MONKEY BUSINESS

 
Sonsondergang by Namushasha

Die eerste kampplek vir die week was by Mukolo, ongeveer 12km buite Kongola. Die staanplekke is groot met baie skaduwee, maar daar is nie gras nie, net swart riviergrond. Dus was dit ‘n konstante stryd om die wa se matjie en ons voete skoon te hou. Ons het probeer, maar dit was nie altyd baie suksesvol nie en ons voete, plakkies, sokkies en tekkies was swartgrys van die stof vir die grootste deel van die dag.



Ons uitsig vanaf die staanplek

Ons ablusie

Niemand sal 'n kunsgalery haal met die poging nie, maar die boodskap is duidelik...

Die area sukkel, soos voorheen genoem, met ‘n droogte en dis op die meeste plekke baie duidelik. Daar was darem ‘n bietjie water in die rivierkanaal wat verby die kamp loop en kon die rooi lechwes sien rondwei.


Baie belangrike waarskuwings - as daar nie 'n droogte is nie

Sonsondergang by Mukolo

Ons het in die week die Kwando Core Area van die Bwabwatha Nasionale Park besoek en sommer met ons aankoms by die permitkantoor het ons tuis gevoel – daar was ‘n hele trop bobbejane wat kwaaddoenplek gesoek het. Die paaie in die park is dik sand, so ons kan verstaan hoekom net 4x4 voertuie daar toegelaat word. 


Ons het die vorige aand al die bande afgeblaas, want Mukolo is gewoond aan toeriste wat in die sand vasval…

Die Kwando Core Area is ook waar die bekende Fort Doppies geleë is – dis waar die Suid-Afrikaanse Recces opgelei is vir oorlog in die bos. Die Fort is vernoem na ‘n blouapie wat gereeld die leë patroondoppies opgetel en met sy fonds weggehardloop het. 

Fort Doppies is reg in die middel van die Caprivi-pypsteel en word deur niks behalwe bos omring nie, so die area is spesifiek gekies omdat dit baie ooreenstem met die tipe bosveld wat die Recces in Angola sou vind. 





Vir dié wat opleiding daar ontvang het sal dit altyd spesiaal bly, al is daar niks van die Fort oor nie. 


Ons het die park platgery en heelwat wild gesien:

1.       Bobbejane
2.       Rooibokke
3.       Rooi lechwe
4.       Buffels
5.       Koedoes
6.       Kameelperde
7.       Swartwitpense
8.       Blouwildebeeste
9.       Tsessebe (Basterhartbees)
10.   Waterbokke
11.   Krokodille
12.   Seekoeie
13.   Vlakvarke
14.   Gestreepte muishonde



Die park se voëls het ook nie teleurgestel nie en ons kon agt “nuwe” voëls in ons boek merk - bv. die Saalbekooievaar, Oopbekooievaar, Reusereier, Rooikeelbyvreter, Klein byvreter, Gewone Blousysie en Jamesonse Vuurvinkie.

Nie 'n "nuwe" voël vir ons boek nie, maar dit bly mooi!
Mukolo se krag word deur solarpanele voorsien, so hulle raai besoekers aan om nie goed soos haardroërs of aircons te gebruik nie. Ek het wel die mikrogolf gebruik om rys te kook, maar dit was vroegmiddag terwyl die son nog hoog gesit het. (Onthou, die groot gasbottel is leeg en ons is nie seker hoe lank die kleintjie se gas nog gaan hou voor ons in Katima Mulilo kan hervul nie.) Om gas te spaar het ons peri-peri hoenderlewertjies vir aandete op die vuur voorberei, en ek het na sononder die mikrogolf weer aangesit om die rys warm te maak – en toe trip die krag… Jakkie was nie dik van die lag nie, so ek moes vinnig ontvangs toe sodat iemand die trip switch weer kon herstel.

