THE FAR SIDE OF THE MOON
Sondae in Swakopmund is stil en meeste van die winkels en besienswaardighede is gesluit, so ons het ‘n rustige dag gehad.
Ons het op die bekende
jetty gaan stap, ‘n draai by Duin 7 gaan maak en by die karavaan aan die einde
van die promenade gestop vir heerlik sagte calamari. (Dis nog steeds so lekker
soos ons laaste besoek in 2021!)
Ons volgende stop was by Goanikontes wat nie baie ver van
Swakopmund af is nie, so ons kon die laaste dag nog ‘n paar draaie ry. Swakop
Vellies was eerste op die dag se agenda en ek is daar weg met ‘n paar rooi
vellies. Ons het ook by die Swakopmund Brauhaus gaan eet waar Jakkie en Carina
elkeen ‘n bier en yslike eisbein probeer baas raak het. Ongelukkig het die
eisbein gewen en is ons daar weg met twee doggy bags wat vir die volgende dag
of twee die padkos sou uitmaak.
Goanikontes is deel van die sogenaamde “maanlandskap” ongeveer 40km buite Swakopmund.
Die plek self is ‘n oase in die middel van die maanlandskap wat ‘n kaal, droë stuk van die Dorob Nasionale Park uitmaak. Die oppervlak van die maan is veronderstel om soos die berge en dale van die omgewing te lyk.
Party mense is soms gepla met die maan, maar nie een
van ons was al op die maan nie, maar jy kan jouself nogals indink dat dit so
moet lyk.
Die Goanikontes kamp lê soos ‘n groen juweel tussen
die dorre koppies en is ‘n welkome gesig. Ons kampplek was baie lekker want
daar was genoeg skaduwee en privaat ablusie wat lekker was na die minder
aangename fasiliteite van Sophia Dale buite Swakopmund.
Ons het ietsie gaan drink by die restaurant en ook ‘n
vinnige draai by die klein dieretuin gaan maak. Ons was daar net voor
toemaaktyd en dus die diere se aandete – die miniatuur perdjies se bokspronge
en die alpaca met die ernstige ondergebit het vir genoeg vermaak gesorg.
Die volgende oggend het ons ‘n spesiale besoeker by die kamp gehad. ‘n Klipspringerooitjie het ewe gemaklik nadergestaan om te vra vir lekkernye.
Ek en Carina het haar kop gekrap en van die spinasie gevoer voor sy
aanbeweeg het om by ander kampplekke te gaan rondsnuffel. Die ontvangs het
vertel dat sy ‘n babatjie het wat sy iewers wegsteek en gereeld kom bedel vir
ietsie lekker om te eet.
Ons het via die D1991 by die B1 aangesluit en toe nog ‘n
harsingskuddende sinkplaat grondpad na Spitzkoppe getref. Net toe ons stop om
Spitzkoppe in die verte af te neem het die kinders van die omliggende gehuggies
soos ‘n kolonie miere uitgedop en aangehardloop. Ons het net ‘n paar appels en
nartjies in die kar gehad wat ons kon uitdeel, maar elkeen het darem ook ‘n
keps present gekry.
Spitzkoppe, een van Namibië se ikoniese landmerke, is ‘n graniet “inselberg” of alleenstaande koppie of berg wat skielik in die vlaktes verrys.
Die graniet is meer as 120 miljoen jaar oud en die hoogste punt rys tot ongeveer 1 728 meter bo seevlak.
Ons het om Spitzkoppe gery en kon die mooiste foto’s neem – maar toe oorval die honger ons en moes ons stop om eers ‘n toebroodjie te maak. Met vol magies kon ons darem die pad na Usakos aandurf. Usakos is ‘n klein dorpie met nie veel wat gebeur nie, maar ek kon darem die skool sien waar my ma skoolgegaan het en die NG Kerk wat sy twee keer op ‘n Sondag as koshuiskind moes aanmeld.
Ons het 10km buite Usakos by Achab gekamp. Die gasteplaas het ‘n aantal kampplekke, selfsorghuisies en ook ‘n baie mooi venue vir troues of verjaardae. Die meeste kampplekke is teen die droë rivierloop van die Khanrivier en het baie unieke storte en toilette.
![]() |
| Storte met 'n uitsig |
![]() |
| Toilette met 'n uitsig |
Ongelukkig is daar geen krag nie (nie ‘n probleem vir ons nie) en ook geen selfoon- of internetsein nie (‘n effense probleem vir Netwerk24 verslaafdes). Jakkie en Carina het teen die koppie agter ons kampplek opgeloop – met die router en Gizzu in hand om te kyk of hulle op hoër grond ‘n sein kon vang. Tevergeefs…
![]() |
| Brixton, we have a problem... |
Die ontvangsarea het darem wifi en
hulle kon ten minste almal laat weet dat ons veilig was. Dit was ons voorlaaste
aand saam met Carina en Jakkie het vir oulaaste gebraai.
