FROZEN IN TIME

 



Gedurende enige lang toer gebeur daar soms klein goedjies wat vinnige voetwerk verg, niks ernstig nie, maar goed wat dalk die lewe kan moeilik maak. Vir ons was dit toe die gasbottel Saterdagaand begin hik en stik. Die gasbottel was leeg. Ons het darem nog ‘n kleiner gasbottel, maar omdat ons nou in die suide gaan toer sal ons die groter gasbottel moet volmaak. Die suide het klein dorpies met net die nodigste soos ‘n superette en petrolstasie. Dit beteken nie dat die plekke gasbottels kan volmaak nie. Ek was baie fluks en kry twee plekke in Keetmanshoop wat gasbottels hervul. Probleem opgelos. Tot ons later die aand besef dat die volgende dag ‘n Sondag is en al die plekke sal gesluit wees. Onthou, in Namibië
is daar nog baie plekke wat tussen 13:00 en 14:00 sluit vir middagete. Soos die Ministry of Home Affairs and Immigration in Windhoek. Dis ‘n groot, fancy gebou en die hele plek werk soos geoliede masjien, maar hulle sluit vir middagete. So om ‘n plek vir gashervulling op ‘n Sondag oop te kry is soos om vir wors in ‘n hondehok te soek. Ons moes maar deurdruk met die kleiner gasbottel en Jakkie sou net bietjie meer moes braai en minder vra vir koffie.

Sondagoggend het ons in die pad geval, oppad na die Canyon Roadhouse. Die C12 was ‘n baie goeie grondpad met amper geen sinkplaat nie. 




Ons eerste stop was die Naute Kristall Distillery wat net na die Naute Dam se wal is. (Jan en Annelize sal die stop goed onthou van ons 2021 toer). 



Die Naute Dam se wal

Die ingang van die distillery

Oop vir besigheid

Die mense wat die plek besit was gesellig soos gewoonlik en die keer het hulle ‘n nuwe blou gin wat na ‘n ligpers verander sodra dit met tonic gemeng word. Die gin word gekleur met blou blommetjies wat wild groei in Thailand, so die kleursel is natuurlik. En na ‘n koffie en lekker gesels is ons met ‘n bottle blou gin onder die blad daar weg.

Ons het ook by die Canyon Farmyard gestop. Dit was tot onlangs 'n werkende plaas, maar na sewe jaar van droogte het die eienaars hulle vee verkoop en maak nou 'n bestaan deur 'n padstal en 'n paar netjies kampplekke. Ons het lekker koffie gedrink, heerlike appeltert geniet en baie gelag. Die eienaar glo daar is 'n skaarste aan padstalle in Namibië omdat mense moet Engels praat met die toeriste en dis 'n probleem. Sy het eers "leer Engels praat" toe hulle die padstal begin het. Die eienaars is plat op die aarde boere en skreeusnaaks - maar sy maak flippen lekker appeltert en droëwors!

Canyon Farm Yard verwelkom die toeriste






Die volgende stop was by Holoog, ‘n verlate halfwegstasie tussen niks en nêrens. Die plek bestaan uit ‘n mooi ou treinbrug oor die iGab rivier, ‘n ou blokhuis om die treinspoor en treinbrug te beskerm en die oorblyfsels van ‘n kalkoond wat uit die baie vroeë 1900s dateer.






Oorblyfsels van die ou kalkoond

Langs die treinspoor is daar ook ‘n afgeplatte hoop kalk wat wag om gelaai te word op ‘n trein wat nooit weer daar sal stop nie. In die skaduwee van die treinbrug is daar ook die grafte van drie Schutztruppe wat tydens die Herero- en Nama-opstande gesneuwel het. 




Die drie jong Duitse troepe hou al vir meer as 100 jaar wag by die treinbrug.

Aan die ander kant van die rivier, net soos die pad die hoogte vat by die rivierdrif uit, is daar ‘n eensame graffie van ‘n 7-maande oue dogtertjie wat in 1933 oorlede is. 

