SPACE INVASION

 




By die Meteorite Rest Camp het ons Sondagaand weer die kaart oopgesprei en besluit oor die rigting wat ons volgende sou inslaan. Terwyl ons besig was met die beplanning het die Jack Russel, Lexi, se regte maatjie ook by ons ‘n draai kom maak – ‘n jong Beagle met die naam van Luna. Lexi was effe besitlik teenoor ons, so asof sy vir Luna laat verstaan dat sy “eerste” met ons maats gemaak het.

Luna, die Beagle

Lexi maak haar tuis op Jakkie se skoot, gereed vir 'n happie beskuit

Maandagoggend het ons na die baie bekende Hoba meteoriet gery, wat so 4 km van ons kamp af geleë is.


 

Die meteoriet van naby - dis 'n soliede stuk metaal

 



Ons is toeriste - dis ons verskoning!


Dit word geskat dat die meteoriet, wat meer as 50 ton weeg, die aarde ongeveer 80 000 jaar gelede getref het. Die naam van die meteoriet verwys na die plaas, Hoba-Wes, waar dit ontdek is.



En omdat dit uit meer as 80% yster bestaan, 3 meter lank is en so ongelooflik swaar is, het niemand nog ooit probeer om dit te verskuif nie (of probeer steel en aan ‘n scrap metal dealer probeer verkoop nie). 

Dis regtig iets om te sien – om te dink dat dit ‘n stuk “celestial garbage” is wat Namibië getref toe die wêreld definitief anders gelyk het. Daar is natuurlik die heelwat kleiner Gibeon meteoriete ook, wat Namibië ongeveer 600 miljoen jaar gelede getref het, en tans in Windhoek uitgestal word.

Na ons besoek is ons Grootfontein toe en het vinnig ‘n draai by die “mall” gemaak om proviand te koop. Ons kon die afgelope twee weke nie verstaan hoekom amper geen winkel in Namibië vars hoendervleis beskikbaar het nie, maar dis as gevolg van die voëlgriep wat in Suid-Afrika teenwoordig is. Dus word geen hoendervleis uit Suid-Afrika ingevoer nie en slegs hoendervleis wat van Namibië afkomstig is word in die winkels verkoop. Dit beteken die vleis is skaars en duurder as rooivleis. Rooivleis is een van Namibië se grootste uitvoerprodukte na Europa en die land is baie streng om enige uitbreking van veesiektes te verhoed – dis hoekom die land al jare lank die sogenaamde “Rooilyn” in die Noorde van die land handhaaf. 

Die Rooilyn is ‘n veeartsenykundige kordonheining met beheerpunte om die beweging van rou rooivleis van Noord na Suid te keer. So jy kan bv. rou rooivleis (wors, steak, tjops ens) verby die beheerpunte neem soos jy Noord reis, maar jy kan dit nie weer Suid bring nie, tensy dit gaar is. Die beheerpunte se personeel is baie streng en sal alles in jou voertuig ondersoek om seker te maak dat niks deurgaan nie.

Die middag het Jakkie my hulp ingespan om die stone guard vir die Fortuner weer op te sit. Dit was nogal ‘n gesukkel en ‘n gestoei om die ding te laat pas en vas te kry, maar eerder dit as wat ons dalk met ‘n stukkende agterruit moet ry omdat ‘n klip dit op die grondpaaie getref het. Ons het ons kuier by die Meteorite Rest Camp afgesluit deur lekker Eastgate tjoppies te braai.

Ons volgende kampplek was 12 km buite Otavi, maar eers het ons die pad na Tsumeb gevat om ‘n draai by die Otjikoto-meer te maak. 





Dis ongeveer 20 km noordwes van Tsumeb en is een van twee permanente “mere” in Namibië. Die meer het gevorm toe die plafon van ‘n baie groot waterhoudende grot ingesak het en die water is aanvanklik met ‘n groot Victoriaanse stoomaangedrewe turbine na die kopermyne van Tsumeb gepomp. Die Herero naam “Otjikoto” beteken groot water en vandag is dit ‘n historiese landmark. 

