WILD CAMPING ON A WHIM

 

Maandagoggend het met ‘n vaart begin want daar was ‘n paar goed wat ons in die dorp moes doen voor ons kuspad kon aandurf. Die Fortuner se battery het begin probleme gee – na ‘n dag sonder rondry wou die battery nie meer sy samewerking gee nie. Niks in die kar was aangeskakel nie, niks het krag getrek nie. Ons het dit Saterdagmiddag eers regtig besef en toe was al die werkswinkels al toe. So Maandagoggend is ons na die plaaslike Diesel Electric/Bosch in Swakopmund sodat hulle die battery kon toets. Die mense was baie gaaf en het ‘n paar toetse gedoen, maar helaas, die battery moes vervang word. (Klaarblyklik was die ou battery ook nie die korrekte battery vir so ‘n groot dieselvoertuig nie… Dankie, Battery Centre in Centurion, dat julle ons van die wal af in die sloot in gehelp het!). Die Diesel Electric het nie die spesifieke battery in voorraad gehad nie, maar het vir Jakkie na Cymot geneem om die nuwe battery te koop, die battery ingesit, anti-corrosion op die pole gespuit – en niks vir amper 60 minute se diens gevra nie. Hoekom? Omdat hulle nie die battery in voorraad gehad het nie. ‘n Gebaar van welwillendheid en diens wat jy deesdae nie gereeld teëkom nie!

Die auto electrician het ook opgelet dat die een spotlight se BOUTE (of BOUDE soos Jakkie en Jan tot my afgryse dit noem) het uitgeskud, so dit moes vervang word. Dus het ek baie vinnig vir Google Maps vra om ons eers na die een plek – en toe na die volgende plek te lei, alles opsoek na die korrekte boute vir die spotlight. Daarna moes ons die waterkanne volmaak en die gasbottels volmaak, alles by verskillende plekke. Maar dis gedoen en ons is met die C34 in die rigting van Hentiesbaai.

Die eerste stop was by die Zeila skeepswrak, wat so 14km suid van Hentiesbaai gestrand het. 

 



Die visserskuit, wat as skrootmetaal aan ‘n Indiese maatskappy verkoop is het in 2008, net na haar vertrek uit Walvisbaai, van haar sleeptoue losgebreek en by “Die Walle” gestrand.

Ons het by Hentiesbaai gestop om ‘n laat middagete by die Fishy Corner restaurant te geniet. Josh het die plek aanbeveel en ons was nie teleurgesteld nie! Ons kon ongelukkig nie te veel tyd spandeer nie, want ons moes nog tot by Myl 108 ry vir ons volgende kampplek.

Langs die pad het ons onsself vermaak met die gewilde visvangplekke se name – Predikantsgat (ek weet die bord lys dit as twee woorde, maar glo my, dit moet een woord wees!) en Bakleigat (selfde…). 





Die visvangplekke het almal name wat deur die jare ontstaan het want visvang op die strand (nie papgooi nie!) is ‘n ernstige tydverdryf in Namibië.

By Myl 108 (een van NWR se kampe) het dinge vinnig afdraende geloop. 

Myl 108 😝

Ons is oortuig daar was ‘n wegraping want ons kon nie ‘n enkele siel in die hande kry nie. Die verlate ablusies was vuil en grillerig, so daar was nie eers ‘n moontlikheid dat ons daar sou oorstaan nie. Toe moes ons maar ‘n ander plan maak en hier het iOverlander hulp gebied. 

Ongeveer 20km noord van Myl 108 was daar ‘n visvangplek (Blare) waar iemand vantevore al wild camping gedoen het. Dit was regte wild camping, want daar was absoluut niks nie. Net die strand en die duine. 




En die voetspore van ‘n strandjutwolf (strandwolf) – wat vir Jakkie bekommer het. Maar die strandwolf is ‘n alleendier wat net in die nag sal rondbeweeg, so ek was regtig nie bekommerd nie. Ons het gelukkig nog van die potjiekos gehad wat ons kon opwarm en die wa het water en gas gehad, so ons kon darem met warm water “skottel”.

Ons het net voor sonsondergang strand toe gestap om die laaste strale van die dag te aanskou. Dit was ‘n heerlike, stil aand wat unieke herinneringe sal hê, juis omdat dit so ‘n verlate plek is.