Die klein dogtertjie se eensame graf


Niemand weet of haar ouers ‘n plaas in die omgewing gehad het of net toevallig in die omgewing was toe sy gesterf het nie, maar haar grafsteen is teen die tyd al amper onleesbaar. Die Duitse grafte is beter behoue omdat die Kriegsgräberfürsorge Namibia omsien na die oorloggrafte van Duitse soldate wat in Namibië gesterf het. Die Volksbund Deutsche Kriegsgräberfürsorge is ‘n kommissie wat namens die Duitse regering die liggame van vermiste Duitse soldate regoor die wêreld opspoor, ‘n waardige begrafnis gee end an die grafte versorg. Die kommissie is in 1919 na die Eerste Wêreldoorlog gestig en sorg tot vandag toe nog vir al die grafte.

Canyon Roadhouse was ‘n baie lekker kampplek, want alles is netjies, goed onderhou en skoon – dis deel van die Gondwana oorde, so dit word baie goed versorg. Die enigste nadeel was dat die wind redelik baie gewaai het, maar dit het niks met die oord te doen nie.





Die ontvangs, restaurant en kroeg is ‘n baie interessante plek vol goed wat jou ure lank kan besig hou. Van ou karre, spoorwegtekens, ‘n ou ambulans, ontelbaar baie nommerplate en ‘n baie ou stoomtrekker. 

Die kroegarea








Almal moet ten minste eenkeer by Canyon Roadhouse ‘n draai maak, en veral die badkamers besoek – en kyk watter skatte in die Shongolo’s Box is!

Ons het ‘n draai by die Visrivier Canyon gaan maak en soos altyd is dit ‘n uitsig duisend.


Die begin van die 80km staproete wat oor 5 dae gedoen word


Hier begin die baie tawwe staproete






Die Canyon beslaan ‘n area van 5900 km2 so foto’s kan nie die grootsheid daarvan vasvang nie. Die Canyon is ouer as oud – dit het ongeveer 500 miljoen jaar gelede begin met ‘n kraak in die aardkors en dis die grootste canyon in Afrika en die tweede grootste canyon in die wêreld na die Grand Canyon in Amerika.

Natuurlik was die duiwel listig met ons verblyf by die Canyon Roadhouse want die internetsein was elke oggend af tot ongeveer 10:00 voor dit weer herstel het. Die eerste oggend toe dit gebeur het ons gedink dis ‘n probleem met ons router en ek, wat allermins ‘n IT expert is, moes deur Huawei se online interface probeer om iets reg te kry. Ek het settings verander en was oor die algemeen ‘n “druk mechanic” soos Jakkie dit sou stel. Want ek het nie ‘n idee gehad van wat ek besig was om te doen nie. Raadop het ons besluit om te gaan stort en wonder bo wonder was die sein weer aan toe ons terug is van die stort af. Ek het gedink dat ek dalk in my absolute onkunde iets reg gedoen het en was effens ingenome met myself. Maar toe ons die volgende oggend wakker word is dit dieselfde storie! Ons is na ontvangs toe om hulle wifi te probeer en daar hoor ons toe dat dit ‘n probleem in die suide van Namibië is. Die logde se ontvangs kon die vorige oggend nie betalings verwerk tot na 10:00 in die oggend nie, want hulle het ook geen sein gehad nie. Nou ja, toe moes ons maar wag tot ongeveer 10:00 en siedaar, die sein is weer terug!

Ons het die laaste middag die kort staproete teen die koppie agter die kampplek gestap en kon ver oor die oop vlaktes sien en darem ook ‘n baie mooi sonsondergang ervaar. 





En vir die wat dink dat daar geen dierelewe in die dorre omgewing is nie, ons het elke nag ‘n besoek van ‘n ystervark gehad wat kom snuffel het vir iets om te eet. Ons kon duidelik die gekrap van die penne teen die wa hoor, en Jakkie het hom gesien maar die ystervark was te rats vir ‘n foto. Ons kon darem elke oggend duidelike voetspore in die sand om die wa sien.

