SWEM DAT DIE STOF SO STAAN

 




Iemand het 'n sin vir humor, want die Ugab het jare laas water gesien


Die dae by die Brandberg White Lady Lodge was weereens warm. Baie, baie warm. Die temperatuur is nie teen 12:00 of 13:00 die warmste nie, nee, die kwik styg tot 39 ˚C tussen 16:00 en 17:00. Dan eers begin dit afkoel, so ons het in die middae in die Lodge se swembad gaan afkoel en na die toeriste gekyk. 

Die swembadarea - sonder die ekstra-ekstra wit toeriste

Persoonlik kan ek nie verstaan dat ‘n Duitser of Nederlander vir ‘n week al in Namibië kan wees maar nog absoluut geen kleur op sy of haar lyf het nie. En ja, rooi is ook ‘n kleur. Miskien gebruik hulle 80 faktor sonroom. Al wat ek weet is dat ek my sonbril moes aanhou want hulle skelwit velle het my korneas gebrand.

Daar was wel genoeg vermaak by die swembad want die Lodge het twee mak meerkatte, Jack en Milla, wat saam met almal op die gras langs die swembad uitspan. Die twee is lekker hans – hulle gaan lê ewe gemaklik langs die mense op hulle handdoeke. En in die kroeg is daar Peanut, ‘n African Grey papegaai, wat my darem toegelaat het om sy koppie te krap (sonder om my te probeer byt, soos Pi en Pippie graag probeer).




Die staanplekke is baie ruim, so daar is genoeg plek vir heelwat mense per staanplek, en alhoewel daar groot bome is sal groot groepe nie almal ewe veel skaduwee kry nie. Die ablusieblokke is opelug sonder ‘n dak en die warm water word met ‘n donkie gestook. Die ablusie het solar spreiligte wat saans aanskakel, maar dit lok weer hordes klein sprinkane. Ons het een aand gaan stort en ons moes behoorlik koes om ordentlik te stort.

Een ding is seker - die plek het die mooiste sonsondergange!



Die Brandberge met sonsopkoms

Ons het ook ‘n vinnige draai in Uis gaan maak vir brandstof en ys – omdat dit Sondag was het die stadsvaders die dorp se strate opgerol en die enigste winkel was toe, maar ek kon darem die laaste sakkie ys en Jakkie ‘n sak lekker braaihout by die petrolstasie kry.



Daarna het ons ‘n draai gemaak by die Cactus & Coffee Shop, reg langs die Duareb Isib kampplek waar ons in 2021 gekamp het.



Daar is ook heelwat voëls by die Brandberg White Lady Lodge maar ons het die arme goed jammer gekry want tot hulle het warm gekry. Al die voëls het een of ander tyd gedurende die middae in die bome gesit met bekke wat oophang so ons het maar ‘n bakkie water neergesit met die hoop dat dit hulle sal help. 

Die laaste dag van ons verblyf het ons vroeg die oggend in die droë rivierloop van die Ugab afgery, op soek na die skaars woestynolifante wat ons so ontwyk. Ons het vir 35 km (70 km in totaal) in die rivierloop afgery en dit is verbasend om te sien hoe die plantegroei verander van droog na kaal rotswande na moerasagtig en weer droog. 







Ons was nie gelukkig genoeg om die olifante te sien nie, maar ons het wel heelwat hope olifantepoef gesien. Ek het vir Jakkie aangeraai om ‘n paar bolle op te tel want die droë bolle werk baie goed om ‘n braaivleisvuur aan die gang te kry. Hoekom vir Blitz betaal as die ideale vuuraanstekers verniet rondlê? Ongelukkig is my voorstel nie gunstig ontvang nie en ek moes my planne van olifantpoef bymekaarmaak laat vaar.

Die rivierloop is vol groot bome waarvan sommige omgeval het na die rivier ongeveer 3 jaar gelede in vloed was. Jakkie was meer ten gunste van hout bymekaar maak, want daar lê verskriklik baie droë boomtakke rond en soos met ons toeknypie van verlede week weet ons dat die takke kurkdroog is. Maar helaas, die Fortuner is volgepak en ons wou nie met ‘n halwe boom op die roof rack by die kamp arriveer nie.

Ons het op die roete ook twee gedenkbordjies gesien van mense wie se as seker in die rivierloop gestrooi is.




Dit was regtig ‘n baie lekker uitstappie waar die Fortuner en Jakkie se bestuursvernuf getoets is omdat groot dele van die roete deur dik sand was. Ons het by die omdraaipunt van die roete eers gestop en ‘n koue G&T geniet voor ons weer terug is kamp toe.

