THE CLASH OF THE TITANS

 



Toe ons Sondag by Carina en Rynhard arriveer moes ons eers goed uit die wa pak sodat Bush Lapa die volgende dag gemaklik by die batterye kon uitkom. Ons gasheer en –vrou was baie tegemoetkomend en ons kon al die nodige goed in hulle garage EN hulle yskas pak – en ek kon wasgoed met ‘n wasmasjien was en nie met die hand nie! Jakkie het my vriendelik herinner dat dit die laaste keer in ‘n lang ruk sou wees dat ek die luukse van ‘n outomatiese masjien sou geniet. Ek het net my oë gerol en voortgegaan om die nat wasgoed op te hang.

DINGE WAT PLA EN GEDULD WAT MIN IS

Die wa is Maandagoggend in en teen 11:00 was CTrack by Carina en Rynhard om die Fortuner se nuwe tracking device te installeer. (Dis nou nadat Jakkie hom die vorige week lelik vir Cartrack vervies het en hulle diens onmiddellik gekanselleer het EN vir hulle vertel het om nie die jaar ‘n Kerskaartjie van ons te verwag nie…)

Wonderbaarlik was die wa teen Maandagmiddag gereed. Dit was op die ou einde toe nie batterye wat foutief was nie, maar wel Bush Lapa wat van die eerste dag vergeet het om die voltage van die yskas reg te stel. Na al die gesukkel, gekners van tande en Jakkie wat homself moes dubbel vou om met die multimeter by die batterye uit te kom was dit toe baie eenvoudig om reg te kry. Daar was ‘n paar keurige woorde gespreek en ons is weg om die wa te gaan haal. By Bush Lapa vind ons uit dat hulle vergeet het om, soos ons gevra het, die mini-diens te doen. Nog gekners van tande en toe hang ons rond by die Wimpy vir 1½ uur terwyl die mini-diens gedoen word – maar ten minste het ons lekker roomys met tjoklit sous en ‘n Flake geëet. Ons het uiteindelik die wa by Bush Lapa gaan haal en om die dag se suksesse mooi af te rond besef ons op die pad terug huis toe dat ons duidelik kan sien waar die tracking device se installasie is, want die panele was die 100% korrek terug geplaas nie. Jakkie bel vir Ctrack om dit aan te meld, maar die tegniese afdeling wat die installasies hanteer is net beskikbaar tussen 08:00 en 17:00 – en dis 17:05. (Teen die tyd was Jakkie se lip al so lank dat ek dit in ‘n kruiwa moes rondstoot…) To add insult to injury stuur Ctrack Maandagaand vir Jakkie ‘n e-pos om te vra hoe hulle diens sover was. Sy terugvoer was professioneel maar nie baie vleiend nie. Ek het darem Maandagaand ‘n kans gehad om ons gashere se oond te gebruik en het die tuna-en-rys gebak gemaak.

Dinsdagoggend het ons gou saam met Piet Dros ontbyt geëet by Doppio Zero en Jakkie het weer met Ctrack gepraat. Na die ontbyt is ons direk na Ctrack se hoofkantoor in Irene. Die slorderige werk is reggestel en ons is op die hande gedra – die hoof van die tegniese afdeling het self inspeksie gedoen en saam met ons koffie gedrink. Na die tyd het ons altwee lekker gegiggel.

Ons kon Dinsdagmiddag uiteindelik koers kry na Stilte met die vertroue dat ons batterystelsels goed sal werk, siende dat Stilte geen krag het nie. Ons het die eienaar ontmoet en eers rondgestap om vas te stel watter staanplek se skaduwee die beste sou werk vir die wa en bush wing. Ons het amper die wa afgehaak voordat ons onthou het dat ons eers die wa se watertenk moet gaan opvul by die ablusiegebou. Terug ablusie toe vir 30 minute terwyl die tenk voltap – en dis WARM… Jakkie het darem Dinsdag vroegaand ‘n entjie gaan draf en ons het die aand potjiekos gehad wat ons kon afvries vir aandete.

THE CLASH OF THE TITANS

Woensdagoggend het ons lekker ver gaan stap en die spierwit blesbokke in ‘n trop gewone blekbokke gesien. Na die stap het ons rustig by die wa ontspan – en toe daag Bella, die mak volstruis, ewe luilekker hier op. 




Sy was aanvanklik ‘n nuutjie vir ons en relatief oulik, maar sy ken klaarblyklik nie van personal boundaries nie en ons het die stoele en tafels op die rand van die grondseil gepak sodat sy ten minste afstand hou. Sy is nuuskierig en het aan alles gepik, van tenttoue tot ons stapkeppies wat op die tafel lê. 