Woensdagoggend is ons op die C10 (verby Ai-Ais se afdraai) en later die C13 na Aussenkehr, wat reg op die Oranjerivier is. 




Die roete na Aussenkehr loop deur ‘n dorre, maar baie mooi, gebied. Die aansluiting na Aussenkehr is nogal ‘n verrassing, want na die kilometers van grondpaaie en stof is daar skielik ‘n see van lowergroen wingerde voor jou. 




Die Oranjerivier voorsien die water en die boere verbou hoofsaaklik tafeldruiwe vir die Namibiese mark, maar ook vir uitvoer. Ons het by die Norotshama River Resort gekamp en ‘n baie mooi uitsig oor die rivier gehad. 





Vreemd om te dink dat ons net oor die rivier kon swem om op Suid-Afrikaanse grond te wees. (Ons kon darem die groot gasbottel weer volmaak in Aussenkehr!)

Die hoogtepunt van ons tyd in Aussenkehr was die roete in die droë rivierloop van die Gamkab rivier. 





Die soliede rotshellings styg vir die meeste van die roete aan beide kante van die rivierloop uit en alhoewel die rivier nie standhoudend is nie, het ons hier en daar ‘n waterpoel gesien. Die roete sluit later weer aan by die C13 wat na Aussenkehr loop.

Aussenkehr, soos baie dorpe, het ook ‘n informele nedersetting. Wat ons wel vreemd gevind het was dat die 80% van die huisies nie met sink gebou word nie, maar wel met riete. Riete is natuurlik volop omdat dit langs die Oranjerivier is en riete werk seker beter in die versengende somerhitte in daardie area. Glo my, die somertemperature daar draai kort op die hel!

Die volgende stop was Klein Aus Vista, net buite die piepklein dorpie van Aus. Die C13 uit Aussenkehr na Rosh Pinah is ‘n grondpad wat al langs die Oranjerivier kronkel. Soos met 90% van die grondpaaie in Namibië was die toestand van hierdie 100km beter as meeste teerpaaie in Suid-Afrika. Die Namibiese reënseisoen is nou verby en die regering sorg dat al die grondpaaie ordentlik geskraap word.

Die afdraai na Rosh Pinah is ‘n skamele 4 km na die Sendelingsdrif grenspos met Suid-Afrika en die voertuie word met ‘n pont oor die rivier vervoer – iets wat ons definitief moet doen!




Rosh Pinah is ‘n tipiese myndorpie, dus nie baie sjarme nie.

Klein Aus Vista, ook deel van die Gondwana groep, is ‘n baie mooi en gerieflike kamp. Die staanplekke is tussen die rotse en elkeen het ‘n tafel en bankies. Maar genade, ons eerste nag was uitmergelend! Dit was KOUD. Ons het gebraai, gaan stort en in die bed geklim. Behalwe vir die vereduvet en twee komberse het ek my nagklere, sokkies, beanie, ‘n poncho en later ook my puffer aangetrek. En ons het nog steeds gebibber. Toe ons vanoggend net voor 08:00 opstaan was die temperatuur -3 ˚C. In ‘n huis mag dit nog draaglik wees, maar in ‘n tent is dit vriesend. Die waterpype en krane het gevries en daar was ‘n yslaag op die wa se awning. 



Ek het eers vir Jakkie uitgestuur om te gaan recce en hy het darem ‘n plan gesien om water te kry vir sy oggendkoffie. Vandag was net so koud met ‘n wind wat deur jou gebeendere sny. Dit reën op die oomblik en dis nie net gewone reën nie, dis ysrëen! Ons altwee sal vanaand seker soos ‘n Yeti aangetrek wees onder ‘n berg komberse wegkruip. Maar nou ja, it’s all about making memories!

Opmerkings

Gewilde plasings