MEAT IS MEAT - AND A MAN MUST EAT

 

Welkom by staanplek 2!

Die afstand van Ongula na Eenhana was kort en ons was van plan om by ‘n supermark te stop vir basiese proviand. Ons was nou stewig in die rooilyn-area so ons wou ‘n bietjie van die vleis aanvul, maar tot dusver was dit ‘n groot gesukkel. Ewe dapper het ons by Eenhana se Woermann Brock gestop, Jakkie het by die kar gewag en ek is by die winkel in. Wel… Ek kon darem ‘n pakkie sampioene, ‘n pakkie wine gums en 'n drinking yoghurt vir ons elkeen kry. Die “vleis” was alles gevries en ek kon kies uit pakkies stowevleis van onsekere ouderdom, beesruggrate en pakkies pork trotters. Van die vorige plekke se vleiskeuses was baie vreemd - van dit het gesorg vir nagmerries!

Ek moes iets kry om vir aandete te maak want ons volgende stop was net vir een aand. Die veiligste was die gevriesde hoenderlewertjies – dit was een van daai winkels waar my pa ons geleer het om iets te kies wat in die fabriek verseël is. Teleurgesteld is ons toe maar verder…

Die pad van Eenhana na Rundu, deesdae die B10, loop 30km suid en parallel met die Angolese grens. Die pad is deesdae geteer maar tydens die Grensoorlog (1966-1989) was die 300km bekend as “Oom Willie se wit pad”. Dit was ‘n grondpad wat deur Oom Willie Human en sy padskraper onderhou is – en nogal ‘n gevaarlike stuk pad met landmyne besaai wat gereeld deur die Suid-Afrikaanse Weermag gepatrolleer is.

Oom Willie se wit pad, 1989 (© John Liebenberg/UCT Photography Collection)

(© Graham du Toit)

Vir die wat hierdie tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis kan onthou is dit ‘n pad wat jou laat dink. Ek het aan my broer gedink wat vir 4 jaar aan die 202 Bataljon in Rundu en vir nog 4 jaar aan die 32 Bataljon in Buffalo verbonde was. Ek het gedink aan my ouers en die duisende ander ouers wat gedurende daardie jare hulle 18-jarige seuns as gevolg van konskripsie vir twee jaar aan die Suid-Afrikaanse Weermag moes “leen”. Dit het my aan die herinnering van die joernalis en skrywer, J.H. Thompson, laat dink: “Wat ek die beste onthou, is ouers wat huil. Ek dink nie hulle het regtig gehuil omdat hulle seuns weggaan nie, maar eerder omdat hulle nie geweet het waarheen die kinders gaan nie.” My ouers het gedurende ‘n spesifieke 12-maand periode slegs twee keer ‘n brief van my broer gekry toe hy as deel van 32 Bataljon permanent in Angola operasioneel was. Die angs en (soms) desperate hoop van beide jong troepe en hulle families is deesdae vir die meeste ‘n onbegryplike konsep of selfs net ‘n vae herinnering, maar dit het my herinner aan die heel laaste reël van die Wilfred Owen gedig: “…you would not tell with such high zest/To children ardent for some desperate glory,/The old Lie: Dulce et decorum est/Pro patria mori.”

Kanyikama Rest Camp net buite Nkurenkuru was ons volgende oornagplek en alhoewel die kampplekke nog nie amptelik gereed is nie het ons heel lekker op die oewer van die Kavango-rivier gekamp. 


Daar is nie krag nie en slegs een badkamer wat redelik ver van ons af was, maar genoeg skaduwee en min mense. Ek het romerige peri-peri hoenderlewertjies (dankie Woermann Brock Eenhana) en Jakkie het pap gemaak en ons het ‘n rustige aand langs die rivier spandeer. (Jakkie het wel ‘n onrustige oog gehou om te kyk vir enige rondloper krokodille of seekoeie…)

Die volgende twee dae se kamp was by Hakusembe River Lodge, ongeveer 10km voor Rundu. Die Lodge is ook deel van die Gondwana Collection en het nie teleurgestel nie. Daar is net 4 kampplekke maar elkeen het privaat ablusie.



