wa kan diens en die situasie regmaak. Ons moet kan staan by kampplekke waar daar nie 220V beskikbaar is nie - en gedurende die dag sal die sonpanele hulle deel doen om die yskas te laat werk en die batterye te laai. Maar die batterye sal die yskas deur die nag MOET laat werk as die sonpanele nie werk nie. Watch this space...

Maandag het ons 'n skugter kuiergas gehad (nie die blouapies nie!) - 'n jong njala bul het ongeveer 5 meter van ons kampplek kom wei. Later in die week 'n paar njala ooie met 'n kleintjie naby aan ons kamp verby gestap.



Dinsdag het ons saam met Piet Dros se broer en suster by Arlington Brewery gaan middagete eet. Hulle het vir die week by Afsaal Karavaanpark gestaan. By Arlington kon ons darem ‘n renoster in die veld om die brouery sien en ‘n paar baie mooi groot koedoebulle op ons pad uit. Die koedoes is so mak en glad nie skrikkerig vir die kar nie – die klomp het so wei-wei oor die grondpad beweeg.




Woensdag het ons “dorp” toe gery en in alle erns begin soek vir ‘n ordentlike koffie plunger want die een wat ons ingepak het werk nie meer nie. Ons het koffiebone en die elektriese koffiemaler hier, maar die plunger het net frustrasies veroorsaak. Nou het ons 'n double-walled, stainless steel plunger. Ons moes ook ‘n silicone koekpan opspoor wat in die air fryer pas sodat ek dinge soos frittata of moontlik poeding kan maak. Annelize het ook vir my jumbo silicone muffin cups opgespoor so daar sal binnekort ook scones of klein souttertjies in die air fryer gemaak word.

Woensdagaand het ons by Carina en Rynhard gebraai saam met Jurgens, Karen en Wessel. Dit was baie lekker want ons het heerlik gesmul en kon na die hartseer darem weer lag.

Donderdagoggend was ons teen 08:30 by die gastroloog se spreekkamer vir Jakkie se gastroskopie – maar dit was ‘n geval van hurry up and wait (en dit sonder enige koffie of ontbyt). Toe dit Jakkie se beurt was het dinge darem relatief vining verloop en na 45 minute was ek terug in die spreekkamer met ‘n lekker broodjie vir die honger man. Ons het daarna gaan kruideniersware koop en is terug kamp toe.

Ons “buurman” in die kamp, Christo, is ‘n ouer man wat alleen saam met sy Yorkie, Zia hier naby ons kamp. Die hondjie was ‘n seëning in die moeilike tyd want sy kom maak gereeld ‘n draai by ons. 

Zia gaan kyk gereeld wild saam met Christo

Christo en Zia het Vrydagoggend kom koffie drink en sy het op ‘n stadium ‘n padda gejag wat hier by die wa rondhang. Later die oggend het sy weer hier kom draai en ek het opgemerk dat sy vreemd onrustig optree. Later die middag het Christo haar gebring sodat ons hom kon help om oogdruppels in die hond se oë te gooi want sy kon nie haar oë oopmaak nie. Ons vermoed dis die padda se afskyding wat in haar oë beland het en ‘n allergiese reaksie veroorsaak het. Maar met oogdruppels, ‘n halwe Allergex twee keer ‘n dag en ander boererate lyk sy darem vandag heelwat beter.



Ons is Saterdagoggend vroeg uit die vere sodat ons betyds kon wees vir die Boeremark en ‘n bakkie pap en kaiings! 


Dit was heerlik en ons het rustig rondgedrentel totdat dit tyd was vir Jakkie se tweede “afskeid” saam met van die ouer garde wat RMI-lede en kollegas was toe hy in die Pretoria kantoor gewerk het. Dit was alles te danke aan Johan Coetzee en Piet Dros en ons het ‘n baie gesellige middag by Oppiplaas in die Moot spandeer.



NASKRIF

Ek het hierdie prentjie gekry en het dit met Jakkie gedeel - daar lê en wag ons drie stinkies wat oor die reënboogbrug gespring het vir ons... 💖




Opmerkings

Gewilde plasings