VAN STILTE NA EAGLES NEST

 

Eagles Nest


Ons tydjie by Stilte Boskamp het tot ‘n einde gekom en ons het Maandag stadig maar seker die klein goedjies begin oppak. Christo en Zia het vir oulaaste by ons kom kuier en ons het te danke aan Zia 'n baie interessante tor afgeneem. 


Zia kry van die vorige aand se steak


Maandagaand het ek vir ons toebroodjies gemaak en ‘n kosblikkie gepak en ons het die water in die donkie goed warm gemaak want ons moes Dinsdagoggend ekstra vroeg opstaan.

Dinsdagoggend was die eerste keer in ‘n lang ruk wat ons met die foon se alarm wakker geword het – 05:15 om presies te wees. Ons het gestort, koffie in die Stanley bekers gemaak en in die pad geval want Jakkie het sy eerste online RMI Board meeting as non-executive director gehad en ons moes sorg dat ons op ‘n plek kom waar daar goeie internetsein is. Terwyl Jakkie besig was met sy vergadering het ek die nodige proviand gaan koop om tyd om te maak. Na die vergadering het ons eers ‘n draai by die naaste Fleischerei tak gaan maak om ‘n bietjie vleis en die immergewilde bacon & halloumi braai sticks en oepsies te gaan koop.  Ons het ook ‘n vinnige koffie saam met Christo Basson, een van Jakkie se oud-kollegas, gaan drink en toe is ons terug kamp toe. Dit was ‘n lang dag en ons moes die volgende dag vertrek, so ons het vroeg gaan stort en ingekruip.

Woensdag het vroeg vir ons begin want ons wou die meeste van die “heavy lifting” oppakwerk doen voor die son te warm word. Dit het redelik vinnig gegaan, maar dit was stowwerige werk en ons het eers na die pakkery gaan stort. Teen 10:00 was ons gereed om te vertrek en ons het Stilte se eienaar by die ingangshek ontmoet om die sleutel terug te gee. Soos haar bakkie in die grondpad afgery gekom het het Bella (die mak volstruis) met die grensdraad langs gehardloop – aan die bure se kant van die draad. Ons het bietjie sleg gevoel, want dit bly tog maar ‘n dier wat hans grootgemaak is en nou verban is en na haar mense verlang. Maar jy kan nie redenasievermoëns van ‘n wilde dier verwag nie en sy bly ‘n gevaar vir gaste.

Ons het vir oulaaste ‘n draai by Safari Mall gaan maak om ‘n bakkie elk van die lekker koolslaai en kerrienoedelslaai gaan koop. Toe is ons op die pad na ons volgende amptelike kampplek, maar ons het eers gou weer by Toeka Padstal buite Bela-Bela gestop vir ‘n toebroodjie.


EAGLES NEST

Die paaie was relatief besig, wat te verwagte was siende dat die skole gesluit het met twee langnaweke wat voorlê, maar ons het sonder enige moeilikheid by Eagle’s Nest Bush Camp arriveer. Dit is ongeveer 40km buite Bela-Bela op die pad na Thabazimbi. Die Bush Camp het net 8 staanplekke, elk met hulle eie ablusie. 





En dit is seker van die lekkerste ablusies wat ons nog op die toer gehad het (seker ooit) – dis baie netjies en skoon en die waterdrukking in die stort is wonderlik. Daar is ‘n kragpunt met 2-punte en 3-punte  reg langs die spieël in die badkamer en ek dink aan die meisiekinders elke keer wanneer ek daarna kyk. Dit sou perfek wees vir julle as julle hare wou blaas of straighten!

Donderdag was ‘n publieke vakansiedag (Menseregtedag) en ons het gebraai soos alle wetsgehoorsame mense sal maak. Later gedurende die aand en nag het daar ‘n allerverskriklike donderstorm losgebars met so baie reën dat ons gedink het die sondvloed het begin. Die blink ogies in die wa was nie die nagapies nie maar wel ons twee wat grootoog na alles gelê en luister het. Die donderweer was ongelooflik swaar en daar was tye wat dit so hard geslaan het dat ons wa vibreer het. Maar ons en die wa het dit oorleef en alles was droog binne die wa.