Ons is in Swakopmund gewaarsku dat die ooswind op pad is na die
kus toe en ons het ‘n bietjie van die onaangenaamheid in Karibib ervaar. Terug
in Windhoek moes ons eers gou stop om nog ‘n keer die pulled lamb toebroodjie
by Hartlief te eet voor ons Monteiro toe is vir ons laaste aand saam met Carina.
Dis ‘n heel aanvaarbare oornagplek net buite Windhoek, maar jy hoor wel die
verkeer van die besige B1 hoofroete.
![]() |
| Spotty speel bal met 'n klip |
![]() |
| Wie kan nee sê vir so 'n gesiggie? |
Dis ‘n baie oulike hondjie – wat met klippe speel soos ander honde met ‘n bal speel! Hy het spesiaal ‘n groterige klip aangedra en ek moes dit vir hom gooi sodat dit weer kon terugbring.
Ons het ‘n paar weke gelede (by Gondwana se Etosha Safari Camp) twee vreeslike oulike mense, Lize en Josh Kruger, ontmoet. Josh is ‘n pastoor en Lize werk vir ‘n internasionale sendingorganisasie. Ons het die aircon en ‘n paar ander items by hulle in Windhoek gelos om ‘n gaatjie in die kar vir Carina te maak. Ons het die wa by hulle huis gelos voor ons die laaste dag saam met Carina in Windhoek spandeer het. Natuurlik is ‘n besoek aan Joe’s Beerhouse ‘n móét en ons het vir Carina met ‘n totweersiens-middagete by die unieke restaurant trakteer.
Daarna is ons lughawe toe en moes Carina (voorlopig) vir
Namibië auf Wiedersehen toewens.
Josh en Lize is ongelooflik gaaf en gasvry en het ook vir ons
hulle tuinwoonstel vir die volgende twee nagte aangebied. Dit was soos manna uit
die hemel want ons wasgoedbondel was enorm en die wa en die kar erg vol stof. Die
kuier was regtig lekker en die eerste aand het ons by Cape Town Fishmarket gaan
eet en die tweede aand het ons saam met Josh, Lize, klein Josh en Matthew gebraai.
Dit was so lekker! Josh het vir ons gemsboksteak, skaaptjops en pofadder
gebraai en Lize het die lekkerste bolletjie-brood gebak.
Ons Windhoek-stop was nie net om vir Carina op die vliegtuig te
besorg nie, maar ook om ons toeriste-visums met 90 dae verleng. Ek het die
vorms voor die tyd voltooi en ons het met blink geskropte gesiggies by die Ministry
Of Home Affairs,Immigration, Safety And Security opgedaag. Min het ons besef
dat Jakkie se tweedaagse besoek aan Johannesburg ‘n effense probleem sou
veroorsaak. Die datums in ons paspoorte stem nie meer ooreen nie en ek was reg
vir ‘n verlenging maar Jakkie se aansoek vir die verlenging was “te vroeg”. Dus
sal ons maar weer met gretige gesigte by die Ministry se streekskantoor in
Walvisbaai moet gaan aansoek doen. Moedswillige burokrate veroorsaak krampe in
my onderstel… Ons kon ten minste die wasgoed by ‘n wassery laat was en die kar
en wa se buitekant laat skoongespuit.
Ons was aanvanklik van plan om vir nog ‘n dag of twee in Windhoek te bly maar het besluit om eerder die volgende paar dae by Omatozu buite Okahandja te spandeer. (Dankie, Marlene!)
Dis op ‘n wildsplaas geleë, so geen
stadsgeraas nie, net rus en vrede.
Vroeg volgende week beweeg ons weer na Swakopmund sodat ons die
verlenging van die visums kan uitsorteer en ook om die Fortuner se voorruit te
laat vervang. ‘n Voertuig op die pad tussen Solitaire en Walvisbaai het gesorg
vir ‘n klip teen die ruit en die kraak versprei teen ‘n spoed. (Dis nou na ons
verlede week by Toyota in Walvisbaai moes stop sodat hulle die 2WD/4WD sensor
kon vervang. Dieselfde roete het gehelp dat ‘n klip die sensor se een draadjie
morsaf geslaan het.)
![]() |
| Dis hoe die klippe die Bush Lapa se mudflaps sover gevreet het |































Opmerkings