THE BEST LAID SCHEMES OF MICE AND MEN

 


Ons volgende kampplek was die Duwisib Guest Farm, ongeveer 20km van Betta en reg langs die Duwisib kasteel. 


Duwisib kasteel van ons kampplek af

Ons het relatief gemaklik gekamp en kon vir die eerste keer tydens die toer die elektriese kombers gebruik. Jakkie was bekommerd oor die internetsein (Netwerk24! 😄), maar hy het gou-gou ‘n plan gemaak en die kragpunt en die router na die hoë takke van die doringboom geskuif. 

Dankie Neels Putter, vir hierdie goeie idee tydens ons kuier op Eagles Nest!

Ek wou baie graag die Duwisib kasteel besoek omdat my ma lank gelede vir my van die kasteel se geskiedenis vertel het en ‘n boekie gegee het wat vandag nog op die boekrak staan. 





Die kasteel se voordeur en bo dit die balkon van die mans se rookkamer

Die kasteel is gebou deur ‘n Duitse adelike en beroepsoldaat, Hansheinrich von Wolf en sy welgestelde Amerikaanse vrou, Jayta von Wolf (née Humphreys). 

Hansheinrich von Wolf in sy militêre drag

Hansheinrich was lief vir avontuur en het in 1896 met ‘n begeleide toer deur Egipte op kamele gereis. Hy was gedurende 1904 tot 1906, tydens die Herero en Nama opstande, deel van die Schutztruppe. Hy is in 1906 gewond en is terug Duitsland toe waar hy vir Jayta, die baie ryk stiefdogter van die Amerikaanse konsul-generaal in Dresden ontmoet het. 

Jayta von Wolf op haar troudag in 1907

Teen April 1907 is hy en Jayta getroud voor hulle na Duits-Suidwes-Afrika verhuis. Hulle wou grond naby Maltahöhe koop om te boer en perde vir die Schutztruppe te teel.

Die kasteel is gebou met die plaas se rooi sandsteen gebou maar die res (al die meubels, yster, hout vir die binnekant, sement en vensters) is vanaf Hamburg via Lüderitz ingevoer. Van daar af het dit twee weke per ossewa, getrek deur 24 osse, geneem na die bouperseel. 

Die ingevoerde hangkas is in 1790 gebou

Een van die oorspronklike stoele in die knights hall

Die kasteel bestaan uit 22 kamers en het groot kaggels, ‘n wynkelder en ‘n “rookkamer” vir die mans. 

Die kasteel se eetkamer met die oorspronklike meubels

Die kaggel in die eetkamer

Die kaggel in die sitkamer



Die knights hall wat van die voordeur na die binnehof lei



Die steil trappe na die rookkamer bo en na die wynkelder onder die kasteel

Die mans se rookkamer en balkon

Een van die twee jakarandabome wat in 1909 geplant is


Die kaggel in Hansheinrich en Jayta se "winterslaapkamer"

Een van die agterdeure vanuit die kasteel se binnehof

Die von Wolfs het ‘n baie suksesvolle boerdery gehad en het later nog heelwat ander buitegeboue en selfs ‘n groot perdry arena aangebou. Hulle was baie gelukkig by Duwisib en in 1914 was hulle per skip op pad na Europa om ‘n stoethings te koop toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek. Die skip het koers gekies na Rio de Jainero. Die von Wolfs is via Amerika met vals paspoorte terug na Duitsland waar Hansheinrich in 1916 weer by die Duitse weermag aangesluit het. Ongelukkig het Hansheinrich en Jayta se Afrika-droom twee weke later tot ‘n einde gekom toe hy in Frankryk by die berugte en baie bloedige “Battle of the Somme” dood is. Jayta het tot die einde van die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland gebly en toe na Switzerland verhuis. Hulle het alles in die kasteel, insluitend die meubels, net so agter gelaat. Sy het nooit weer Afrika gesien nie, want sy is uiteindelik terug na Amerika waar sy in 1959 oorlede is.

Die volgende stop op ons roete na Solitaire was Betta, ‘n plaas wat ook brandstof, ‘n kampterrein en koffiewinkel het. 



Die spyskaart was baie interessant om te lees…


Ons het brandstof gegooi en veral Jakkie het lekker ontbyt ge
ëet – die “As dit pap reën moet jy skep” en dit was die naaste aan sy gunsteling en berugte “Vrystaat pizza” wat hy nog by ‘n restaurant kon kry. 