My laaste bottel Swartland Viognier maak dit tot teen die Skedelkus.




Die oggend was ons vroeg op vir die gewone koffie en beskuit voor daar bakkies arriveer het met manne wat gehoop het vir baie galjoen!

Ons volgende oggend se eerste slap links was na die Winston wrak wat sowat 5km vanaf die C34 soutpad is. Net toe ek waarsku dat ons eerder NIE verder moet ry nie en eerder uitklim en stap want ek kon sien die sand raak te dik en sag – toe spin die Fortuner sy wiele lekker diep in die sand! (Wie luister in elk geval na iemand wat langs die Weskus grootgeword het…?)


Toe moes ons maar uitklim en met die Indeflate die wiele afblaas om uit die sand te kom. Gelukkig het dit gewerk en ons kon na die oorblyfsels van die wrak stap. Die Winston was ook ‘n visserboot wat in 1970 tydens ‘n storm die geveg met die Atlantiese Oseaan verloor het. 




Daar is nie veel van die wrak oor nie, niks vreemd na meer as 50 jaar van Skedelkus-weer nie.

Terug op die soutpad was dit nie lank voor ons die Ugab-hek van die Skeleton Coast Park en ons “transit permit” gekry het nie. 




Dis regtig in die middel van niks en niks - maar dis iets om af neem, veral die bekende hekke met die skull and crossbones!

Na ongeveer 20km het ons gestop by die wrak van die Benguela Eagle (en die witgebrande walvisbene wat daar rondlê). 



Iemand het die skedel kunstig bo-op die walvisbeen rangskik



Die vissersboot het ook iewers in die 1970s gesneuwel. Daar is nog ‘n hele paar ander skeepswrakke teen die Skedelkus, maar van hulle het al heeltemal opgebreek, is begrawe onder die bewegende seesand of is in onherbergsame plekke wat slegs met ‘n vliegtuig bereik kan word.

Natuurlik moes ons stop by die ou, verlate olieboor wat in die middel van die woestyn se sand vasgevang is. 






Die olieboor dateer uit die 1960s, voor die Skedelkus area ‘n nasionale park geword het. Die olieboor was deur baie dapper plaaslike manne, Ben du Preez en Jack Scott, gebruik om vir olie in die woestyn te boor. Helaas, toe hulle tot op ‘n diepte van 1700 meter geboor het moes hulle aanvaar dat daar nie olie is nie. Laaste sien van die blikkantien – en alles is net so gelos sodat die ongenaakbare Atlantiese weer daarmee kon klaarspeel.

Nie ver van die verlate olieboor het ons regs gedraai op die C39 in die rigting van Khorixas.

Relatief kort na die afdraai sien ons die eerste fisiese teken van die veterinary control fence of Rooilyn heining. Dis ‘n dubbele heining a.g.v. bek-en-klouseer en dis om te sorg dat geen vee uit die noordelike area na die suide kan beweeg nie.

Ons volgende stop was by die Springbokwasser-hek van die Park sodat ons die “transit permit” kon ingee. 

Daarna het die Fortuner se neus Palmwag toe gestaan – maar ons moes eers langs die pad stop vir ‘n vinnige en eenvoudige middagete (ryskoekies met salami en kaas).

Net voor Palmwag is ons deur die beheerpunt van die Rooilyn en 5km verder kon ons eindelik weer by ‘n amptelike kampplek stop. Palmwag Lodge and Campsite is deel van die Gondwana groep en weereens het hulle nie teleurgestel nie. Die lodge en kampplekke is baie goed versorg en mooi met al die fasiliteite wat jy kan nodig kry. (Ek moet ook net noem dat alle besoekers ‘n vrywaring moet teken want die kamp is nie omhein nie.)





Ons badkamer




Die eerste oggend by Palmwag is ons deur die woestynolifante verras – ‘n groep met twee kleintjies het in die droë rivierloop (wat aan die kamp grens) gewei. Hulle was so naby aan ons, maar heeltemal rustig. Ons kon lekker foto’s neem voor hulle verder in die rivierloop af is.







Dis hoe naby die olifante was

Een van die algemene werkers het vir Jakkie gevra of hy na werk die Fortuner kan was - teen 'n fooitjie, natuurlik. Die kar was bitterlik vuil en ons het geweet dit sou weer vuil raak, maar 'n skoon kar sou lekker wees vir 'n dag of twee.

