HOU VAS, BOTSWANA - ONS KOM!
EAGLES NEST
Die laaste paar dae by Eagles Nest was rustig met die verskillende soorte diere wat deur die dag kom kuier het. Vroegoggend het ons die blesbokke hoor snork wat beteken het dat hulle deur die nag in die kamp geslaap het. Die makker koedoes het elke dag ‘n verskyning gemaak want hulle het geweet daar is laatmiddag ‘n happie lusern vir hulle. Jakkie het tydens sy draffies probeer om die nuwe, weekoue koedoekalfie en sy ma in die veld te sien, maar hulle was heeltemal te goed versteek. Natuurlik was die skape elke dag doenig met hulle rondtes deur die kamp.
Ons inwonende koggelmander het lekker tuis begin voel met ons teenwoordigheid.
Dié het later so gemaklik gevoel dat hy oor die grondseil geglip het om by die boom agter die wa uit te kom. Die koggelmander het elke dag in die een boom gesit en die groot miere een-vir-een geëet. En die voëls en eekhorings het elke oggend geduldig gewag tot ek die voëlsaad strooi voor hulle kom eet (en onder mekaar baklei) het.
Ek het Dinsdag vir oulaas die kamp se outomatiese wasmasjien
gebruik om ons klere en beddegoed te was (en ek het die washing powder sheets
waaraan Annelize my voorgestel het gebruik – dankie, Annie!). Dit vat baie
minder plek as die waspoeier of -vloeistof en werk soos ‘n bom. Maar, dis net
vir outomatiese masjiene, so ek sal meestal elbow grease en waspoeier gebruik
om die jockeys en sokkies te was.
Dinsdagoggend was Tertia en Frans van Eagles Nest albei weg
en die drie honde het by ons kom kuier. Omdat ons so vriendelik is én
omdat hulle geweet het dat ek vir hulle bacon-flavoured doggie snacks in die
dorp gekoop het.
(vlnr) Milo, Jock en Nikki 😊 |
Teen Dinsdagaand het ons die nodigste opgeslaan en weggepak
sodat die groot opslaan van die volgende oggend makliker sou verloop. Gedurende
die opslaan het Frans vinnig ‘n draai kom maak en ek het darem die kans gekry
om die laaste van die doggie snacks soos sweeties uit te deel. Ons het die tyd
by Eagles Nest werklik geniet en kon skaars glo dat die twee weke so vinnig
verby gevlieg het. Ons gaan definitief op ons pad terug in Oktober/November
weer daar kuier, en teen daai tyd sal my knie hopelik herstel het want daar is
‘n baie lekker trampoline wat in die parkie vir my wag!
OP DIE PAD NA KAREESPRUIT
Ons het nie deur Brits gery nie, maar eerder by Beestekraal
weggedraai – en genade, die teerpad het my herinner aan die teerpad tussen Marquard-Clocolan-Ladybrand
in die Oos-Vrystaat. Let wel, dis nog nie so erg soos die Ladybrand-pad nie,
maar dit beweeg vinnig in daardie rigting. Die rit op die pad het my laat dink
aan die Donkey Kong game wat my suster so graag in die vroeë
1980s gespeel het. (Dit was nie ons game nie, sy het dit by die bure se dogters
geleen… Ons moes onsself vermaak met Monopoly, Cluedo, kaarte, swing ball en om
my ma se stoepplante water te gee.)
Ons is uiteindelik deur Rustenburg (die plek laat dink my
aan ‘n antie wat Courtleighs kettingrook en wie se onderrok uithang). Die
Platinum highway (N4) buite Rustenburg is natuurlik ‘n heeltemal ander saak,
dit word perfek onderhou.
Ons het in Swartruggens by ‘n padstal en koffiewinkel gestop om ietsie te eet (want die Bovril-en-kaasbroodjie en oorskiet boerewors as padkos was nie genoeg om Jakkie se knaagdier stil te maak nie).
Dit was so ‘n
mooi plekkie, dit het die mooiste dekor en tuin. Die gangetjie na die badkamers
het ‘n versameling ou skyfies teen ‘n ligboks – en mense wat my regtig goed ken
weet hoe lief ek vir my ouers se versameling skyfies is. Net voor ons klaar was
met ons ete het ‘n regte klein kapokhaantjie deur die tuin gestap en ons laat
giggel want hy het by die vetplante op ‘n rakkie gaan staan en
vlerke-styf-teen-die-sy gestaan om te spring sodat hy van die vetplante se blare kon
bykom. Dit was te koddig, amper soos ‘n kort en baie onbeholpe Maasai-kryger
wat probeer spring.
Die doggie telegram het gewerk en ons het weer hondjie-besoekers gekry. Die keer 'n Beagle en Wire Haired Jack Russel (wel, dis wat sy veronderstel is om te wees...) Hulle twee kom maak hulleself elke nou en dan tuis hier by ons kamp.
Die naweek was baie lekker want Jan en Annelize het ons verras en besluit om Saterdagoggend vroeg deur te ry vir ‘n kuier. Hulle het die hele Saterdag en die helfte van vandag hier gekuier en dit was ‘n fees! Die weer was koelerig en dit het met tye gereën, maar dit het ons nie gekeer nie. Jan het Saterdagmiddag begin om die roosterkoeke vir die aand se braai voor te berei en later die aand het ons heerlik gesmul.
Roosterkoeke - amper gereed vir dik botter en konfyt! |
Teen vanaand gaan dit weer reën en koud wees, so Jakkie gaan
heel moontlik bederf word met pannekoek! Hier is ook ‘n baie mooi disabled
badkamer – met ‘n groot en fancy losstaande bad wat ek van gebruik gaan maak want ons stort net en ‘n lekker bad is nou ‘n luukse.
Ons is by Kareespruit tot Woensdagoggend toe want dan vat ons
die laaste 50km na die Skilpadshek grenspos toe. Ons sal soveel moontlik al
Dinsdagaand opslaan en wegpak sodat ons so vroeg moontlik Woensdagoggend kan
vertrek, want ons weet nie hoe lank dit by die grensposte sal neem nie en in
Botswana moet jy seker maak om nie die spoedgrense te oorskrei nie, hulle is ‘n
wetsgehoorsame land en baie streng oor dit.
Soos genoem slaap ons vir nou net een aand in Botswana oor en teen Donderdag behoort ons by Buitepos oor die Namibiese grens te gaan. Ons sal by my neef, Deon, en sy familie by Eastgate Rest Camp kuier vir 'n dag of twee voor ons verder toer.
NS: Carina, jy het so lekker die Macarena in Zanzibar gedans, en die onderstaande foto van die meerkat beeldjie by Eagles Nest het my van die eerste dag laat dink dat hy die Macarena dans. Gepas, of hoe?
Opmerkings