HORSES FOR COURSES

 

The human bird feeder


Sondagoggend het ons na die Schutztruppe Prisoner of War Camp op ‘n verlate vlakte net buite Aus gaan kyk.



Die kamp was van 1915-1919 deur die Unie van Suid-Afrika gebruik om Duitse oorlogsgevangenes tydens die Eerste Wêreldoorlog gevange te hou. Die Duitse troepe moes self die kamp bou waarin hulle gevange gehou is, maar vandag is daar net effense murasies en fondasies oor.






Die kamp het ongeveer 1 500 gevangenes gehuisves en met ons besoek was dit bitterlik koud en reënerig, wat my laat wonder het hoe die Unie troepe en gevangenes dit in Aus oorleef het tussen die versengende somerhitte en vriesende winterkoue.

Die volgende stop was die Commonwealth War Graves ook net buite Aus. 






Daar is die grafte van die gevangenes en Unie troepe wat gedurende 1918 in die kamp aan die Groot Griep (Spanish flu) oorlede is. Net soos Covid het die Groot Griep nie tussen ryk of arm, Suid-Afrikaans of Duits onderskei nie. Tussen die maande van September en Desember 1918 het die griep 65 Duitse gevangenes en 60 Unie troepe laat sterf. Die grafte van die gevangenes en troepe word wel goed onderhou deur die Commonwealth War Graves Commission en die Duitse Kriegsgräberfürsorge Namibia.

Die personeel by Klein Aus Vista het vroeër Sondag al vir ons gewaarsku dat dit van 16:00 die middag gaan reën en met die dag se koue het dit niks goed voorspel nie. Ons het ‘n kans gevat en die 1,6km staproete na die uitkykpunt gestap om die “/ui häb geoglyph” van ‘n gallopende perd te gaan kyk.

Die "geoglyph" is agter die koppie/berg


“/ui häb” beteken klipperd in Nama en ‘n “geoglyph” is ‘n baie groot mensgemaakte verskynsel wat op die grond geskep is. Hierdie “geoglyph” is van ‘n 80 x 40 meter gallopende perd wat met klippe geskep is. Dis landskapskuns ter ere van Namibië se eeue-oue wilde perde wat ‘n onsekere toekoms in die gesig staar.

Ons moes wikkel, want ons het teen tyd gestap en moes voor die reën terug wees, maar dit was die moeite werd! Dit was baie spesiaal om tydens ons stappie ‘n koedoe in die bergrante te sien. Koedoes is algemeen in beboste areas, maar jy sien hulle nie baie in die bergrante nie. Die uitkykpunt is hoog in die rante en bied die mooiste, mooiste uitsig oor die vlaktes van die Klein Aus Vista plaas – en dan is daar natuurlik die gallopende perd wat verrys uit die omgewing. 






Dis so mooi en baie spesiaal – dink net, die kunstenaars en vrywilligers het drie jaar gevat om dit te voltooi. Dis “landart” in die suiwerste vorm en dit verg baie passie en toewyding om iets op so ‘n groot skaal te voltooi.

Sondagaand het ons besluit om onsself te bederf met ‘n ete by die Klein Aus Vista Desert Horse Inn. Ons Gondwana-kaarte beteken dat ons, as SADC paspoorthouers, 40% afslag op verblyf by Gondwana oorde kry e nook 25% afslag op aandete en aktiwiteite. Die kaarte het hulleself al klaar terugbetaal met die afslag op verblyf en ons het vir die eerste keer die aandete probeer. Dit het al van 17:00 af gereën en dit was bitter koud. 

Niks klop die koue beter as 'n lekker bord kos nie!


Die aandete het glad nie teleurgestel nie en ons kon smul aan heerlike kos (voorgereg, hoofgereg en nagereg) vir net-net meer as R300 per persoon. Dit was ons date night en het ons nuwe moed gegee vir die koue nag wat voorgelê het.

Teen slaaptyd was ons soos Oros-mannetjies aangetrek en die beddegoed in lae beplan. Dit het gewerk want ons het, ten spyte van die aanhoudende ysreën, relatief warm geslaap. Maandagoggend het ons met reënbaadjies en sambrele bontgestaan om koffie te maak en die oorblywende goed georganiseer en gepak te kry. Dit was bitterlik koud en ons hande het soos ysblokkies gevoel, maar het alles gepak gekry.

Die pad na Lüderitz is geteer so ons het gemaklik gery. Ons het by die Garub watergat gestop met ‘n vae hoop om die wilde perde van die Namib te sien, maar dit was bietjie later in die oggend, koud en nat. Soos te verwagte was daar geen teken van die perde nie, en ons is verder Lüderitz toe. Daar het ons vir twee nagte in die Shark Island Guest House gebly – en dit was ‘n fees! 



