PEOPLE OF THE SOUTH

 

 



Ons tyd in Windhoek het teen Sondag (vir eers) tot ‘n einde gekom en ons het die pad suide toe begin. Die eerste gedeelte van die pad uit Windhoek was die B1 wat die hoofroete is tot by die Noordoewer/Vioolsdrif grenspos met Suid-Afrika. Ons eerste stop was in Rehoboth, wat die tuiste is van die Rehoboth Basters. Die dorp is in 1871 gestig en die Basters is afstammelinge van Namas en wit koloniale boere uit die ou Kaapkolonie. Ons het die Fortuner volgemaak en die wiele se druk verminder, want die volgende paar honderd kilometer was grondpad.

Die C25 grondpad uit Rehoboth in die rigting van Uhlenhorst was in ‘n baie goeie toestand en ons het toe reeds tekens van die rooi Kalahari duine gesien. 



By Uhlenhorst het ons weggedraai op die C15 in die rigting van Hoachanas en Stamriet, en net daar, by die afdraai was die hoogtepunt van my dag: ‘n bordjie wat die rigting aandui na ‘n plek met die naam van Derm. 



Ek bedoel, ‘n nedersetting met die naam van Derm?

Terug op die pad het dit nie lank gevat voor ‘n vreeslike hongerte vir Jakkie oorval het nie, wat beteken het ons moes stop om ‘n toebroodjie te maak. 



'n Versamelnes in 'n kameeldoringboom



Dit het ‘n tydjie gevat, want ek moes eers die botter uit die yskas haal en in die son laat sag word, maar dit was die lekkerste peanut butter en heuning broodjie in ‘n lang tyd!

Stampriet is ‘n klein, maar interessante plekkie. 



Bly kalm, Jakkie gaan nou braai!

Sonsondergang in Stampriet


Ons het by die Gondwana Kalahari Farmhouse gekamp. Kalahari Farmhouse grens amper aan die Elnatan Privaatskool in Stampriet. Dis ‘n hoog-aangeskrewe skool in Namibië, want dis een van die min Namibiese skole wat Afrikaans as onderrigmedium tot matriek aanbied. En die skool het ‘n koshuis, so daar is kinders van reg oor die land wat daar skoolgaan.

Stampriet self lyk nie na veel nie, dis in ‘n baie droë area, maar die Stampriet Waterdraer (aquifer) loop deur die area, so ondergrondse water is nie ‘n probleem nie. Daar word geskat dat die omgewing se boorgate soms soveel as 3,5 miljoen liter per dag kan lewer! Die Kalahari Farmhouse het ‘n plaas op die perseel wat sekere vars produkte vir die hele Gondwana groep in Namibië kweek. Die plaaslike skole kweek ook groente en verkoop dit in die dorp. Daar is ook ‘n baie interessante ontwikkeling buite die dorp, Roots (https://rootsnamibia.com/) wat ‘n landbou-gemeenskap is en heelwat vars produkte vir Namibië kweek. Die idee daarvan het my laat dink aan die kibbutz en moshav landboukonsepte in Israel – en glo my, ek en Anél het in Israel soos plaasvolk op beide ‘n kibbutz en moshav gewerk.

Ons het darem ook ‘n draai deur die dorp gery. Dit het glad nie lank gevat nie.



Stof, stof en nogmaals stof!



Die volgende stop was DuneSong Breather, op ‘n plaas ongeveer 20 km duskant die dorpie Koës (uitgespreek Koois). Ons was baie opgewonde oor die kampplek en ons was glad nie teleurgesteld nie. Net een groep word op ‘n slag by die kampplek bespreek, so ons was alleen daar gewees. Die kamp is ongeveer 3 km van die plaashuis af, maar dis deur die rooi duine, so ons moes eers stop om die wiele se druk tot 1 bar te verminder. En toe het ons spoed gebou en is ons met die wa teen die laaste duin op. Die Fortuner en Bushlapa het dit gemaak, maar ek moet erken . Daar was ‘n sekonde of twee waar ons gedink het die Fortuner gaan begin sand grawe, maar toe het die bestuurder en die Toyota weereens hulle vernuf bewys.

Die ligging en die kamp self is regtig spesiaal.





Jy is alleen in die veld en tussen die rooi duine. Daar is sonkrag vir die yskaste, maar die leefarea, kombuis en badkamer maak van die Consol solar lanterns gebruik. 




Kombuisarea

Kombuisarea

As die son sak skakel die lanterns aan en dit voel of jou leefwéreld deur vuurvliegies omring is. 




Behalwe vir die natuurklanke is daar absolute stilte, wat nogal ‘n luukse in die moderne lewe is. Die maan was amper vol gewees met ons besoek, so die sterre was nie so helder sigbaar nie, maar met donkermaan sal die uitspansel ‘n absolute fees vir die oog wees.