Soos te verwagte het ons weer ‘n vierbeen besoeker gehad. Die keer was dit Billy, een van die kamp se honde. Hy is baie oud met blou skynsels oor sy oë, maar met sy neus is daar niks verkeerd nie! 
Billy

Hy het elke oggend ‘n draai gemaak en die eerste oggend het ons tjopbeentjies van die vorige aand gehad waarmee ons hom kon treat. Met sy volgende besoek het ons net beskuit gehad – en hy was nie beïndruk met ons poging nie!

Die volgende stop was by Namushasha, ‘n hele 10km van Mukolo af... Dis ‘n Gondwana-oord en het glad nie teleurgestel nie. 






Namushasha se restaurant


Die staanplekke is groot en ons was weereens baie bly om gras by die staanplekke te sien! Ten minste kon ons voete skoonkom… Die wa was onder 'n groot kameeldoringboom parkeer en elke keer as die wind waai het die peule met vreeslike harde slae op die wa se dak geval. Die enorme kremetartboom wat ook op die staanplek is het egter ook 'n paar vrugte afgegooi - en dis kliphard, so ons moes leer om te koes. 

Die vrug

Die boom

Dit was ook lekker om die olifante, seekoeie en visarende rondom die kamp te hoor, maar gelukkig het ons geen middernagtelike besoeke ontvang nie.

Ons het wel ‘n onverwagse besoek van ‘n skerpioen gekry. 


Ek het rustig by die buite-wasbak klere gewas met ons skottel in die wasbak langsaan. Toe Jakkie later die skottelgoed wou was en die skottel oplig het die skerpioen ons gegroet. Gelukkig ‘n klein skerpioen, maar die werker het bevestig dat dit een van die giftige skerpioene is. Jakkie het hom toe maar na die veld toe geskuif.

By die ontvangs het hulle ons gewaarsku dat die kamp se blouapies vreeslik stout is. Ons het die eerste agtermiddag ervaar presies hoe stout hulle is. Ek was in die proses om vir ons toebroodjies te maak en het om die wa gestap om iets uit die koskrat te gaan haal. Terug by die werksoppervlak soek ek die brood – en toe sien Jakkie dat die blouapies die hele brood gesteel het, net om dit rustig in die boom te eet! 

As ek hom kon vang het ek sy gat warm geslaan!

Dieselfde blouapie besig om kwaad te doen by die ontvangs!

Alles het binne sekondes gebeur! Daarna was ons baie meer paraat en Jakkie het sy kettie gaan uithaal…

Die staanplek het ook sy eie kat (genaamd Pieter), seker een van die oord se muisvangers, maar ‘n baie oulike kieter. Hy is goed versorg en het die hele dag by ons rondgedraai. En nogal ‘n gemanierde kat, want as ons eet is hy by ons, maar hy vra nie vir ‘n happie nie. Hy sit net stilletjies naby aan ons en laat ons skuldig voel. 

Pieter bid vir ietsie lekker om op die grond te val

Pieter se disapproving face

Ten minste het een van die werkers die kat se kos- en waterbakkie na ons staanplek geskuif, so toe het hy tog te lekker by ons gekuier.

Ons is vir die volgende sewe nagte in Namibië, hoofsaaklik in die omgewing van Katima Mulilo. Daarna gaan ons by die Ngoma grenspos na Botswana toe.
NS. Fort Doppies se gelukbringer was ‘n mak leeumannetjie genaamd Teddy. Die destydse bevelvoerder het Teddy en sy suster, Lisa, as welpies gekry en die hele basis het hulle help grootmaak (www.recce.co.za/teddy-the-lion). Lisa is later deur ‘n wilde leeuwyfie gebyt en hulle moes haar uitsit. Die foto's hieronder is deur voormalige Recces geneem.

Teddy swem in die Kwando


Op sy eie het Teddy gereeld in die menasie vir kos gaan bedel en soms op van die Recces se bed tuisgemaak. As dit jou bed was moes jy maar ‘n ander slaapplek vir die nag gaan soek het!

NNS. Die Sanga-beeste in die Noorde van Namibië het enorme horings!

Die ou se horings laat dink my aan 'n posfiets se handlebars!




Opmerkings

Gewilde plasings