Na die twee dae van uiterste koue en reën was dit heerlik om in ‘n gastehuis te bly. Ek was net so bly vir die kans om ons wasgoed te laat was en dit nie self met die hand te was nie – ek kan nie verduidelik wat ‘n plesier dit was om die klere skoon, droog en netjies gevou terug te kry nie! Ons het nie gekamp nie, want die Shark Island Campsite het die mooiste uitsigte, maar dis nie beskut nie en Lüderitz is bekend vir wind wat soms tot 90 km/h kan waai, so as die wind gewaai het sou ons baie onplesierig gekamp het.

Natuurlik het ons die spookdorp Kolmanskop besoek – dit was Jakkie se eerste keer in Lüderitz en by Kolmanskop, en ek was laas daar toe ek 5 jaar oud was. Dinge word deesdae ‘n bietjie anders gedoen want groepe word nou op begeleide toere deur die verlate dorpie geneem.



Kolmanskop is 10km oos van Lüderitz en het in 1908 begin nadat Zacharias Lewala, ‘n spoorwegwerker, die eerste diamant tussen die duine by Kolmanskop ontdek het. Zacharias het vroeër jare by die spoorweë in Kimberley gewerk, so hy het geweet hoe ‘n ongeslypte diamant lyk. Hy het dit vir sy opsigter gewys en BOOM! – net so begin ‘n diamantstormloop!

Daar was baie diamante en aan die begin was dit verspot maklik om die blink klippies te kry. Die diamantprospekteerders en werkers het letterlik plat op hulle mae oor die duine geskuif en diamante opgetel. No jokes.

Die dorpie was klein, maar daar was baie, baie geld. Die huise is in die Duitse styl gebou en al die boumateriaal is van Europa af ingevoer. Selfs die klip waarmee die huise gebou is het per skip van Europa af gekom. Die slegs 300 inwoners het toegang tot ‘n winkel, bakkery, slaghuis, ysfabriek, skool en hospitaal gehad. 

Kolmanskop se hospitaal (krankenhaus)



Nie net dit nie, maar die dorp het sy eie elektrisiteit opgewek, so die inwoners het elektriese ligte gehad en elkeen het ‘n telefoon in die huis gehad. Vir onspanning was daar ‘n ontspanningsaal met gereelde opvoerings, ‘n casino, ‘n champagne bar, ‘n ten-pin bowling alley en ‘n laundromat. 

Die elektriese eenheid binne die ontspanningsaal

Die kegelbaan (ten-pin bowling alley)

Die ingang na die kegelbaan (bowling alley)
)



Die enigste nadeel was dat vars water baie skaars was, so die inwoners het elkeen 20L vars water per dag gekry wat per skip uit Kaapstad en dan per trein na die dorp gebring is. Die vars water is gebruik om te drink en om mee te kook. Die wat nog dors was kon lemondade gaan kry by die lemonade winkel. Jy moes met seewater bad en dan met ‘n bietjie vars water afspoel. Die kinders het darem ‘n duikplank gekry by die tenk waarin die seewater gestoor is en tydens een of twee Kersfeesvieringe het een van die inwoners se troetel-volstruis ‘n slee oor die duine gesleep! (Nie Jakkie se idee van pret nie!)





Die Duitse koloniale regering het natuurlik nie te lank gewag voor hulle ook hand in die koekieblik gedruk het nie. Die area vanaf Kolmanskop tot amper by Oranjemund is baie vinnig as verbode verklaar – die sogenaamde Sperrgebiet. Die Duitse regering het dit gedoen om beheer te kry oor die ryk diamantvelde. Die area bestaan vandag nog en word deur Namdeb beheer – toeriste kan slegs ingaan saam met ‘n gids wat ‘n amtelike permit het.



Die skoolhoof se huis

Die skoolhoof se huis

Die rykdom en oorvloed het ook tot ‘n einde gekom. Die intensiewe mynbedrywighede het die area teen die laat 1920s gestroop, maar die laaste spyker in die doodskis was toe Oranjemund se diamantvelde in 1928 ontdek is. Die meerderheid van Kolmanskop se mense het opgepak en suid getrek. Die heel laaste inwoners is in 1956 weg toe die hospitaal gesluit het. Alles is net so gelos. Heeltemal verlate. Mettertyd het die wind en woestynsand oorgeneem en ‘n studie wat in 2010 gedoen is wys dat daar die oorblywende geboue ‘n merkbare agteruitgang toon. Dit beteken dat die spookdorp in die toekoms weer een sal word met die woestyn.

Na Kolmanskop is ons na Dias Point, die plek waar die Portugese seevaarder, Bartolomeu Dias, op 24 Julie 1488 aan wal gestap het. 




