SUN, SEA AND SAND

 

Maandagoggend is ons vroeg uit die vere en het blitsvinnig opgepak sodat ons betyds kon wees om vir Carina by die lughawe op te tel. Toe is dit reguit na Windhoek se Outdoor World om nog kampstoele te koop, want ons het net twee stoele en die winkel was die Sondag gesluit. Maar daar was darem genoeg tyd om weer een van Hartlief se heerlike pulled lamb toebroodjies te eet voor ons die pad na Rehoboth gevat het. Daar moes Jakkie eers bande afblaas want die volgende 200km was grondpad en ons het nie geweet hoe onlangs die paaie geskraap is nie. Die rit was stowwerig maar die grondpad heel aanvaarbaar.


Tsauchab River Camp is ‘n gunsteling sedert ons in 2021 daar oorgebly het. Ons het kamp opgeslaan (ook Carina se tentjie en opblaasmatras) en toe was dit tyd vir braai… 



Toe word Carina dors...

Ons was gelukkig omdat ons ‘n chalet se badkamer kon gebruik, so die ablusie was ‘n bonus omdat dit koud en winderig was.

Die volgende dag was daar tyd om Oerwald en die wildevybome te gaan verken. 



Ons het eers goeie moerkoffie by die ontvangsarea gedrink en daar was baie om te sien.


Toe short wave radio nog hoogmode was...


Dis hoe jy 'n voice note in die ou dae opgeneem het


Twee langes en een korte


Jy sal daar nooit verveeld wees nie omdat daar so baie interessante oudhede en handgemaakte ysterbeeldjies is wat uit scrap gemaak is. 

Wildevy se boomwortels

Een van die wildevybome by Oerwald

Die drie musketiers

Die plaas bied ‘n hele paar stap- en 4x4-roetes wat nog mooier moet wees as daar reën geval het. Ons besoek was in die winter, so waterpoele was skaars.

Na Oerwald is ons na die N/a'an ku sê Collection se nabygeleë Neuras wynplaas – ongelooflik om te dink dat die wyne in so ‘n dorre area gemaak word. 

Na middagete by die wynplaas is ons terug kamp toe vir ‘n bietjie rustyd. Vir sonsondergang het ons na die uitkykpunt gery en die uitsig was weereens so wyd soos die Heer se genade.






In Namibië is dit altyd wonderlik om die uitsig van ‘n hoër punt te kan aanskou, want dan besef jy eers werklik hoe groot en uitgestrek die omgewing is.

Die volgende dag se rit was nie so lank nie, maar dit was erg genoeg, veral die laaste gedeelte van die C14 na Weltevrede Guest Farm, ons volgende kampplek.




Die aand het ons rustig gebraai en toebroodjies vir die volgende dag gemaak, want dit was vroeg opstaan om betyds te wees die Sesriem hek van die Namib Naukluft Park wat teen sonop oopmaak. 







Hierdie was iets spesiaal wat ons vir Carina wou wys, want dit het ons die kans gegee om teen Duin 45 uit te klim. 











Die duin, 45 km van die Sesriem hek, is 170m hoog en nogal harde werk om uit te klim. Weereens, die uitsigte is skouspelagtig en laat jou (amper) vergeet van die moeite om tot bo te kom. Duine klim is harde werk!

Ons het aanbeweeg na die parkering vir die 4x2 voertuie wat nie kón of nie wóu deur die dik sand tot by Dooievlei sukkel nie. Daar is gereelde NWR shuttles wat tot by Dooievlei ry, maar Jakkie het homself reggeskud soos ‘n klein vlakvarkie wat deur ‘n elektriese heining gaan handloop en ons is sonder te veel moeite deur die dik sand. Daar was wel tekens van voertuie wie se bestuurders gesorg het dat die wiele tot by die onderstel ingegrawe is – meestal 4x4 bakkies met daktente wat deur buitelandse toeriste gehuur is.

Die stappie na Dooievlei is oor ‘n kleinerige duin of twee maar die eienaardige prentjie van kleivlakte en geraamtes van eeue-oue kameeldoringbome as jy oor die laaste duin kom maak dit die moeite werd. 


Die kleivlakte is ongeveer 1 000 jaar gelede na reënval deur oorstromings van die Tsauchabrivier gevorm. Die vlak poele het dit vir die kameeldorings moontlik gemaak om te groei maar na die erge droogte en tekort aan enige water het die oorblywende bome, wat ongeveer 900 jaar oud is, gesterf. Die bome is nie versteen nie, maar deur die eeue het die son die geraamtes swart gebak. Dooievlei word omring deur van die hoogste duine ter wêreld wat die rivier se water keer, so vir 900 jaar was dit te droog vir die bome om heeltemal te vergaan. Die effense plantegroei wat wel daar voorkom, soos die nara, oorleef deur ‘n klein bietjie vog uit die oggendmis te onttrek.