Die volgende aand was ons altwee net voor middernag wakker van geluide van buite af. Jakkie het met die flits geskyn – en daar staan ‘n olifantbul, skaars 10 treë van die wa af, rustig besig met sy midnight snack! 

A = die klap van een van die syvensters, B = ons badkamer venster en in die middel is die olifant

Hy het rustig gewei en takke geknak en later weer die pad gevat. Ons was darem nie enigstes wat wakker was nie want ons bure het ook met hulle flitse geloer wat aangaan.

Die volgende oggend sou ons hoor dat dit Jimbo, die alleenloper olifantbul is wat kom kuier het. 

Jimbo se spoor

Jimbo se bolle


Jimbo

Ons het hom ook in die rivierloop gesien, seker sodat hy kon verskoning vra vir sy middernagtelike avonture.

Ons het by Brandberg White Lady Lodge ver in die rivierloop gesoek vir die woestynolifante – en hier sien ons ‘n klomp twee keer in drie dae!

Ons sou oorspronklik via Puros en Orepembe na Opuwo gery het, maar toe onthou Jakkie van Saterdag se Springbokrugby en ons weet dat daar geen selfoonsein by Puros is nie. Dus moes ek my soeke na nog Kaoko klipmannetjies prysgee vir Dr Rassie en sy manne…

Die C43 na Opuwo is relatiewe goeie grondpad maar daar is talle knikkies wat jou gereeld onkant vang! Die Fortuner en wa was ‘n paar keer amper airborne aan die ander kant uit en ek het ‘n paar keer my ken op my bors gestamp, maar ons het dit gemaak.


Ons het langs die pad gestop om die Fortuner uit die jerry kanne vol diesel te maak – en toe ook uitgevind dat óf ‘n klip óf een van die vinnige knikkies het die waterpyp van die wa se tenk afgeslaan. Jakkie wou dit regmaak, maar die grondpad was net poeierstof wat dae lank aan hom sou klou. So dit moet in Opuwo gebeur.

Ons kamp by die Kaoko Mopane Lodge wat ongeveer 6km buite Opuwo is. Gistermiddag het Jakkie reeds vroeg aangedring dat ons die internetsein en DStv streaming moet toets, want hy raak soos ‘n moeilike kleuter as die sein sukkel en dis tyd vir Springbokrugby. Alles het goed gewerk – tot op ‘n punt. En toe begin die probleme. Ons het laptops verander, die MTC SIM-kaart van die ekstra selfoon na die router en weer terug in die selfoon. Niks werk nie. Toe hoor ons by die eienaars dat die MTC-sein in die Opuwo omgewing skielik geval het en dat dit die afgelop week ‘n gereelde probleem is. Toe moes ons baie vinnig in die Lodge se ontvangslokaal sit en hulle wifi probeer gebruik. Jakkie en Rudolf, ‘n jong outjie wat in Opuwo werk, het vir die hele wedstryd net daar, in die ontvangs, gesit om op die Springbokke te skree.

More sal ons proviand in Opuwo gaan koop want Dinsdagoggend ry ons Epupa toe, reg langs die Kunenerivier wat die grens met Angola vorm. En Opuwo is interessant… Dis die “hoofdorp” in die Kunene-streek en Himba-wêreld. Die OvaHimba is ‘n semi-nomadiese volk wat al vir eeue lank in die noorde van Namibië woon. Hulle is bekend vir die rooi mengsel van diervet, oker en plante wat hulle aan hulle lywe smeer. Die OvaHimba en die Herero was eens een volk, maar het ongeveer 200 jaar gelede verskillende groepe gevorm. Alhoewel altwee groepe baie goeie veeboere is en dieselfde taal praat verskil hulle deesdae baie.

Ek sluit foto’s van ‘n tradisionele Himba-vrou en Herero-vrou in sodat julle die very obvious verskille kan sien…

'n Tradisionele Himba-vrou
(© 
https://commons.wikimedia.org/wiki/user:Jescapism)


'n Tradisionele Herero-vrou
(© jimnaughten.co.uk)

Na ons verblyf by Epupa gaan ons met die grondpad wat langs die Kunene-rivier loop oos beweeg na Ruacana tot by Rundu. Van daar af gaan ons deur die Caprivi-streek toer.

Opmerkings

Gewilde plasings