Daar het hy ‘n “padrao” of kalksteen klippilaar met ‘n kruis opgerig as teken van die Portugese koning se koloniale ambisie. Die oorspronklike pilaar het verweer en vergaan, maar in 1953 is stukke van die oorspronklike gevind, wat gesien kan word in museums. Die huidige doleriet padrao is in 1988 opgerig, presies 500 jaar nadat Dias aan wal gestap het. (Ek het ‘n ou foto waar ek en ‘n maatjie voor ‘n vroeëre kopie van die padrao afgeneem is. Ek in my retro rooi sweetpakkie en stokies. Wat kan ek sê? Ek was klein en dit was koud gewees!)

Die keer sonder 'n rooi sweetpakkie en stokies!

Dias Point Lighthouse


Ons het ‘n draai deur die dorp gery om te kyk na al die mooi ou Duitse geboue. Behalwe vir Swakopmund is Lüderitz die dorp in Namibië waar die Duitse invloed baie duidelik is.






Die gastehuis waarin ons gebly het was binne loopafstand van Shark Island en die laaste middag het ons tone geklap. Shark Island het die mooiste uitsigte oor die hawe en soms stormagtige Atlantiese Oseaan. Dit was eers ‘n eiland, maar in 1906 het die Duitse magte ‘n oorgang gebou, net betyds om te dien as konsentrasiekamp vir gevangenes tydens die Nama en Heroro opstande. 




Shark Island, of Death Island was een van vyf konsentrasiekampe wat gebruik is tydens die opstande. Die ligging van die plek en omstandighede waarin die gevangenes moes leef was brutaal – en sommige kenners het dit al beskryf as ‘n vroeë “bloudruk” vir die konsentrasiekampe wat die Nazis tydens die Tweede Wêreldoorlog gebruik het.

Die volgende oggend was ons op pad na Helmeringhausen, maar die enigste pad uit Lüderitz is terug met die B4 na Aus (onthou, die hele area rondom Lüderitz is Sperrgebiet. 



Ons het rustig gery en gereeld gestop – eers om foto’s te neem van waar die sandduine oor die treinspoor gewaai het en toe was ons gelukkig genoeg om die wilde perde langs die B4, naby aan die Garub watergat, te sien!





Helmeringhausen is maar ‘n one-horse town – and the horse died a long time ago. Eintlik is dit deel van die oorspronklike Helmeringhausen plaas, en daar is ‘n algemene handelaar, brandstof en ‘n hotel. 



Ons het by die Helmeringhausen Hotel gestop vir koffie en die LEKKERSTE appeltert tot dusvêr. Ek weet nie hoekom almal so gaande is oor die appeltert by Solitaire nie, dit was lekker, maar nie aardskuddend nie. Die appeltert by die Helmeringhausen Hotel is uit die boeke met perfekte appelvulsel en die heerlikste tuisgemaakte, egte-botter shortcrust pastry. Ek sal in die toekoms defintief ‘n lang ompad ry vir dié appeltert!

Ons het gekamp by Mount D’Urban, so 20km buite Helmeringhausen op die Maltahöhe pad. Die kampplekke was baie oulik en alles was daar. 




Die boer en sy vrou is gasvrye mense en het selfs ‘n klein winkeltjie waar die vrou haar tuisgemaakte konfyt en koekies verkoop. Die buurplaas verskaf die beskuit en die droëwors en salami sticks. (Natuurlik is ons daar weg met droëwors EN salami sticks 😋)

Die plaas het ‘n paar staproetes en twee uitkykpunte wat ‘n wye uitsig bied oor die omgewing. Ons het teen die berg op gery na die Kosos uitkykpunt vir ‘n sundowner en dit was absoluut die moeite werd. 





Dit was ysig koud en die wind het gewaai, maar die mooiste-mooi uitsig het daarvoor vergoed. Na sononder het on seers by die plaashuis gestop om ons varsgebakte, warm ciabatta te kry, perfek vir die tamatiesop wat ek gemaak het. Heerlike vars brood met botter by lekker warm tamatiesop. Ons het warm en gelukkig gaan slaap.

Die volgende kampstoppe sluit Duwisib, Solitaire en Namibgrens in. So beweeg ons stadig weer terug in Windhoek se rigting, reg om binnekort vir Carina by Hosea Kutako lughawe te gaan haal vir haar kuier saam met ons.

NS. Ons het uiteindelik die elektriese kombers (waarop Jakkie aangedring het) op die bed en dis ‘n groot verligting! Nou hoef ons ten minste nie soos Oros-mannetjies onder ‘n berg komberse te slaap nie en ons voete is toasty. (Dankie Jakkie! Onthou, jy is altyd reg, maar alles is ook altyd jou skuld! 😁)

Opmerkings

Gewilde plasings