PLAY MISTY FOR ME...

 


Omatuzo was baie rustig, want die kampplekke is ruim en elkeen het sy privaat ablusie. Dit help as jy jou goed in die badkamer kan los en nie elke keer hoef heen en weer te stap met ‘n handdoek en toiletsakkie onder die blad nie.

Die voëllewe rondom die kamp was besig en na die eerste oggend het die voëls geweet dat ek voëlsaad strooi so dit het soos nagmaal op Dealsville gelyk rondom die kamp. Ons het ook die Duitsers wat vir ‘n nag of twee gekamp het ontmoet. Hulle sou die spesifieke dag terugvlieg Duitsland toe en het orige items soos kookolie en foelie vir ons geskenk.

Die kamp is regtig mooi en gemaklik – definitief ‘n plek om weer te besoek.

Ons het Dinsdagoggend weer in die pad geval, rigting Swakopmund. Natuurlik moes ons by die Wilhelmstal padstal stop vir koffie en om van die biltong en droëwors te koop. Die padstal gebruik Slowtown Coffee Roasters se bone, so die koffie is heerlik!

Ons eerste aand in Swakopmund by Alte Brucke Resort was maar koud en nat. Nie reën nie, maar digte mis. Dus het ek die gevriesde tamatiesop vir ons warm gemaak en ook varsgebakte brötchens met tanne-botter. Ten minste het elke staanplek ook privaat ablusie so dit maak weereens dinge meer gemaklik. 



Donderdagoggend is ons vroeg hier weg, reguit na die Ministry of Home Affairs, Immigration, Safety and Security in Walvisbaai. Dis nou om (hopelik) ‘n verlenging van ons toeriste visums te kry. Ek noem die Ministry se volle naam, want daar vind ons uit dat ons saam met die aansoek ook ‘n “motivation letter” moet inhandig om te motiveer hoekom ons die verlenging benodig. (Kon die vrou by die hoofkantoor in Windhoek dit nie vir ons gesê het nie??) Die man wat ons aanvanklik gehelp het kon darem vir ons elk ‘n vel skoon papier gee sodat ons die brief kon skryf. Hy het aanbeveel dat ons die Ministry se volle naam bo-aan die brief skryf… (Ek het my oë in my gedagtes gerol, maar stilgebly.) Toe trek ek en Jakkie weg en skryf daai briewe in ons beste Brits. Jakkie het meestal by my afgekyk het, maar ek het dit maar toegelaat. Toe wag ons voor ons dit inhandig – net om te hoor by ‘n ander burokraat dat hulle ‘n “directive” van die hoofkantoor ontvang het wat stipuleer dat die streekskantore net 60-dae verlengings mag toestaan. Wie is ons nou om dit te waag stry? Maar ek moet sê – die ondervinding was 50% minder frustrerend as wat jy in Suid-Afrika sou ondervind. Tussen die Minsistry se beampte wat moeg en gatvol gelyk het en die ander besoeker wat erg na uie geruik het is ons binne 60 minute daar uit met ons 60-dag visum verlenging. Nou kon die ernstige beplanning vir die noorde van Namibië begin. Sonder die verlenging sou ons 9 Julie uit Namibië moes wees – en die afstand van Swakopmund na die naaste grenspos is ongeveer 700km ver!

Ons het onsself beloon met lekker koffie en ‘n rohack brötchen by Willi Probst bakkery in Walvisbaai. (Carina is bly sy was nie saam toe ons die rohack geëet het nie!) Die plek is ‘n instelling in Walvisbaai en bestaan al dekades lank. Jy sal nêrens 'n varser of lekkerder brötchen kry nie!






Die paar dae in Swakopmund het gevlieg want Jakkie was besig om 84 inskrywings vir die Automechanika Frankfurt Innovation Awards te beoordeel en ek het die roete en blyplekke in die Noorde nagevors. Ons het darem na die karavaantjie op die einde van die promenade gestap om weer van die lekker calamari en tjips eet.

Saterdagmiddag het alles tot stilstand gekom want Jakkie het die rugbywedstryd tussen die Springbokke en Ierland gekyk. 

Dis ernstige sake as die Springbokke speel!

Ons het nie veel foto’s geneem nie want die dae was koud en baie mistig. Daar was elke oggend ‘n digte mis en alles was nat, wat verduidelik hoe die woestynplante die nodige vog kry om aan die lewe te bly.

Other-wordly mist...

Ons maak vanmiddag ‘n kerriehoenderpotjie en is van plan om die oorskiet saam te vat na Myl 108 (net voor die Ugab-hek van die Skedelkus) waar ons Maandagaand gaan slaap. Dis net ‘n oornagstop, want Torrabaai se kampplek is slegs in Desember en Januarie oop. Torrabaai is 300km noord teen die Namibiese kus op en dis regtig in die middel van niks, nêrens en die Atlantiese Oseaan. Die volgende dag ry ons vanaf Myl 108 tot tot by Torrabaai en dan verder tot by Palmwag. Na Palmwag gaan ons Puros toe vir ‘n dag of twee sodat ons vir nog van Kaokoland se Lone Men klipfigure kan gaan soek. Dis 'n ongesproke reël dat die koördinate van die mannetjies nie gelys word nie, sodat dit 'n uitdaging bly om hulle op te spoor. Daar is ongeveer 25-30 van die mannetjies in die Kaokoland, sommige in onherbergsame plekke soos die Marienfluss, so ons wil ten minste net 'n paar ekstra te siene kry.


Ons het in 2021 saam met Jan en Annelize ‘n paar gesien en die keer sal ons meer tyd hê om (hopelik!) van die ander op te spoor.

NS. Ek gee die voëltjies elke dag 'n bietjie kos - of voëltjiesaad of broodkrummels, Alte Brucke se klomp mossies en vinke is lekker hans - hulle kom vra gereeld vir ietsie lekker.

Waar is die kos? Dis koud en ek is honger!



Opmerkings

Gewilde plasings