Ons het haar so bietjie aan haar nek gevryf, maar ons het haar later verveel en sy het drentel-drentel rondom die kampplek begin wei. Ons sou oorspronklik op ‘n ander kampplek gestaan het, so die eienaar het die groot asblik daar geplaas. Jakkie besluit toe om die groot asblik te gaan haal en stap ongeveer 5 meter skuins agter Bella in die grondpad af. Ons weet nie of Bella vir Jakkie geskrik het nie, maar toe sy omdraai het sy haar nek lank uitgerek, haar bek wyd oopgemaak en haar vlerke gesprei. Jakkie het sy hande bo sy kop uitgestrek (soos die eienaar ons aanbeveel het). En net daar tref die stront toe die fan. Bella het reguit na Jakkie toe gestorm met die doel om hom te skop, en ‘n volstruis se skop is gevaarlik en kan jou regtig erg seermaak, veral as die nael voor aan die voet jou tref. Jakkie het vinnig gedink en op die laaste oomblik gekoes sodat die skop hom net skrams op sy een heup getref het. Teen die tyd was hulle in die veld net langs die grondpad en die kombinasie van die impak, bosse en aalwyne het veroorsaak dat Jakkie sy balans verloor het en geval het. Bella het omgedraai en weer vir hom gekom, die keer om op hom te trap. Net nadat sy hom getrap het kon hy haar aan haar nek gryp en dit afbuig grond toe, wat dit vir haar onmoontlik gemaak het om te skop. Dit het haar tot bedaring gebring, maar dit was soos ‘n Mexican stand-off at high noon tussen Jakkie en die volstruis. 

Alles het SO vinnig gebeur, dit was regtig ‘n kwessie van sekondes. Ek het tydens die insident nader gehardloop en op Bella gegil, want ek is deeglik bewus van die ernstige skade wat ‘n volstruis kan aanrig. Indien Bella weer vir Jakkie sou storm sou ek haar getackle het, maar Jakkie was vinnig, gelukkig en gesëend genoeg dat hy weggestap het met net hemelhoë adrenalienvlakke, skraapmerke, blou kolle, stukkende plekke en ‘n baie seer knie. Jakkie kon Bella se nek geknak het, maar ek het hom oorreed om dit eerder te los, en sy het dadelik gesorg dat sy so vinnig as moontlik weghardloop. Toe moes ons ook nog eers tussen die bosse en aalwyne soek vir Jakkie se bril wat in die stoeiery afgeval het. Jakkie het vir Bella belowe dat sy volgende keer 'n paar houe met die baseball bat gaan kry...


Ek het Jakkie se wonde met Dettol, salf en pleisters behandel waarna ek 'n paar dorings met die tweezers moes verwyser. En toe die honderde knapsekêrels uit sy broek en T-hemp haal voor ek dit kon was. 
Al wat ek kan sê – daar is iewers ‘n volstruisleerhandsak met Bella se naam op…!





Bella het later in die dag gaan skoorsoek by die mense wat in die boshuis bly en daarna is sy op kraal gesit. Ons het die eienaar vertel van die clash of the titans en sy het gesê dat hulle besluit het om vir Bella aan ‘n naby geleë plaas te skenk waar daar ander volstruise is want sy begin nou ‘n probleem raak.

Soos genoem het Stilte nie krag nie, so ons is afhanklik van die sonpanele vir die wa se batterye en ons moet ook die donkie by die badkamers stook vir warm water. 








Maar dis gewoonlik so warm deur die dag dat dit nie nodig is in die aand nie, die water is warm as gevolg van die son. 



Ons stook die donkie so ‘n bietjie in die oggend, maar Jakkie is gewoonlik daar aan diens, want ek wil elke oggend graag ‘n bonfire bou net omdat dit lekker is, maar hy keer. Ons is die enigste wat tans hier kampeer, so ons kan al ons goed in die badkamer los - dis soos 'n privaat badkamer, maar ons moet net 'n entjie stap.

Donderdagoggend het ons nie gaan stap nie, maar ek het wel Jakkie se rugspiere goed gesmeer met arnica gel. Christo en Zia vir ‘n uur of twee kom kuier, wat Zia gate uit geniet want hier is baie nuwe reuke, maar ons het mooi na haar gekyk want hier is baie slange en bosluise.




Vrydagoggend het die seer spiere genoeg ontspan sodat ons weer gaan stap het en daarna het ons ‘n draai gaan ry – meestal om die hitte te ontsnap onder die kar se aircon.

Saterdag het ons vir Herman Köstens, een van Jakkie se kollegas, by Ludwig’s Roses ontmoet vir middagete en lekker gelag en gesels. 



Jakkie het ook intussen die sand tracks op die dakrak vasgeskroef en gemeet en pas waar die ammo boxes nou vasgemaak moet word.




Vanaand bederf ons onsself – ons braai steak. 



Dinsdag sal ons weer “dorp” toe gaan en daarna van die goed begin opslaan en wegpak, want Woensdag gaan ons na Eagle’s Nest Bush Camp wat so 20km buite Bela-Bela is. Ons sal daar wees tot 3 April.



Van die "blog skryfkantoor" - over and out tot volgende week.


 

Opmerkings

Gewilde plasings