Ons het onsself vermaak met Mosel, die koffiewinkel se Rottweiler/Bulldog misbakseltjie met sy ekstra-groot trappers. 

Mosel wonder oor iets...

 

(Ek moet net noem dat ‘n Duitse toergids my opinie oor Helmeringhausen Hotel se appeltert aan haar toeriste beaam het – dit is die beste in Namibië. Jakkie sê ek moet ophou om ander mense se gesprekke te roof-luister…)

Die C27 vanaf Betta na Sesriem en die C19 tot by Solitaire is tans van die slegste grondpaaie wat ons nog in Namibië moes ry. 



Nie net was dit skud-skud en rittel-rittel nie, die sinkplaat was so erg dat ons eintlik elkeen ‘n kidney belt gekort het vir ons rug en niere! Maar ten spyte van die slegte grondpad was dit ‘n baie mooi roete. 










Ons het ook kans gehad om ons versameling diere-bordjies in Namibië uit te brei. Ons het nou al twee verskillende weergawes van die gemsbok-bordjies gekry.



By Solitaire was ons die enigste kampeerders maar die lodge se kamers was vol buitelandse toeriste. 





Na ons ingeburger het was dit amper tyd vir die sonsondergang en ‘n groot groep van die toeriste het reg gestaan met hulle kameras om dit af te neem – amper soos oorywerige tieners by ‘n Taylor Swift konsert. 


Na die son gesak het was dit tyd om te braai. Daar is ‘n watergat baie naby aan die kamp en dit was nie lank voor ons bewus geraak het van die diere in die omgewing nie. Met behulp van die flits kon ons ‘n gemsbok of twee sien wat kom drink het. Natuurlik het die reuk van die braai ook die jakkalse gelok en ons het hulle ook naby ons gesien. Na aandete het ons van die vleisbeentjies agter die ry struike gaan sit en dit het ons kans gegee om ‘n paar foto’s van hulle te neem. 




Dis nie die wonderlikste foto’s nie, want ons moes hulle in die flitslig kry en met die selfoon neem, maar dis darem iets.

Maandag was D-Dag vir Jakkie want dit was tyd vir die volgende RMI Board meeting. Ons het gebid dat die internet-sein stabiel genoeg bly vir ‘n paar uur en gelukkig het dit darem relatief goed verloop. Na die vergadering het ek en Jakkie ‘n bietjie gaan stap en ook ‘n koffie by die Lodge se koffiewinkel gedrink. Ons het nie van die beroemde Moose McGregor appeltert geëet nie – dit was die volgende oggend op ons spyskaart.




Solitaire se reënval




Daar was ook heelwat diere wat gedurende die dag aktief was – die waaierstert-grondeekhorings (Cape ground squirrel) en witkwasmuishonde (yellow mongoose). 


Die witkwasmuishond (yellow mongoose)


Dit was interessant om hulle gedrag dop te hou en veral die witkwasmuishonde was gemaklik genoeg om deur ons kampplek te beweeg. (Ek moet ook net noem dat ons baie lekker gelag het vir die grondeekhoring-mannetjie, want hy het enorme klokke wat so wip-wip en swaai-swaai saam met hom beweeg het! Ons kon nie 'n foto van hom neem nie want ons het te veel gelag.)

Ons het baie tyd die volgende oggend gehad, want ons volgende kampplek was ‘n volle 55km verder. Ons het rustig ontbyt geëet, opgepak en toe eers by die koffiewinkel gestop vir die appeltert. 

Solitaire se appeltert

Moose McGregor se graf by Solitaire

Die D1275 was in ‘n goeie toestand, so die rit was gemaklik. Die eerste gedeelte se groot hoogtepunt was toe ons die bord vir die Rooi Dak Padstal sien.


Jakkie was veral opgewonde – ek is nie seker of dit oor die advertensiebord of die moontlikheid van nog koffie was nie. 

Wie sou 'n "Soviet Union rocket" tussen Solitaire en Nauchas verwag?



Probeer die Russiese ruimtevaarders vlug of boer??



Rooi Dak Padstal se kleurvolle windpomp

Die plek is interessant maar helaas, die koffiewinkel was nie oop nie, so ons moes maar verder ry.


Die Spreetshoogte-pas was voor ons en beide die Fortuner en die bestuurder het hulle staal gewys. Dis een van die steilste passe in suidelike Afrika want dit klim amper 1 000 meter binne 4 kilometer. Gelukkig is die steilste gedeeltes en die skerp haarnaalddraaie geplavei wat dit effens makliker maak. 