Die volgende oggend het ons gaan stap en draf, maar ons moes mooi trap want die wêreld was nat en die grond baie modderig. Dit het ons die afgeskrik nie want ons was maar te dankbaar dat die afgelope paar weke se erge hitte gebreek het. Ons het mekaar wel baie mooi inspekteer toe ons terug is na die stap, want die bosluise het welig gesit op die grashalms wat oor die paadjie hang.

Behalwe vir die erge donderstorm was ons week regtig rustig sonder enige ontstellende insidente – en ons is vir die eerste week hier die enigste kampers. Die eienaars van die plaas is vir ‘n week weg en hulle het vir Neels en Joanne Putter, van hulle gereelde kampers, gevra om gedurende die week ‘n ogie te hou. Die mense is toegewyde voëlfotograwe, maar neem ook naaldekokers en vlinders af. Nie net vir sommer nie, hulle bydraes word by amptelike versamelings ingesluit. 

Neels en Joanne Putter

Ons het baie insiggewende geselsies al gehad, en besef dat daar vreeslik baie interessanthede in die natuur is wat sommerso by ons verbygaan. Ons sal van nou af baie meer oplettend wees vir die “klein” goedjies in die natuur.

Die plaas het ‘n paar skape, ‘n paar hoenders en natuurlik wild soos rooibokke, blesbokke, koedoes, koggelmanders en neushoringvoëls – en ‘n volstruis. 


Die koggelmander wat in die boom by ons kampplek bly




MAAR, die volstruis is ‘n mannetjie en wild, so hy sal glad nie kom nader kennis maak nie. Alhoewel al die feite glad nie vir Jakkie gerusstel nie en die hardehout baseball bat wat Oupa Karel gemaak het gaan saam op ons stappies. Die buurplaas het ook ‘n hele paar donkies wat ons nog nie gesien het nie, maar wel gereeld hoor.

Die skape loop die hele dag rustig en vreet. Dis al wat hulle doen, behalwe natuurlik om te poef. 




Ons het gistermiddag rustig in die wa gelê en die skape dopgehou. Hulle het reg rondom die wa gewei en ook sommer ewe oor die grondseil gestap. Nadat ons opgestaan het ontdek ons op die grondseil een van die bosluise wat verniet op die skape rondrits – en liewe genade, ons het eers gedink dis ‘n klippie maar besef toe dis ‘n groot bloubosluis wat sy pens dik gesuip het op een van die skape! 




Dis regtig ‘n grillerige ding, maar ons moes eers ‘n foto neem om te deel…

Laat gistermiddag was die koedoes en blesbokke ook hier naby en ons kon darem een van die koedoebulle afneem. Alhoewel Jakkie sê dat die blesbokke lekker dom diere is het hulle baie vinnig vir ons weg gehardloop.

Vandag het ons besluit om ‘n draai te ry na Rooiberg, ‘n klein dorpie sowat 20 km van die kamp af. Die dorpie het ontstaan as gevolg van ‘n tin myn maar daar gaan deesdae nie te veel aan nie. Ons het gaan ontbyt eet by Marula Hub op die dorp – die plek is bekend vir die lekkerste wafels. En ons almal weet hoe stout Jakkie oor ‘n wafel is. 




Dit was ongelukkig nog ‘n bietjie vroeg in die dag en die soet wafel Boeing was nog nie oor die dorp nie, so ons het besluit om ‘n ontbytwafel met roereier, bacon en kaas te eet. Die koffiewinkel bak ook lekker brood en rolletjies en daar is ook ‘n baie netjiese slaghuis waar ons boerewors gekoop het. 




Op pad terug het ons ‘n sable reg langs ‘n grensdraad gesien en in die kamp kon ons darem ook ‘n foto van die swart rooibokrammetjie kry.

Ons gaan vanaand saam met Neels en Joanne by die kampplek se boma braai en iewers in volgende week sal ons weer Bela-Bela toe vir proviand. Ons bly hier tot 3 April voor ons na Zeerust se kant toe beweeg.




Koffiekapitaal - tot volgende week!

Opmerkings

Jakkie het gesê …
Mooi enetjie Tania
Pieter het gesê …
Wow wat maak Jakobus op 03:16?
Mev well done. Jy skryf darem baie mooi.
Geniet die trip.
Hoekom het julle die Rooiberg bar gemis?

Gewilde plasings