A RIVER RUNS THROUGH IT

 


Die inkopietog na Opuwo het ook ‘n langdurige gesoek na sekere waterpyp konneksies ingesluit, want die klippe op die pad het die pyp tussen die wa se tenk en krane afgeslaan.

1 x verlore pyp

Ons was by Agra, ‘n winkel wat boumateriaal verkoop en selfs by ‘n winkel wat karparte verkoop maar moes leë hande omdraai. Ons is eindelik terug Agra toe want Jakkie het intussen ‘n boere-plan gemaak om die pyp reg te maak. Daarna was ons vinnig by die Spar en die OK Foods om ‘n paar nodige goedjies te kry. Die winkels in Opuwo is nie juis ‘n inspirasie nie, dis maar redelik bare bones want die aanvraag is eenvoudig. Om iets eksoties op Opuwo te soek is soos om wors in ‘n hondehok te soek…

Ek was in die winkel en Jakkie was die Fortuner se wagter. Ek het so vinnig as moontlik gemaak want die mense is arm, opdringerig en die meerderheid vrouens loop topless rond, so jy weet soms nie meer waar om te kyk nie.

Terug by die kamp het Jakkie dadelik aan die werk gespring met sy boere-plan om die stukkende waterpyp reg te maak. Na ‘n week van nog erge grondpad en die daaglikse gebruik van die watertenk werk die boere-plan soos ‘n droom!

Jakkie se boere-plan wat baie goed werk

Dinsdagoggend is ons noord, na die Epupa-valle toe. Ons was in 2021 saam met Jan en Annelize daar, maar die keer het ons by die Omarunga Lodge and Camp gebly – dis ‘n Gondwana oord en die Gondwana-kaart wat ons gekoop het bewys sy waarde nog elke keer.

Die pad na Epupa is redelik goed en redelik sleg, dit hang net af waarmee jy ry en waar jy ry. Maar ons het ‘n hele paar kanse gekry om keppies en klein pakkies chips uit te deel. Die pakkies chips het ons baie goedkoop by Opuwo se Agra gekry, ‘n jumbo pak met 50 klein pakkies in, dus die ideale “ietsie lekker” om saam met die keppies aan die kinders uit te deel.

Keppies, chips en boekies maak almal se harte bly!

Ons het ook die eerste van die groot kremetartbome gesien, baie bekend in die noorde van Namibië.

Omarunga, soos die meeste van die kampplekke by Epupa, is op die oewer van die Kunene-rivier geleë, net ‘n paar honderd meter van die Epupa-valle. 




Die houtbeeld van 'n Himba-vrou by Omarunga


Ek was dankbaar dat ons die keer ‘n kampplek met elektrisiteit gehad het, want die mense in Suid-Afrika mag dalk tans met wintersjasse rondloop, maar die temperatuur teen die Kunene het bedags by 34 ˚C gedraai. Dus kon ek die waaier weer inspan! Ons het juis in Opuwo die meeste van ons wintersklere weggepak en weer die somersklere uitgehaal!

Die Kunene-rivier vloei tans sterk, so die valle was vol en besig. Ons het elke dag na die valle gestap om foto’s te neem en saans met die gedreun van die valle aan die slaap geraak en soggens so wakker geword. Dit het geklink of ons reg op die strand was met die gedreun van die branders in ons ore.





Die Kunene het ook vir ons die geleentheid gegee om ‘n hele paar “nuwe” voëls in ons boek te merk – ons is nie obsessiewe voëlkykers nie, maar ons was gereeld super-opgewonde om nog ‘n nuwe spesie uit te ken en te merk. Die Caprivi lê nog voor en die area is bekend as ‘n voëlparadys, so hopelik is ons oplettend genoeg!



Besoeker 1: 'n likkewaan

Besoeker 2: 'n eekhoring


Besoeker 3: 'n baie kleurvolle koggelmander

Na ons verblyf by die Epupa-valle het die Fortuner se neus oos gedraai met die grondpad wat al langs die Kunene kronkel. Die toestand van die pad hang van die seisoen af – gedurende die winter (droë seisoen) is dit redelik begaanbaar. Daar was dele waar dit duidelik verspoel het, maar Jakkie en die Fortuner het weereens hulle vernuf bewys.

'n Verkeersknoop - die Himba bokwagters hou die "verkeer" op






Ons het nog van die keppies en die laaste van die pakkies chips uitgedeel op die roete en kon darem foto’s van die meeste neem.


Eindelik het ons by Swartbooisdrif arriveer – daar gaan regtig nie veel aan nie, maar ons het wel die Dorslandtrek-gedenkteken net buite die nedersetting besoek. 








Swartbooisdrif is waar die Dorslandtrekkers die Kunene in 1881 na Angola oorgesteek het. Die afstammelinge van die eerste Dorslandtrekkers het ook in 1928 by Swartbooisdrif weer uit Angola teruggekeer om hulle in die destydse Suidwes-Afrika te vestig.

Die volgende stop was vir ietsie koud by die Kunene River Lodge – nog ‘n plek waar ons in 2021 saam met Jan en Annelize gestop het. 


Daarna het ons die laaste stuk na Ruacana aangepak waar ons die aand sou oorstaan. Die dag se afstand was 130km en hoofsaaklik as gevolg van die pad se toestand het dit ons 6 uur geneem om tot by ons volgende kampplek te ry. Ons was lekker gatlam.

Die kampplek by Ruacana was maar verlate en nie wonderlik versorg nie, maar ons het net vir een aand oorgeslaap.

Ons het Vrydag- en Saterdagaand by die Ongula Homestead Village Lodge oorgebly, ongeveer 20km buite Ongwediva op die pad na Eenhana. 



Dit was ‘n welkome stop om wasgoed te was maar ook om ‘n bietjie meer uit te vind oor die toerisme, gasvryheid en agri opleiding wat hier plaasvind. Ek het vir Jakkie probeer oorreed om die mopaniewurms op die spyskaart te probeer, maar hy het volstrek geweier!

More gaan ons in die rigting van Rundu begin beweeg om die Caprivi goed te gaan verken.

 NS. Ons het al verskeie karavane/sleepwaens op die trip gesien wat lelik seergekry het as gevolg van die klippe op die grondpaaie. Die Bush Lapa het tot dusver baie goed gevaar met minimale skade of probleme. Hier en daar was daar 'n klein ietsie, maar ons is baie dankbaar dat ons so geseënd was. Die wa het stone guards op en ons het in Bloemfontein spesiaal nog 'n stone guard op die Fortuner gesit, en selfs met alles is daar tog maar skade. Niks soos ons by ander mense gesien het nie, maar wel goed wat duidelik wys.

Die "reflective tape" op die A-frame is afgeslaan

 

Dis nie 'n muis wat kaas gesteel het nie, wel die klippe wat die wa se stone guards wegslaan.



 



Opmerkings

Gewilde plasings