GYPSIES AND TRAVELLERS

 

Die week was ‘n week van baie rondswerf, amper soos Romani gypsies, voordat ons uiteindelik by ‘n lekker kampplek kon ingeburger raak. Dis maar hoe ons die omgewing en kampplekke leer ken vir die volgende keer wat ons in die Caprivi kom kuier. Nie een van die week se kampplekke het krag gehad nie, so ons moes buite die boks dink om kos te maak – Kongola se metro het nie vleis vir braai nie en toe raak die een gasbottel ook leeg. En ons is nog 8 slapies in die streek voor ons by Katima Mulilo weer gasbottels kan vul!

Die eerste stop was by Mbezi, ongeveer 5km voor Kongola. Die kampplekke is ruim met eie ablusie, maar die omgewing loop onder droogte deur, so die sytakke van die Kwando-rivier is baie droog, so droog dat die kamp tans nie meer mokoro-ritte kan doen nie. Die droë sytakke wat die kamp omarm moet ‘n mooi prentjie maak gedurende ‘n goeie reënjaar. Die kamp word bestuur deur ‘n plaaslike man wat die kamp gedeeltelik bedryf om geld in te samel vir die weeskinders in die gemeenskap.


Ons eie toilet en stort

Die uitsig vanaf die kamp - hierdie gedeeltes is normaalweg met water gevul

Ons het die eerste nag op ‘n spesifieke staanplek met minder skaduwee deurgebring voordat ons die volgende oggend na ‘n ander staanplek sou skuif – met baie meer skaduweebome. Dis warm hier, elke dag draai by 36 ˚C, so skadubome is noodsaaklik. Daar was ‘n Europese toeris met sy campervan op die staanplek waarheen ons sou skuif en teen 11:00 die volgende oggend was hy nog steeds daar… (Vertrektyd is 10:00 in die oggend.) Die bestuurder het gaan uitvind wanneer hy van plan was om te vertrek, maar sy verskoning was dat hy ‘n maagaandoening het, die vorige nag sleg geslaap het en dus besluit het om nog ‘n nag te bly. Die omgewing se kraanwater kom direk uit die rivier en alhoewel die plaaslike mense gewoond is daaraan raai hulle besoekers aan om dit nie te drink nie, so miskien was die Europese man dapper en het van die water gedrink. Who knows? Die ander staanplekke was vol, so toe het ons maar opgepak en na ‘n ander kampplek gery.

Rupara Rest Camp, ons tweede staanplek, was via die C49 ongeveer 70km anderkant Kongola – as jy na ‘n kaart kyk is dit in die “pensie” van die Caprivi-pypsteel. 





Die gemeenskapskamp is baie naby aan die Nkasa Rupara Nasionale Park en bied kampplekke en safaritente.

Weereens het die droogte van die omgewing ons getref en die bestuurder het ook verduidelik dat die kamp gewoonlik deur water omring word, maar die jaar is dit heeltemal droog. Hy het bygevoeg dat daar normaalweg seekoeie en krokodille naby aan die kamp is, maar die diere het agter die water aan verdwyn. Ons het darem in die middel van die nag die olifante wat kom water drink en wei het gehoor... Dit was ongelukkig te donker om iets te sien, maar ons was bewus van hulle!

Gewoonlik loop daar groot water onderdeur die brug

Ons moes oor drie brue ry om by die kamp te kom, so dit is ‘n goeie aanduiding dat die rivier se sytakke gewoonlik vol water is.

Die oggend wat ons die kamp verlaat het moes ons mooi ry, want die vorige nag het die olifante bome in die middel van die pad omgestoot. Nie groot bome nie, maar Jakkie moes mooi in die tweespoor-pad reverse om 'n alternatiewe roete te kry.


Die volgende kampplek was by Sharwimbo River Camp, die keer terug in die rigting van Kongola. 





Die kamp is op die rivier en het die mooiste tuine en grasperke – ons waardeer ‘n stukkie gras, want met die stof van die swart riviergrond is dit ‘n konstante stryd om ons voete en hakskene skoon te hou. 



Die kamp het ook tented chalets wat hoog bo die rivier geleë is en die heel mooiste uitsigte van die “inwonende” seekoeie en krokodille bied. 




Ons het heerlik by Sharwimbo gerus en het elke middag die piekniekkombers onder die bome oopgegooi en soos munisipale werkers in die bome se skaduwee gelê. Ons kon darem ook ‘n hele paar ekstra voëlspesies identifiseer – ons is nog glad nie kenners nie, maar dis groot pret om die onbekende voëls te probeer uitken. 





En die lekker van die hele gedoente is dat ons regtig voëls sien wat ons glad nie in ander streke van Suid-Afrika sal kry nie. (En hier is daar glad nie hadidas nie…!)

Soos genoem kuier ons vir die volgende 8 dae nog in die streek en sal in die volgende week ‘n draai in die Bwabwatha en die Mudumu Nasionale Parke maak. Daarna skuif ons na die Katima Mulilo omgewing voor ons vroeg in September die grens na Botswana oorsteek. 

NS. Natuurlik het die Springbokke die week teen Australië gespeel en te danke aan Rynhard en sy oupa se goedwilligheid kon Jakkie dit Saterdag met intensie konsentrasie kyk. Die router was op die Gizzu gekoppel en we were in business.


(Hy is baie lief vir Rynhard! 😂

NNS. Die sonsondergange in die omgewing is iets om te waardeer!





Opmerkings

Gewilde plasings