Jakkie het gesorg vir die verversings

Hoe die bome in die klipbanke aan die lewe bly is 'n raaisel...



Dinsdagoggend het ons die Fortuner se neus gedraai in die rigting van Omaruru. Die C36 tussen Uis en Omaruru is grondpad, maar vir ‘n verandering was dit ‘n goeie, maklik rybare grondpad en ons het toevallig verby die padskraper gery, besig om die pad te skraap.

'n Bekende gesig op Namibiese grondpaaie

Na die lekker grondpad het ons weer ‘n minder aangename grondpad gekry – dis die pad uit Omaruru na die Erongo Plateau Camp waar ons volgende gekamp het. 




Die paadjie van die afdraai na die kamp is baie klipperig en dit raak met tye styl opdraande, so ons het stadig gery. Maar die kamp self het baie mooi vergoed vir die ruwe grondpad. Dis teen die koppe en die uitsig strek tot by die horison. 


So wyd soos die Heer se genade

Sonsopkoms

Sonsondergang



Daar is nie krag nie, so ons sonpanele het weer goed gewerk. Erongo Plateau Camp was die derde opeenvolgende kampplek sonder krag, so die gebruik van ons sonpanele het al roetine geword.

Die spinnekop het homself ewe tuisgemaak op ons sonpaneel

Die kampplekke is gemaklik en die ablusie skoon en modern, al is daar kerse teen die muur vir lig en word die water met ‘n donkie gestook.

Die kamp is geleë op Farm Eileen, die eienaars is boerbokstoettelers, maar volgens Jakkie boer hulle met klippe, want daar is oral net klippe...




Die eerste aand het ons die sonsondergang bewonder en ‘n lamsnekpotjie gemaak – in die styl van tamatiebredie. 



Dit was so ‘n rustige aand, omring deur stilte, die mooiste natuur en later die aand die sterrehemel wat ons asems weggeslaan het. Laat die middag het iets anders Jakkie se asem weggeslaan toe hy ‘n sluk van sy Clausthaler vat en ‘n by hom binne-in sy mond op sy onderlip steek. Ek moes inderhaas die tweezers uithaal om die angel uit te trek, maar Jakkie is ten minste nie allergies vir bysteke nie en sy lip het nie opgeswel nie.

Die volgende dag het ons die slegte grondpad weer aangedurf en die Erongo Mountain Winery, so 5km buite die dorp, besoek.



Die kelder se druiwe word van Stellenbosch en die Paarl af ingery, maar die wyn word op die plaas gemaak en gebottel. Die plaas self het vir ‘n lang ruk hul eie wingerde gehad, maar die ondergrondse water van die droë Omaruru rivier het baie min geraak gedurende die droogte (en seker ook as gevolg van die mynbedrywighede hoër op in die rivier), so die wingerde is tans buite aksie. Maar die wyn is lekker! 





Die kelder produseer ook verskillende style whiskey – maar in die geval gebruik hulle droë olifantpoef om die graansoorte wat in die whiskey proses gebruik word te droog. In Skotland word turf (peat) gebruik om die grane te droog, maar in Namibië kleur hulle buite die lyne in. (Ek het geweet ek moes harder probeer het in die rivierloop om die olifantbolle bymekaar te maak!) 

Ons het ook ‘n heerlike salm slaai by die wynplaas geëet. 



Dit was regtig lekker, want dit was nie net ‘n afskeep-slaai met Iceberg lettuce, ‘n paar stukkies tamatie en skyfies komkommer nie. Die kombuis het moeite gedoen en in die dorre landskap was dit eerlikwaar ‘n plesier!

Daarna het ons ‘n vinnige draai by Franke Toring gaan maak, wat gebou is ter ere van Kaptein Victor Franke, 

Franke Tower

Die perd wonder waaroor die bohaai gaan

Gedurende die 1904-1905 Herero opstand teen die Duitse koloniale mag het die Hereros, onder leiding van hoofman Manassa, die dorp van Omaruru aangeval. Franke was die hoof van ‘n Schutztruppe kommando wat met sy commando uit die Suide van Namibië opgeruk het en die dorp kom bevry het. Die dankbare inwoners van Omaruru het die toring in 1908 opgerig om Franke vir sy dapperheid te bedank. (Die Herero en Nama opstand was ‘n baie donker tyd in die geskiedenis van Namibië want die Duitse magte het die Hereros as nasie amper uitgewis. Ek sal dit weer noem as ons ‘n draai maak by Lüderitz se Shark Island (of Death Island) wat tussen 1904-1908 as Herero en Nama konsentrasiekamp gebruik is.):

Terloops, Omaruru is die enigste Namibiese dorp wat nie aan die NamWater netwerk gekoppel is nie. Die dorp se water is afkomstig uit boorgate in die Omaruru rivier en word deur die munisipaliteit bestuur.