Natuurlik kan ek nie DuneSong noem sonder om te praat oor die unieke toilet nie. 

Badkamer van buite

Stort

Wat 'n mooi wasbak!


Die badkamer en toilet is apart en die toiletarea het nie ‘n deur nie – wat beteken dat jy die mooiste uitsig oor die veld het terwyl jy die troon gebruik. 



Die toilet

Die uitsig!

Wat ‘n voorreg!

Ons het die laaste aand ‘n draai gery na ‘n uitkykpunt wat ongeveer 8 km van die kampplek is. Daar kan jy vir kilometers ver sien en dit sal die ideale plek wees om ‘n naderende donderstorm dop te hou. 






Ons was nou nie so bevoorreg nie, maar ons het die volmaan sien opkom en kon die sonsondergang sien vanaf die uitkykpunt.





Die oggend van ons vertrek het ons eers by die plaashuis gestop om die boer se compressor vir die bande te gebruik en toe is ons Koës toe. Dis nie ‘n baie groot dorpie nie, maar ons het vir ontbyt by die Moer Toe Coffee Shop gestop. 






Die mense (en diere) is baie vriendelik en altyd gereed met lekker kos en ‘n geselsie. 

Buksie

Veral Buksie, die bejaarde Foxterrier, wat stil-stil gebedel het vir happies kaas.

Die grondpad Keetmanshoop toe was in goeie toestand, maar ai, die onophoudbare poeierfyn stof! Keetmanshoop is ‘n groterige en besige dorp wat al die klein dorpies in die omgewing bedien, maar dit kan nie regtig as mooi beskryf word nie.

Ons het buite Keetmanshoop gekamp en alhoewel die kamp reg langs die besige B1 geleë is, was dit voldoende vir ons vereistes. 



Keetmanshoop volmaan

Keetmanshoop sonsondergang


Ons is die volgende oggend vroeg Keetmanshoop toe vir die Fortuner se diens en het vir ‘n paar uur die dorp bietjie verken. Na die diens was die Fortuner so skoon (vir die eerste keer in maande) dat ons dit amper nie herken het nie! 




Ek was so opgewonde om vir ‘n dag of twee nie die fyn stof tevergeefs uit al die hoekies te probeer vee nie.

By die kamp was ons ook verwelkom deur Jessica, die boerboel en selfaangestelde sekuriteitswag. 




Sy het lekker by ons gekuier tot Jakkie die hordes muskiete met die elektriese raket begin jag het. Toe het Jessica besluit sy sal op ‘n afstand waghou. Snaaks dat die honde die elektriese raket se geluid so haat – Lienkie was ook baie bang vir die geluid.

Tyd in Keetmanshoop beteken ook ‘n besoek aan die Quivertree Forest en Giants Playground. 







Dis 14 km buite die dorp op die plaas Gariganus geleë en die kokerboomwoud is tot ‘n nasionale monument in 1995 verklaar. Die “woud” is nie aangeplant nie en daar word geskat dat die grootste kokerbome in die woud tussen 200 tot 300 jaar oud is. 





Die dassie wonder waaroor die bohaai gaan

'n Versamelnes in 'n kokerboom

Dit lyk of die onderkant van die boom oor die klippe smelt

Die kokerboom is baie belangrik in die San kultuur want die groot takke word tradisioneel uitgehol om kokers vir die Boesmans se gifpyle te maak.


Geleerde geolo
ë verwys na Giants Playground as verweerde “dolerite dykes” wat deel is van die “dolerite swarm”. Die “dolerite swarm” buite Keetmanshoop, wat ongeveer 18 000 km² groot is, het ongeveer 180 miljoen jaar gelede ontstaan toe die Gondwarna superkontinent begin opbreek en gesmelte magma deur die aardkors gedruk het. 








Met die basiese agtergrond is Giants Playground eenvoudig asemrowend. Die groot klipformasies lê al vir duisende (of miljoene!) jare net so en al wat dit oor baie, baie jare van vorm laat verander het is erosie deur wind en water. 








Dis asof ‘n mens deur ‘n magiese landskap van klipformasies stap wat uit verskillende hoeke van vorm verander. En die plek is so groot en strek so ver dat sommige mense al daar verdwaal het.

NS. Ons is nou waarlik in die suide van Namibië en dorre landskap wys dit. Die Fortuner se neus ry vir die volgende paar weke nog steeds verder suid, hierdie keer na plekke soos Canyon Roadhouse, Ai-Ais, Visrivier Canyon, Aussenkehr, Aus en Lüderitz. 

Opmerkings

Gewilde plasings