BERRY BERRY BEAUTIFUL

 

Mukuku Rest Camp is ongeveer 60km oos van Rundu en reg op die Kavango-rivier geleë.

Die eienaars, Hannes en Ansie Pool, het sedert hulle aftrede 15 jaar gelede die kamp van niks in ‘n regtig mooi en rustige oase omskep. Die grond word deur ‘n langtermyn huurpagkontrak by die plaaslike gemeenskap gehuur – die onderhandelings en kontrak word deur die hompa (die hoofman of –vrou) hanteer. Die meerderheid grond in die Zambezi-streek word deur die plaaslike stamme besit en selfs die groot landbou-ondernemings wat deur die Namibiese staat ondersteun word moet grond op die manier huur.

Hannes en Ansie het regtig iets besonder op die oewer van die Kavango geskep. 








Die kampplekke is ruim, onder ‘n sambreel van groot bome, elk met privaat ablusie en ‘n ronde braai. Dit voel soos ‘n enorme groot tuin met hope bome en ‘n ryk voëllewe. Daar is ‘n artikel oor Mukuku Rest Camp in die Weg! Namibië 2024 – ons sal definitief weer daar gaan kuier!

Sundowners by Mukuku




Dis Klein Saterdag en tyd vir potjiekos

Dis juis die voëls wat vir vermaak gesorg het. Daar is twee jong volstruiswyfies, maar gelukkig is hulle in ‘n kamp weg van die huis. Die opgeskote poue het soos gangsters rondgestap en die ander voëls probeer intimideer. Die mak rooibekfisant het gesorg dat hy (of sy) uit hulle pad kom maar die tarentale het nie nonsens gevat nie.

Die rooibekfisant het elke oggend met fyn geluidjies soos ‘n opgewonde kleuter nader gehardloop om te vra vir kos en het selfs uit ons hand geëet.


Ons het ook vir Ray Sasman by Mukuku ontmoet. Sy is die eerste Namibiese vrou wat alleen van die Oranjerivier tot by die Kavangorivier en dan tot by die Zambezirivier stap. 

Haar solo staptog van 2 500km is om geld in te samel vir ‘n jeugsentrum in Walvisbaai en sy is tans besig met die laaste gedeelte van die stap. Sy het by Noordoewer begin met ‘n waentjie wat sy agter haar aansleep maar die wiele het bly breek, so toe los sy haar tent, slaapsak en waentjie agter en stap verder met haar groot rugsak. Die gewig van die rugsak het probleme met haar bene en voete veroorsaak so teen die einde van die staptog het sy net ‘n 15kg rugsakkie en twee stelle klere by haar. Sy maak staat op die goedhartigheid van mense om te oornag en het voor Mukuku juis by nonne van ‘n Rooms-Katolieke sending naby Rundu oorgeslaap.

Hannes en Ansie is ook baie betrokke by die plaaslike gemeenskap en het ‘n kleuterskool vir die plaaslike kindertjies gestig. Hulle help ook die laerskool uit met skenkings en raad oor die groentetuin wat die skool se voedingskema ondersteun. 


Ons het saam met Ray by die laerskool gaan kuier sodat sy met die kinders kon gesels oor haar staptog en die kinders het hulle tradisionele danspassies vir ons gewys.


As die skoolhoof praat beter almal luister

Ray Sasman by die manne wat die beat gee

Ons het ook 'n draai gemaak by Mashare Berry Farming - honderde hektaar blueberries wat onder nette gegroei word. Josh en Lize Kruger het ons van die plaas vertel en aanbeveel dat ons gaan kuier. Die mense was vriendelik genoeg om vir ons op 'n vinnige toer deur die verpakkingstoor te neem, maar ek moes al my juwele afhaal voor ons altwee 'n haarnet moes opsit en ons het ook warm baadjies gekry. Buite was dit 32 °C!, maar die verpakkingstoor is koud binne, so die baadjies was welkom.






Kyk dan nou net! 😜

Die plaas groei verskillende bessie variante waarvan die meerderheid vir die uitvoermark bestem is. Ons is gewoond aan kleinerige blueberries in die Suid-Afrikaanse mark, maar daar is ander variante wat dubbel die grootte is!

Uitvoermark

Plaaslike mark


Vrydagoggend het ons weer in die pad geval, nog steeds oos, maar die keer na die Divundu omgewing. Ons is nou in die bek van die Zambezi-pypsteel (voorheen die Caprivi-strook).


Riverdance Lodge is ook langs die Kavangorivier met heerlike staanplekke. Elke staanplek het privaat ablusie en ‘n dek op die rivier. 







Sundowners op "ons" dek... Ek het my voete in die water gehad, maar Jakkie was te bang vir die krokodille! 

Daar is wel effense gevaar van seekoeie, maar die oewers is baie hoog, so dit sal buitengewoon wees om ‘n seekoei in die kampplek te kry. Die gesnork van die seekoeie het ons die meeste nagte wakker gemaak, maar ons kon darem weer verder slaap. 

Panda, security dog

'n Beloning van beskuit na sy die hele nag moes patrollie doen

Die kamp se hond, Panda, het vir ons persoonlike sekuriteit gesorg (en elke oggend hard gevry vir happies beskuit).

Ons het ‘n draai in Divundu gemaak, maar te danke aan Tracks4Africa het ons hoofsaaklik deur die dorp na ‘n grondpad aan die ander kant van die Kavangorivier gery. Die pad lei na ‘n Angolese grenspos, maar ons het afgedraai na Fort Nagapie en die bouvalle van ‘n voormalige Suid-Afrikaanse weermagbasis.






'n Verkeersknoop naby die bouvalle van Fort Nagapie

Ons volgende kampplekke is aan die suidooste van Divundu, nie ver van Riverdance af nie. Die komende week sal ons die Bwabwatha Nasionale Park, Mahangu Nasionale Park en 32 Bataljon se ou basis besoek. Daarna sal ons verder oos beweeg na die Kongola-omgewing.

 



Opmerkings

Gewilde plasings