Ons het ook ‘n gestop by Die Windpomp Slaghuis & Deli in Omaruru om braaivoorraad aan te vul. Ek het die oulikste onderbroeke daar sien hang en wou baie graag een vir Jakkie aanskaf, maar hy het net gebloos en geweier. 



Hoe meer hy gebloos het, hoe harder het ek gelag. Tot die vrou agter die till het later begin lag vir sy ongemak!

Een ding van die kamp op die plato – ons internet en selfoonsein was onverbeterlik! Ongelukkig het ons die laaste aand met ‘n skok besef dat ons data amper op is en ek het probeer om met die MTC app nog data te koop. Ongelukkig wou die app nie mooi saamwerk nie en ons het besluit om weer die volgende oggend te probeer. Die volgende oggend het dinge glad verloop, tot Jakkie die aankoop op sy ABSA app moes goedkeur. Eers het sy app begin met ‘n update – en voor die update kon voltooi was die data heeltemal klaar. Ons moes in elk geval Omaruru toe ry om die Fortuner en die wa se bande te pomp, so toe moes ek inderhaas maar by die Shoprite USave ‘n noodvoorraad Gigs koop. Nou is ons (vir eers) weer op die lug.

Na Erongo Plateau Camp het ons gesukkel om kampplek in die Okahandja omgewing te kry want baie van die plekke was reeds vol. Teen my sin het ek toe ‘n kans gevat met Gross Barmen, wat ‘n Namibia Wildlife Resort is. Ek hou niks van NWR se oorde nie, want dis duur vir wat jy kry en die plekke word vir jare al glad nie goed onderhou nie. Ons het ook baie onlangs negatiewe kommentaar oor die kampplekke by bv. Olifantsrus en Ai-Ais by mede-kampers gehoor. En die voorgevoel was korrek.

Alles het relatief goed begin. Die kampplek was verwaarloos maar die badkamers was darem netjies. Ons het die aand ietsie gebraai – en toe, na donker, trek daar ‘n Polo in waaruit 6 mense peul. Hulle het tente opgeslaan en die HELE nag lank vuur gemaak, gedrink en kliphard gepraat. Ons kon darem met tussenposes slaap maar elke keer as ons wakker was het ons gekyk hoe laat dit was, so dit was letterlik die hele nag se storie.

Die volgende oggend het die klomp net aangehou, sonder om asem te skep. Later het die musiek kliphard uit die Polo gedreun en ek moes een van die mans uit die vrouens se badkamer verjaag. (Ek wens half hy het my lip gegee, hy was so maergat vol bier, en ek was lus vir ‘n easy fight.) Ek het by ontvangs gaan kla, maar die hele ervaring was net te erg, so ons het opgepak en is Windhoek toe.

Ons kamp tans so 20km buite Windhoek in die rigting van die lughawe. 



Die plek is rustig en ons sien elke dag die blesbokke, springbokke en gemsbokke. Daar is selfs ‘n klein gemsbokkalfie wat styf langs sy ma bly. Vandag het ons die Grove Mall ingevaar want Jakkie vlieg Dinsdag Johannesburg toe vir ‘n RMI Board strategy session – en het gister met ‘n skok besef dat hy nooit “werksklere” ingepak het nie. More gaan ons by Joe’s Beerhouse ‘n draai maak en Dinsdagoggend vroeg sal ek vir Jakkie by die lughawe aflaai. Ek gaan vir 3 dae losklos in Windhoek wees, maar die wa moet ‘n slag goed skoongemaak word. Wanneer Jakkie terug is gaan ons die C28 aanvat en by Harmonie C28 kamp.

NS. By die Brandberg White Lady Lodge is daar 'n groep werkers wat saans as 'n koor by die kampplekke 'n draai maak. Hulle mag maar sing, want dis 'n belewenis. Hulle doen dit vir 'n ekstra geldjie en die klomp het selfs 'n tesourier wat die geld eweredig onder die klomp verdeel na die sang.



NNS. Op die pad tussen Uis en Omaruru, in die middel van nêrens, ry ons verby een van die mees onverwagse dinge tot dusvêr: by ‘n doodgewone plaashek langs die verlate grondpad het iemand ‘n vlagpaal geplant en die Israeli vlag wapper kordaat. Ek verstaan die boer wil seker sy solidariteit met Israel se stryd verkondig, maar dit bisar en eienaardig om dit op so ‘n plek te sien.



Opmerkings

Gewilde plasings