Na Dooievlei het ons besluit om ‘n draai by Sesriem Canyon gemaak, wat 5km van die Sesriem hek af geleë is. Wat ‘n ervaring – die pad na die Canyon, nie die Canyon self nie! Dit was die slegste stukkie grondpad ooit! Die sinkplaat was so erg dat ons nie net kidney belts nodig gehad het nie, maar ook rugby scrum caps! (Dankie NWR!)



Die volgende dag was ons weer op die pad, die keer via Walvisbaai na Swakopmund. Na ons die slegte grondpad tussen Weltevrede en Solitaire oorwin het moes ons by Solitaire stop vir koffie en appeltert. Die res van die C14 was darem in ‘n beter toestand en het dinge vergemaklik.

‘n Belangrike stop was by die bord wat die Steenbokskeerkring (Tropic of Capricorn) aandui.



Die Steenbokskeerkring is 'n breedtegraad wat op ongeveer 23½° suid van die ewenaar om die aarde strek. Toe ons die toer begin was dit my droom dat ons saam met Lienkie ‘n foto onder die bord kon neem, want sy was die toer se mascot. So dit was bittersoet om daar te staan, maar ten minste het ek haar laaste grooming strikkie in my broeksak gehad.

Walvisbaai en Swakopmund was ‘n welkome gesig want ons het weer die see gesien. Ons het kamp opgeslaan en is dorp toe vir aandete by The Tug restaurant wat net langs die Swakopmund jetty is.

Die volgende oggend moes ons ekstra-vroeg wikkel want ons is saam met Carina op ‘n Sandwich Harbour toer. Ons het die keer saam met Herman van African Edge Adventures gegaan – ‘n wonderlike keuse. Sandwich Harbour, deel van die Namib Naukluft Park, is waar die Namib duine en die see bymekaar kom en dit bly die mooiste plek ooit. 







Herman het verduidelik dat die area van Sandwich Harbour eens ‘n varswatermeer was met wilde diere soos seekoeie en kameelperde voor die klimaat verander het en die woestyn dit verswelg het.

Dit was nie net duine ry nie, want hy het gereeld gestop vir foto’s en om vir ons interessante dinge uit die woestyn te wys en verduidelik. Tydens een so ‘n stop het hy op ‘n spesifieke plek in die sand gegrawe en ons was gelukkig genoeg om ‘n Namib duine gecko (palmato gecko) te sien.



Die klein woestynreptiel is amper deurskynend en is so goed aangepas tot die dorre omstandighede dat dit net in die Namib woestyn voorkom. Die gecko leef deur die dag onder die woestynsand en kom saans uit om voedsel te soek.

Daarna het Herman weer gegrawe om vir ons ‘n “striped legless skink” wat onder die woestynsand leef te wys. 



Dis ‘n akkedis-spesie sonder pootjies en dan nog boonop blind ook! Hy het ook vir ons meer oor die gebruike van die nara-plant vertel en laat proe aan die gedroogde saadjies wat deur bv. die Topaars van die Namib al vir honderde jare eet.

Herman is ook teen ‘n paar baie steil duine af en Carina, voor in die Cruiser, het ‘n paar keer met groot oë na die panic handle gegryp! Die grootste pret was wel om plat-op-jou-maag teen steil duine af te sandboard. Ons almal (Jakkie ook!) het dit so baie geniet en sou dit weer en weer doen as ons kon!

Op die pad terug het Herman vir ons verduidelik wat die rooierige kleur van sekere dele van die strand se sand veroorsaak. Hy het 'n naby foto geneem en almal was verbaas oor die inhoud van die sand - goed soos bv. baie fyn granatesteentjies, toermalien, silika en yster.



Na ‘n ongelooflike voormiddag was ons vol sand en moeg, wat beteken het tyd vir vis en tjips, net soos dit by die kus gemaak kan word. Ons het dit by Fork ‘n Nice, ‘n koswa by die Swakopmund promenade, gekoop en sommer op die gras gaan sit om te eet. So lekker!

Ons volgende stop is by Goanikontes Oase in die middel van die “maanlandskap” buite Swakopmund en daarna ry ons stop-stop tot ons weer terug is in Windhoek.

NS. Come rain or shine, darkness or light – Carina is ernstig oor haar foto’s en het die oggend (baie vroeg!) voor ons Sossosvlei toe is die liggie in haar tent goed gebruik om al haar grimering perfek te kry. Dis wat ‘n mens toewyding noem!


Opmerkings

Gewilde plasings