Ons het gestop vir foto’s en later gehoor van mense wat die pas met volgelaaide beeslorries uitry en ook ander wat hulle kar se clutch uitbrand teen die pas uit. Hoe weet ek nie, maar dis wat die mense wat moes gaan help vertel.

Die Namibgrens Guest Farm is naby die nedersetting van Nauchas en die kampplekke was heerlik. 


Daar is 12 staanplekke, goed versprei tussen die rotse en elkeen het ‘n afdak, braai, opelugstort en toilet. Die kamp het nie krag nie, maar die ablusiegeriewe is baie oulik gebou met donkies vir warm water. 



Ons toilet by Namibgrens



Die donkie en stort

Namibgrens-kamp se swembad


Ons was verras met hoe effektief die donkie gewerk het – die werkers het die donkie 17:00 gestook, ons het teen 20:00 gaan stort en daar was teen die volgende oggend nog genoeg warm water om weer te stort. Die nagte was koud, so daai donkies het die water baie goed warm gehou.

Ons was ook vermaak deur die bobbejane, maar hierdie groep was darem ‘n bietjie meer skrikkerig vir mense as Pringlebaai se bobbejane. Die brandwag het ‘n oog gehou terwyl ‘n groep wat op die kamp se grasperk en by die swembad gespeel het. Jakkie was ons brandwag, gewapen met sy kettie en ‘n hoop klippies wat hy byderhand gehou het, maar gelukkig het hulle nie veel kanse naby ons kamp gewaag nie.

Namibgrens bak ook die lekkerste sourdough brood en Jakkie het ons brood vroeg Woensdagoggend gaan haal. Nog warm, met die perfekte harde kors en sag binne. Ons het eers gestry oor wie die eerste korsie gaan kry en toe botter op ‘n paar snye geplak.

Donderdagoggend, op pad Rehoboth toe, het ons vir Kalf, Sandra en ‘n groep plaaskinders by die beeste ontmoet. Die kinders was saam Sandra om hulle kwartaalrapporte te kry en dan vir ekstra lesse aan te meld. Jakkie het gelukkig onthou van die versameling ou (nuwe) kepse wat ons al vir 5 maande saamry sodat ons dit vir juis sulke kinders kan gee. Die kinders het almal nader gestaan vir hulle keps en toe geduldig poseer vir ‘n foto saam met ons. 

Kar vol blomme - baie mooi




Ek hoop die kepse het hulle bietjie woema vir die ekstra lesse gegee, maar dit was die eerste dag van vakansie, so ek twyfel of dit genoeg motivering was. Kalf het ons aangeraai om 25km verder by die Nauams kampplek te stop om te kyk wat dit bied. ‘n Goeie verwysing, want die plek is ook baie oulik met sommige van die kampplekke wat ‘n eie wood-fired hot tub het.

Die laaste kamp voor ons weer in Windhoek is was by Lake Oanob Resort, ongeveer 8km buite Rehoboth. Die dam, wat in 1990 voltooi is was gebou om die Oanob rivier op te dam en so water aan die omliggende gebied te voorsien. Die kampplekke, meeste met ‘n uitsig oor die water, behoort deels aan die oord en deels aan privaat eienaars. 



Ons kuiergas



Die enigste nadeel is dat nie baie van die kampplekke nie regtig vir karavane geskik is nie, dit lyk of die meeste gebou is vir tente. 

Oanob se restaurant kyk oor die water uit



Dis in ‘n privaat reservaat en Jakkie was opgewonde om ‘n paar volstruise (agter ‘n heining) te sien!

Ons volgende stop is (vinnig) in Windhoek sodat ons Maandagoggend vir Carina by die lughawe kan oplaai. Wat daarna op die reisplan is bly vir nou eers ons geheim sodat dit vir Carina ‘n verrassing is. Ons sal volgende week meer vertel.

NS. Die volgende foto het ek spesiaal by Duwisib kasteel vir die Elandre, Tanya en Carina geneem - dis 'n kontrepsie wat gebruik is om krultange oor 'n vlam warm te maak vir mooi haarkrulle. Dink net hoe lank mooimaak in 1909 gevat het en hoeveel oepsies met 'n te-warm krultang kon gebeur het! 😲










Opmerkings

Gewilde plasings