DAMARALAND - THE ARID EDEN
Die eerste paar dae by Etosha Safari Camp het ons rustig verkeer en die nodige kamp-onderhoud gedoen (lees: klere was).
Etosha Safari Camp se restaurant en kroegarea |
Maar ons het uiteindelik kans gekry om die kerriehoender potjie te maak en dit was heerlik gewees. Daar was genoeg sodat ons die kos wat oorgebly het kon vries vir ‘n volgende ete, wat toe baie handig gewerk het vir die eerste aand by Twyfelfontein Tented Camp.
Die paaie in die park is erg sinkplaat, so ons het skud-skud
en rittel-rittel gesoek vir diere en op een dag meer as 200 km in die park gery.
Die park is ook baie droog want die jaar se reënval was nie genoeg nie, maar
dit maak dit makliker om diere te sien. Ons was bevoorreg om heelwat diere te
sien, maar geen van die groot roofdiere soos leeus nie.
Die lys van diere wat ons gesien het:
- Olifante
- Kameelperde
- ‘n Renoster
- Swart wildebeest
- Blou wildebeeste
- Zebras
- Gemsbokke
- Springbokke
- Rooi hartebeest
- Rooibokke
- Steenbokkies
- Jakkalse
- ‘n Roofarend (Aquila rapex)
- Sekretarisvoëls (Sagittarius serpentarius)
- Swartaasvoël (Torgos tracheliotus)
- Groot flamink (Phoenicopterus ruber)
- Volstruise (spesiaal vir Jakkie!)
Geen besoek aan Etosha is volledig sonder om by die Etosha
pan te stop nie… Elke keer wat ‘n mens reg langs die pan stop voel jy oorweldig
deur die absolute uitgestrektheid daarvan.
Ons het ook gestop by die Rietfontein watergat en toe ‘n entjie verder gery na die graf van die Alberts stammoeder, wat een van die Dorslandtrekker-gesinne was.
By Etosha Safari Camp daar ook baie Kaalwangkatlagters (Turdoides gymnogenys), wat net in die streek naby Etosha voorkom. Hulle het nogal hans geraak en daar by ons wa kom kuier. En daar was ook heelwat Mikstertbyvangers (Dicrurus adsimilis) wat elke dag vir ons ‘n vertoning gelewer het soos hulle agter die insekte aanvlieg en met baie presiese bewegings duck & dive. Van die voëls het soms onder die wa se awning deurgeskiet soos hulle insekte jaag – en dan moes ons koes. Daar was ook in die middae 'n gereelde groepie gebande muishonde (mongoose) wat op die gras kom wei het - nogal snaaks om hulle dop te hou.
Die ander groot migrasie by Etosha Safari Camp was die
buitelandse toeriste wat almal met die gehuurde 4x4 bakkies en rooftop tents
vir ‘n aand of twee intrek. Ons het nou al letterlik honderde van die bakkies
op die paaie en by kampplekke gesien. Dis ongelooflik gewild, veral onder die
Duitse en Franse toeriste.
Donderdagoggend was ons weer op die pad – die keer na Twyfelfontein.
Die pad na Khorixas |
Ons het eers in Outjo by die Spar gestop en toe ‘n lekker ontbyt by die Outjo Bakkery geniet. Daarna het ons die C39 gevat na Khorixas. Die eerste stop langs die pad was by die Vingerklip.
Dis die “tweede” Vingerklip, want die eerste, en destyds meer bekende, Vingerklip of Mukorob (Finger of God) in die suide van Namibië het in 1988 reeds omgeval. Die huidige Vingerklip is ‘n oorblyfsel van die Ugab Terrace wat seker maar deur miljoene jare se wind en water so uitgekalwe is. Op die pad sien jy ook baie en groot miershope.
Ons het vinnig in Khorixas gestop vir diesel en is toe met die grondpad na Twyfelfontein.
Op die pad van Khorixas na Twyfelfontein |
Ons kamp was ‘n effense verrassing, want die kamp het van plek geskuif en die mense was nog besig om weer die kamp op die been te bring. So dit was effense wild camping, maar die self was baie mooi.
Twyfelfontein Tented Camp |
Die uitsig van die toilet |
Opwas-area |
Toilet en stort |
Die mense het erken dat hulle nog ‘n bietjie skarrel met die fasiliteite en ons
het ‘n groot tent met ‘n bed in gekry om te gebruik.
Mense, dit was warm daar. Baie mooi, maar baie warm. Teen
17:00 in die middag is dit nog 40 ˚C en teen 20:00 koel dit af tot 30 ˚C.
Die verskriklike mooi landskap waarin ons was het effens opgemaak vir die
versengende hitte. Ook maar net-net!
Ons was by die National Heritage sites soos die Orrelpype en Brandberg – en het darem ook by die Twyfelfontein Country Lodge gestop vir iets kouds om te drink (Jan en Annelize sal die plek onthou). Die Lodge is gebou om versameling groot klippe met rotstekeninge wat bekend staan as Ceremony Rock.
Maar ai, die pad… Dit was weereens ‘n sinkplaatpad wat jou verstandtande sal
losskud! En vergeet van vinniger ry om die sinkplaat se skud makliker te maak,
want dis so erg dat daar aan beide kante van die pad nog paadjies uitgery is
sodat mense nie op die “hoofpad” hoef te ry nie. Die pad is in so ‘n slegte
toestand vandat ons in 2021 daar was, en die meeste van die grondpaaie in
Namibië
is in ‘n redelike goeie toestand, so wat die verskoning is vir daardie stuk pad
bly ‘n raaisel.
Na ons kamp by Twyfelfontein het ons op die D1262 gery in die rigting van die C35, oppad na Uis (uitgespreek Oeis, NIE Uis nie).
Die D1262 nadat die stuk teerpad ophou |
Traffic jam op die D1262 |
Ons het tussen die afdraai na Twyfelfontein en ongeveer 20 km in die rigting van die C35 die mooiste teerpad gehad – en toe hou dit op en is dit weer grondpad.
Die teerpad na die afdraai na Twyfelfontein - tussen niks en nêrens |
Vreemd, want om Twyfelfontein te bereik van
Khorixas of Uis af is dit grondpad, en tussein is daar ‘n 30 km stuk teerpad.
Ons het op die D1262 gestop om eerbied te toon aan 'n tradisie - ons het langs die pad gestop, (baie, baie droë) hout bymekaar gemaak en 'n vuurtjie gemaak. En toe 'n toeknypie gebraai. Net 'n paar stukkies boerewors, maar niks proe so lekker soos 'n toeknypie nie!
Na ons lekker geëet het, het ons grafies vol sand oor die kole gegooi om te sorg dat die vuur goed dood is en toe verder gery.
Die C35 was maar ook skud-skud, rittel-rittel met baie stof, maar ons het die Brandberg White Lady Lodge veilig bereik.
Ons ry teen Dinsdag weer verder, hierdie keer in die rigting
van Omaruru.
NS. Ons het nog nie die woestynolifante gesien nie, maar ons het wel die (goeie) weergawe van hulle gesien.
Opmerkings