Ons kon die mense en beeste aan die Angolese kant van die rivier goed sien en het elke middag gekyk hoe die kinders in die rivier staan om vis te vang met nette. Baie dapper van hulle, want daar is altyd die moontlikheid van krokodille.



Die inkopietog vir ordentlike vleis is in Rundu voortgesit, en tussen die Rundu Mall se Shoprite en die plaaslike Woermann Brock kon ons darem ‘n bietjie boerewors en steak kry. Die res was ‘n (varser) herhaling van die vleiskeuses in Eenhana.

Die mense eet meestal stews want daar is baie monde om kos te gee. Die armoede in die noordelike streek van die land is opvallend. Die bestuurder van die Ongula Heritage Village Lodge het aan ons verduidelik dat 50% van die Namibiese bevolking noord van die Rooilyn woon, maar dat daar die mense slegs 20% tot die land se ekonomie bydra. Dis duidelik in die armoedige “krale” en opstalle wat langs die pad gevestig is. Familiegroepe woon saam in die krale, miskien met ‘n long drop maar meestal geen waterkraan nie – water word in houers aangedra. In die streke besef jy dat jy nou regtig in Afrika is…

Vanaf Hakusembe het ons ‘n hele 27km verder tot by Kaisosi Lodge gery. 


Dis aan die ander kant van Rundu en het heerlike groot bome en privaat ablusie. Ons het nou al geleer - inligting soek by Google werk nie regtig in Namibië nie, behalwe as jy akkommodasie soek. Dis NIE Suid-Afrika nie. Die beste manier om algemene goed uit te vind is om die mense te vra, so ons het by Kaisosi se ontvangs gevra waar ons vars vleis kan kry. By die OK Foods in Rundu... Die plek se slaghuis voorsien "Westerse" vleisprodukte - ons was so bly!

Ons het weer ‘n draai in Rundu gemaak om die probleme met die SIM-kaart by MTC uit te sorteer, vleis by OK Foods te koop en ook om ons voorskrifmedikasie te kry. Rundu Apteek is baie mooi binne met Europese parfuums, skoene en selfs dekoritems. Ons is ‘n Afrikaanse apteker gehelp so ek kon vir hom vra waarvoor die helderkleurige Tokoloshe Salts wat op die rak is gebruik word. (Daar was ‘n hele rak vol van die goed, reg by die apteker se toonbank.) 

Volgens hom is die plaaslike mense baie bygelowig en soos baie in Afrika glo hulle aan die tokkelossie. Dus koop hulle die Tokoloshe Salts en strooi dit rondom die huis om te verhoed dat die tokkelossie hulle pla. Die man het lekker gelag en bygevoeg dat so ‘n houer Tokoloshe Salts ‘n goeie aandenking is!

Kaisosi River Lodge het ons vermaak met die plaaslike pou en ‘n albino tarentaal wat elke dag vir ietsie te ete kom vra het en ‘n losloper seekoei wat op die rivieroewer kom kuier het.



More ry ons ‘n ent verder met die B8, nader aan die amtelike begin van die Caprivi-pypsteel. Ons sal in die komende week ook die Mashare Blueberry Farm, deel van Mashare Agri, besoek. Wie het gedink ons sal plaasvars bessies in die ooste van die Kavango-streek kry?

NS: Ons het pap en wors gemaak die laaste aand by Ongula en toe, uit die bloute, kom die mooiste wit Labrador by ons kuier. Hy het vreeslik by Jakkie gevry tot hy 'n bietjie van die oorskiet pap en worssous gekry het.

Kyk dan nou net hoe mooi vra hy met sy voet vir 'n happie!

By Hakusembe het ek met die Lodge se kat maatjies gemaak - ons het later uitgevind die kat se naam is Nicholas... En Nicholas het lekker op my skoot kom kuier!



Maar by Kanyikama het die eienaars 'n hele werpsel babahondjies gehad wat binnekort na hulle nuwe eienaars moet gaan. Die oulikste klein goedjies - steekbaard worshondjies met sulke lekker groot trappers. As ons nie oor grense moes reis nie het ek vir my een ingelaai!l

 

Opmerkings

Gewilde plasings