AU REVOIR, NAMIBIA

Die laaste week van ons Namibië avontuur het aangebreek – dit voel onwerklik om te besef dat dit na vyf maande (vir eers) tot ‘n einde kom. Ons het die Namibië padkaart oopgevou en al die gemerkte roetes weer bekyk… Ons het letterlik van oos na wes, suid na noord deur die land gereis, party roetes meer as een keer. En tog is daar nog soveel afdraaipaaie wat ons wil ry en weggesteekte plekke wat ons wil besoek. Maar, dis bedoel vir ‘n volgende keer.

Die laaste week spandeer ons in die heel laaste deel van die Caprivi, in die Katrima Mulilo omgewing.





Ons eerste stop was vir twee nagte by die Chobe River Camp, reg op die Chobe-rivier, wat die grens met Botswana vorm. Die kamp is deel van die Gondwana-groep en daar is groot aktiwiteit want hulle is besig om die plek op te gradeer.

Ons staanplek is reg op die rivier en ons kombuis- en ablusiegeriewe is in ‘n tent wat op stelte monteer is. Dus kan kampers lekker ver oor die rivier en vlaktes uitkyk. Ons het elke oggend en vroegaand deur die kamp gaan stap om foto’s van die rivier, voëls en krokodille te neem. 















Moeilik om te glo dat die zebras en rooibokke op die grasvlaktes oorkant die rivier amptelik in Botswana wei, nie in Namibië nie. Die restaurant het ‘n lekker uitkykpunt oor die rivier en grasvlaktes, wat ideaal is vir ‘n luilekker sundowner…

Die eerste aand se braai was ‘n hoogtepunt! Dit was heeltemal donker en ons het rustig op ons kampdek geëet. Skielik hoor ek ‘n aanhoudende geritsel in die lang gras aan die ver punt van ons kamp, maar ons steur ons nie veel nie. Later het ek die flits in die wa gaan haal sodat ons kan sien wat so in die gras ritsel – eers het ons gedink dis beeste, maar toe die een sy kop lig sien ons dis ‘n groep van vyf buffels wat ewe rustig staan en wei. Die sekuriteitswag het ook kom lig maak, en toe besluit die klomp buffels dat ons lasting is en verdwyn in die rigting van die rivier. Ons het hulle wel weer die volgende oggend aan die ander kant van die rivier sien wei.

Die volgende stop was by Zambezi Mubala, ook deel van die Gondwana-groep. Ons was gelukkig met ons staanplek, want dit was reg op die rivier (eintlik ‘n sytak van die Zambezi).





In die oggende kon ons koffie drink terwyl ons die plat honde en voëls op die oorkantste oewer dophou. Daar was met tye tot nege krokodille wat hulle lywe in die son gebak het. 






Die watervoëls (soos die Rooipootelsies en Oopbekooievaars) was nie te veel met die krokodille gepla nie, alhoewel ‘n paar van die voëls noue ontkomings gehad het. Die beeste het ook elke dag by die rivier kom drink, maar hulle was definitief meer versigtig vir die gevare. 


Die krokodille het elke paar uur in die rivier verdwyn, net om 30 minute later doodstil in die rivier af dryf, seker op die uitkyk vir maklike prooi.

Zambezi Mubala se kamp is ryk aan voëllewe en ons het groot pret gehad om al die “nuwe” voëls in ons boek af te merk. 



Die groot gelukskoot was toe ons ‘n foto van die Langkuifloerie (Schalow's Turaco) kon neem – dié loeriespesie kom slegs langs die Zambezirivier wes van die Victoria-waterval in Zimbabwe tot in Oos-Caprivi voor, waar ons tans is. 

In vlug is die voël se helderkleurige rooi, blou en groen vere nogal iets om te aanskou! 

Daar was ook ‘n Bruinkopvisvanger (Brown-hooded Kingfisher) wat vroegaand op ‘n droë stomp langs die rivier vir insekte kom wag het. Dis so ‘n oulike, kordate voëltjie!

Ons moes ‘n hele voormiddag in Katima Mulilop spandeer, want die Fortuner se bande moes roteer word (ons het al amper-amper 20 000km gery). 

Ten minste het ons die Green Basket Café ontdek en kon heerlike koffie en kos geniet – in ‘n streek waar jy normaalweg kan kies tussen KFC en Hungry Lion!

Die laaste aand by Zambezi Mubala het ons op ‘n sunset river cruise gegaan – definitief die moeite werd! (Behalwe dat ons beskeie kamera en lens erg afgesteek het teen die Europese, ernstige voëlkykers se lense wat my aan ‘n moderne rocket launcher laat dink het. Liewe genade, daar was definitief vér oor R500 000 se kameratoerusting op die boot! Nietemin het ons mooi foto’s geneem…


Die ou wat heel voor sit het die GROOT kanon gehad

Alex, ons skipper

Die twee hoogtepunte van die sunset river cruise was ‘n kans om die broeiplek van die Rooikeelbyvreter (White-fronted Bee-eater) op die rivieroewer te sien. Die voëltjies maak gate in die rivieroewer om as broeikolonie te gebruik – die natuur bly net wonderbaarlik!



Ons het ook gestop om ‘n hele kolonie van Rooiborsbyvreters (Southern Carmine Bee-eaters) in die takke van ‘n dooie boom te sien. Die voëls het vroegaand rivier toe gevlieg, skrams in die water geduik en terug gevlieg.



Dis regtig ongelooflik mooi om hierdie voëltjies van onder in vlug te sien – dis soos om ‘n pakkie wine gums teen die lig te sien.

Ons het ook die Geelbekwitreiers (Yellow-billed Egrets) gesien “bed” toe vlieg om vir die aand te rus en ‘n paar groot Visarende op die rivieroewer gesien, al wagtend vir aandete.

Die groot Zambezi-rivier het ook nie teleurgestel nie, ons het ‘n hele groep seekoeie gesien, en Jakkie was geduldig genoeg om te wag vir “daardie” oomblik toe een van hulle ‘n groot gaap gee.

Al wat ek kon sien was die vintage Chomp advertensie! 




Dit was regtig ‘n heerlike aand en het ons weer herinner aan hoe geseënd ons is om hierdie avontuur van ‘n toer te doen en dit met mekaar te kan deel! Die natuur is wonderlik, want dit gaan rustig aan met oorlewing terwyl die mensdom veg vir rykdom.

Gister het ons ‘n baie ver gery tot by ons laaste kampplek in Namibië – ‘n hele 33km! 





Die keer is ons by Namwi Island Lodge, ‘n bietjie nader aan Katima Mulilo. Jakkie het rugby gekyk (dit was 'n naelbyt-storie!) en ons het vir oulaas hier gebraai. 


Vanaand braai ons nie, want ons moet more oor die grens en niemand wil vroegoggend ‘n braairooster was as jy ver moet ry nie! Ons het nog een aand in Namibië oor, maar die avontuur is nog nie op ‘n einde nie… Meer daaroor in volgendge week se aflewering van die vervolgverhaal! 

Opmerkings

Gewilde plasings