Die oorblyfsels van die stoomaangedrewe turbine by Otjikoto

Die diepte van die meer is tot op 145 meter gemeet maar die amptelike diepte is nog nooit vasgestel nie omdat daar so baie onderwater tonnels is wat duikers nie veilig kan verken nie. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was die land nog ‘n Duitse kolonie en die Suid-Afrikaanse weermag het as deel van die Geallieerde magte in Duitswes teen die Duitse bewind geveg. In 1915 het die Duitse troepe groot hoeveelhede gewere, ammunisie en selfs kanonne in Otjikoto gegooi om dit uit die hande van die Suid-Afrikaanse magte te hou. In die afgelope paar dekades het duikers van die ou wapens uit die meer verwyder om te restoureer en in die Tsumeb museum uit te stal. Maar dis ‘n groot werk en ook baie gevaarlik, so tans is daar nog heelwat wapens wat in die meer rus – ook ‘n geslote kluis waarvan niemand die inhoud kan raai nie. 

Otjikoto word ook gekoppel aan tragedie - die jong posmeester van Tsumeb wat in 1927 saam met sy vriende in die meer gaan swem en verdrink het. Sy lyk is nooit gevind nie en nog geen duiker het in al die jare enige van sy gebeendere gevind nie.

Die gedenkplaat

OTAVI VINEYARDS

Van die meer af is ons na Otavi Vineyards waar ons die volgende drie nagte gebly het. 








Die plaas produseer rooi- en witwyn op ‘n klein skaal en het ook ‘n proelokaal. Wie sou nou kon raai dat daar ‘n wynplaas tussen die berge rondom Otavi kan wees? Die Boshoff familie noem die wyne “Katholischer”, wat verwys na die groep Duitse Katolieke priesters wat meer as 100 jaar gelede wyn en selfs Schnapps in Windhoek gemaak het. Ek het Woensdag verjaar en ‘n bietjie van die wit Katholischer gedrink terwyl Jakkie vir ons ‘n absoluut heerlike staanrib gebraai het.







Die kamp is ryk aan voëllewe en ons het fluks gemerk in ons kopie van Sasol Voëls van Suider-Afrika. Behalwe vir die wyndruiwe het die plaas ook ‘n troppie skape wat heeldag en aldag rondwei, so tussen die kampplekke ook.


ETOSHA SAFARI CAMP

Vanaf Otavi Vineyards het ons eers gou by die Otjiwarongo Superspar gestop om proviand te koop, want by Etosha is daar nie regtig winkels nie en die kos word teen ‘n toeriste-premie verkoop. Die Spar het darem vars hoenderporsies gehad, so nou kan ons uiteindelik die lang-verwagte kerriehoenderpotjie maak.



Ons het in Outjo (Jakkie se geboortedorp) by die bakkery gestop vir ‘n vars brötchen en koffie voor ons tot by die Etosha Safari Camp gery het. Die kamp is deel van die Gondwana-groep en met ons Gondwana-kaarte kon ons goeie afslag op die verblyf kry. 






Die kamp is ongeveer 10 km suid van Etosha Nasionale Park se Okaukuejo ingang, wat toevallig ook een van die Rooilyn se beheerpunte is. Ons kamp hier tot Donderdag en daar is ‘n dag of twee wat ons in Etosha self sal spandeer. Die kampfooie in Etosha is belaglik duur en dit is goedkoper om buite te kamp en eerder dagfooie te betaal om die park te besoek.

 


NS. Die week het ook sy opwinding gehad toe iets my Donderdagoggend in my nek gesteek of gebyt het – ons dink dit was moontlik ‘n spinnekop. Ons het ewe niksvermoedend by die wa koffie gedrink, maar toe het ek vreeslik begin jeuk en ‘n uitslag ontwikkel. Jakkie het bietjie geskrik en ons moes in die eerstehulp tassie krap vir Celestamine want die uitslag het in ‘n allergiese reaksie ontaard. Maar met die pille en genoeg salf het ek ophou probeer krap. Dit het ‘n dag of twee geneem om heeltemal te verdwyn, maar nou is die allergiese reaksie verby en die uitslag weg.


Opmerkings

Gewilde plasings