ALL ROADS LEAD TO WINDHOEK

 


 

Die sonsondergang by Farm Prospect

Maandagoggend het ons rustig opgepak en vir oulaaste die rowwe pad teen die helling uit gevat na die C28. Die onderste video wys hoe 'n goed-gestookte donkie moet werk! Die mense van Harmonie C28 weet hoe dinge werk!



Dit is regtig ‘n mooi omgewing my wye uitsigte omdat die pad deur die Khomas Hochland kronkel.


Die meeste van Namibië se grondpaaie is baie beter as SA se teerpaaie, te danke aan die ouens en hulle padskrapers se harde werk


Ons het wel op die pad terug Windhoek toe by die Von François Feste (of Fort), ongeveer 50 km wes van Windhoek, gestop. Die fort is die oorblyfsels van ‘n militêre vesting wat in 1890 deur Majoor Curt von François, ‘n bevelvoerder van die Duitse Schutztruppe, gebou is. 









Hy het besluit om sy hoofkwartier van Tsaobis na Windhoek geskuif en het die fort gebou om as halfweghuis tussen die twee plekke te dien. Die fort was ook later 'n “trocken post” of plek om “uit te droog” vir Duitse Schutztruppe wat te veel in Windhoek gedrink en moeilikheid gemaak het. Die fort is net met klip as boumateriaal bo-op ‘n effense koppie gebou en het baie mooi uitsigte oor die hoogland.


Skietgate om die vyand te keer




Vergete vakmanskap - geen sement nie, net klip, maar die mure staan sedert 1890


Curt von François was ‘n gerekende militêre leier vir die Duitse koloniale ryk en daar het tot baie onlangs ‘n standbeeld van hom in Windhoek gestaan. Maar, soos met meeste eertydse koloniale leiers, is die standbeeld deur die huidige Namibiese regering verwyder.

Ons volgende kampplek was by Farm Prospect, wat op die C26 geleë is. Dis die grondpad wat tussen Windhoek en Walvisbaai loop – en natuurlik na die Namib Naukluft Park. Ons kampplek was ongeveer 50km buite Windhoek want ons moes sorg dat ons in die Windhoek omgewing bly om Saterdag te gaan stem. 



 




Die kamp is op ‘n plaas en natuurlik was ons vermaak deur die skape, boerbokke en perde. Soos te verwagte was daar plaashonde en hulle het elke dag by ons kom kuier. 

Bella

Muffin - effense misbakseltjie 😊

Zeis


Zeis, die rifrug, het elke dag, die hele dag by ons gekuier. Bella, die Labrador en Muffin, die misbakseltjie, het net so af en toe ‘n draai kom maak.
Zeis, het ook een oggend saam met Jakkie gaan draf, alhoewel hy meer vir Jakkie opgehou het want Jakkie moes gereeld stop om eers duwweltjies uit Zeis se pote te haal. Of Jakkie moes stop om met Zeis te raas omdat hy die skape rondjaag. Hy is die jongste (en die grootste) van die honde, maar hy is regtig die grootste sweetheart.

Ons het een middag rustig in die wa gelê en toe ons weer kyk is Zeis nie net in die wa nie, sommer ook op die bed.

Wat bedoel jy? Moet ek afklim??


Jakkie moes noodgedwonge van die bed afklim terwyl Zeis op Jakkie se kussing kwyl. Jakkie het uiteindelik vir Zeis uit die wa gekry, maar toe draai die hond om en spring sommer weer op die bed – die keer het hy by my voete kom wegkruip. Dis soos om ‘n derde grootmens op die bed te hê!



Die perde het elke agtermiddag van die stalle af na die droë rivierloop galop en óf in die stof óf in die vlak water van die dam gerol. Daarna het hulle wye draaie deur die veld galop voor die klomp weer terug stalle toe is.





Jakkie en Zeis gesels kopstukke en los die wêreld se probleme op

Ons is Donderdag weer terug Windhoek toe, want toe ons vir die buitelandse stem geregistreer het, was die datums as 17 en 18 Mei gelys. Dus het ons gedink ons sou al 17 Mei kon stem maar toe hoor ons die stemdag in Windhoek is net op 18 Mei. 

Die pad na Walvisbaai oor die Us pas




Ons het by die Arebbusch Travel Lodge gestaan, wat baie netjies is, maar ideaal is vir ‘n vinnige oorstaan. Die fasiliteite is regtig mooi en skoon, maar dis baie naby aan die hoofweg so daar is konstante verkeersgeraas. Maar nou ja…





Vrydagvoormiddag het ons by die Namibiese Ministry of Home Affairs & Immigration gestop om 100% seker te maak wat ons nodig het om laat in Junie aansoek te doen om ons visum te verleng met ‘n verdere 3 maande. Ek weet dis seker nie die geval by alle Namibiese binnelandse sake nie, maar hierdie een het ons beïndruk want dit was modern, skoon en het doeltreffend gewerk. Dit verskil hemelsbreed met die kantore van Binnelandse Sake in Gauteng!

Ons is Saterdagvoormiddag na die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissie om te gaan stem – en dit het ‘n totaal van 10 minute geneem om te parkeer, ons IDs te wys, ons kruisie te trek, en weer te ry. Alhoewel ons net ‘n nasionale stem kon plaas, wat ons eintlik bly dat ons nie op 29 Mei in die ry hoef te gaan staan nie.



Toe is ons weer na Windhoek se Grove Mall om proviand by Food Lovers Market vir die volgende gedeelte van die toer te koop. Ons moes natuurlik ook ietsie by die Hartlief Deli eet – en dit was regtig die moeite werd!



Die Fortuner se neus staan nou suide toe. Ons volgende stop is net buite Stampriet, dan Koës en dan Keetmanshoop waar die Fortuner gediens sal word. Die volgende paar weke gaan ons so ver suid soos Aussenkehr (op die Oranjerivier) en dan Lüderitz voor ons stadig-stadig terugtoer na Windhoek om betyds te wees vir Carina se vlug wat 17 Junie in Windhoek land!

Opmerkings

Gewilde plasings