BUSHVELD BREAK
![]() |
| Die njalabul het kom seker maak dat alles wel is met die pot |
Ons het besluit om die ekstra paar dae na die naweek wel maar in die huisie te spandeer want net so koud soos dit die naweek was, net so warm het dit gedurende die week geword. Die huisie het dakwaaiers en lugverkoeling wat 'n groot trekpleister was!
Dis die einde van die winter en die omgewing is baie droog, maar dit moet vreeslik mooi (en warm!) wees as die somerreëns eers begin.
Die huis het ook 'n ander, ongenooide inwoner in die vorm van 'n moewiese likkewaan! Ek het gedurende die naweek geluide op die dak gehoor en buite gaan kyk of daar miskien voëls op die dak rondkriewel. 'n Dag of twee later het ons die likkewaan oor die erf sien wikkel-wikkel en toe ons weer sien het hy teen die huismuur opgeklim om op die balkon te gaan ontspan. Die eienaars het die likkewaan al uit die dak verwyder en VER weg in die veld gaan los, maar die meneer bly te lekker en het weer in die huis se dak kom nesskrop.
Ons het ook 'n gestremde njalaooi gesien met 'n agterbeen wat nie reg ontwikkel het nie en soos 'n kar se spaarwiel saam met haar rondswerf. Sy is gesond en kom baie goed oor die weg, maar die been is heeltemal onbruikbaar.
Gelukkig is daar nie enige groot roofdiere op die grond by Môreson nie, ander sou sy seker nie oorleef het nie.
Ons het ook 'n draai in Musina gaan maak om proviand te koop - die dorp is nie regtig iets om oor huis toe te skryf nie, so ons het hoofsaaklik tyd by die mall spandeer. Die GROOT en baie ou kremetartbome buite die dorp was wel indrukwekkend en ons is van plan om die komende week na 'n 3 000-jaar oue kremetartboom in die Louis Trichardt omgewing te gaan kyk.
![]() |
| Die groot kremetartbome het almal individuele nommers op |
Vrydagoggend het ons vertrek na ons volgende kampplek, Zvakanaka Farm, wat ongeveer 11km buite Louis Trichardt is. Die kamp is in die Soutpansberge tussen makadamia- en avokadoplase geleë. Dis so 'n mooi omgewing!
Zvakanaka het die oulikste staanplekke - elkeen het privaat ablusie en 'n afdak met 'n kombuisarea wat tot 'n gasstoof en oond insluit. Ek moes vir amper 9 maande sonder 'n oond klaarkom, so nou raak ek opgewonde om 'n oond te sien... 😁En die staanplekke is nie bo-op mekaar nie, so jy voel nie of jy saam met vreemdelinge kamp nie.
Die plaas het ook redelik baie droë wattle hout wat verniet is en sakkies hardekool teen billike pryse. Interessant genoeg het elke staanplek ook 'n houer vol droë doppe van die kremetartvrugte - wat ideale vuuraanstekers is.
Jakkie was baie verlig om Zvakanaka se Bullet's Bar te ontdek - dis 'n unlimited wifi hotspot en honesty bar. Die Vodacom sein is ongelooflik sleg op die plaas, maar met behulp van die wifi kon hy Saterdagaand die Springbokke se wedstryd kyk.
Bullet's Bar het ook heelwat inligting oor doendinge in die omgewing, insluitend die staproetes op die plaas. Dis regtig 'n oulike plek met mooi uitsigte oor die kranse en berge, ons sal weer hier kom kamp.
Die komende week sal ons die omgewing 'n bietjie verken en seker maak dat ons reg is vir ons vertrek na die Kruger Wildtuin.




















Opmerkings