BUFFALO SOLDIER

 

Maandagoggend het ons vir oulaaste by Riverdance se restaurant ‘n lekker koffie gedrink voor ons die metropolis van Divundu se winkels aangedurf het. Niks het regtig van die vorige winkelbesoek verbeter nie, maar ten minste was daar ‘n groter verskeidenheid vars groente.

Shametu River Lodge was ‘n baie lekker plek om by te kamp, want die fasiliteite is goed beplan. 

Daar is 'n baie lekker restaurant en vanaf die dek wat oor die rivier uitkyk kon ons die Popa Falls sien.







Die kampplekke mag dalk nie op die rivieroewer wees nie, maar daar is baie skaduwee, ‘n ruim kombuisarea en aparte, privaat ablusie. Die lodge het ook ‘n uitgebreide groentetuin wat die restaurant se vars produkte voorsien.


Kombuisarea

Badkamer


Een van die eienaars het ons kom groet en toe ek hom vra of ek ‘n bossie vars spinasie by hulle kon koop het hy vir my nie net gratis vars spinasie gebring nie, maar ook ‘n bossie pietersielie, radyse en uie. Vars spinasie is moeilik bekombaar in Divundu se winkels, so die geskenk was meer as welkom! 

Groente, vars uit die tuin

Hy het ons ook raad gegee oor die volgende dag se besoek aan die Muhango en Buffalo Core Areas. Ek het toebroodjies en beskuit ingepak en die koffiefles is vroeg die volgende oggend gevul voor ons Muhango toe is. Ons het die hele dag in die twee parke spandeer en ongelooflik baie wild en voëls gesien.

DIERE

1.      Zebras
2.      Bastergemsbokke (roans)
3.      Kameelperde
4.      Koedoes
5.      Olifante
6.      Rooibokke
7.      Seekoeie
8.      Blouapies
9.      Bobbejane
10.    Krokodille
11.    Buffels
12.    Waterbokke
13.    Rooi lechwes
14.    Chobe bosbok (imbabala of bambi)
15.    Jakkalse
16.    Likkewaan
17.    Bergskilpad (leopard tortoise)











Pringlebaai was ook teenwoordig...






Rooi lechwe

Rooi lechwe


Chobe bosbok

VOËLS

1.         Aasvoëls
2.      Rooibors laksman (Crimson-breasted shrike)
3.      Gewone Troupant (Lilac-breasted Roller)
4.      Visarend (Fish Eagle)
5.      Maraboe (Marabou Stork)
6.      Lepelaar (African Spoonbill)
7.      Rooireier (Purple Heron)
8.      Rooikeelreier (Slaty Egret)
9.      Skoorsteenveër (African Sacred Ibis)
10.    Swartriethaan (Black Crake)
11.    Nimmersat (Yellow-billed Stork)
12.    Bosveldpapegaai (Meyer’s Parrot)
13.    Grys neushoringvoël (African Grey Hornbill)






Tussen die verkyker en kamera kon ons darem redelik baie van die diere vasvang.

Ons het ook by die ou 32 Bataljon-basis se murasies gestop en ‘n bietjie verken. 














Daar is bitter min oor van wat eens die trotse basis van hoogs-erkende gevegseenheid onder leiding van Luitenant-kolonel Jan Breytenbach, Kolonel Eddie Viljoen en Kolonel Deon Ferreira was. Die plek is verwaarloos en verlate, maar dit voel asof daar honderde skimme van die verlede in stilte wag vir die bevelvoerders se volgende dringende instruksies.

Die besoek was vir my belangrik en emosioneel gewees, want dis waar my broer vier jaar van sy lewe spandeer het, deel van 32 Bataljon, soms ook bekend as Buffalo Battalion of Os Terríveis (Portugees vir The Terrible Ones). Gert Kruger, wat in die 1980s deel van 32 Bataljon was, het die volgende gesê: “Some said that where ordinary people go to Heaven when they die, deceased 32 Battalion members go back to Buffalo”.

Na dit het ons deur die Pica Pau kamp, ongeveer 5km suid van die basis, gery. Ook net murasies en nog meer murasies. Tyd het ons gevang so ons kon nie ry tot by die opleidingsarea, Novo da Marco (9 Maart) nie, maar ons het wel tyd gehad om te soek vir die Kimbo begraafplaas waar meer as 500 van 32 Bataljon se troepe begrawe is. 


Dis maklik om die begraafplaas te mis, want dit lê knus langs die rivier en word verdeel deur ‘n tweespoorpad. Die bome en plante het alles oorgeneem, maar ten minste word dit nie geplunder nie want dis die presiese omgewing waar die olifante rivier toe stap om water te drink. Ons kon nie stop en uitklim nie, want daar was ‘n groot trop met ‘n hele paar klein olifantjies naby ons – en niemand wil met ‘n omgekrapte olifantkoei te doene kry nie.

Die dag was lank en Jakkie het bereken dat ons ongeveer 150km in die twee parke geryhet. Ons gô was uit en ons het ‘n heerlike ete as beloning in die restaurant geëet.


Ngepi, ons volgende kampplek, is ‘n skamele 10km van Shametu af so die oggend van ons vertrek moes ons tyd opmaak – dus ‘n luilekker koffie in die restaurant nadat die wa gehaak is. Ons het ook vinnig ‘n draai by Divundu se Metro gemaak vir ‘n paar benodighede – in Divundu is jou keuse tussen Metro of Choppies. Dis dit. Jakkie het karwag gespeel toe ek die Metro ingevaar het en hy het homself vermaak deur die dorp se “wildlife” af te neem…


Haastig oppad na die Metro

Ngepi se kampplekke is teen die rivier, amper reg oorkant die ou 32 Bataljon se murasies.



Met ons navorsing het die kamp gemengde resensies gekry, maar ons het besluit om ‘n kans te vat. Die kamp is regtig mooi geleë, maar die plek se onderrok hang ver uit en dis duidelik dat meer moeite gedoen kan word om na dit om te sien. 


Behalwe vir die ligging is die grootste aantrekkingskrag die “funky” ablusiegeriewe (hulle beskrywing) en die swembad wat in die rivier is. 






Die swembad is basies ‘n groot staalhok met ‘n houtdek wat in die rivier dryf. 

Dis interessant, maar Jakkie was glad nie geïnteresseerd om dit uit te toets nie. Hy vertrou glad nie ‘n drywende staalhok wat met seekoeie en krokodille gekombineer word nie!


Luister na die seekoeie in die rivier


Ons ry volgende deur die Bwabwatha Nasionale Park wat oor die lengte van die Caprivi-pypsteel strek. Die volgende paar kampplekke is in die Kongola-omgewing waarna ons na Katima Mulilo toe skuif. 

NS. Vir die wat gewonder het hoekom die apies blouapies genoem word... Kyk mooi, dis hoekom! 😂






Opmerkings

Gewilde plasings