HEADING SOUTH

 


Met ons vertrek van Senyati moes ons eers ‘n vinnige draai in Kazangula gaan maak om ons waterkanne te vul en vir diesel. Op die pad tussen Lesoma en Pandamatenga het ons vir oulaas ‘n paar olifante net langs die pad sien wei.


Pandamatenga is ‘n landboustreek waar daar met mielies en sonneblomme geboer word – toe ons o
ë knip was ons verby die dorpie.

Die pad was lank en reguit, maar ons is darem suksesvol deur een van Botswana se rooilyne, waar die beampte in ons yskas gekyk het vir vleis of vars melk. (Sy het egter nie ons vrieskas agter in die Fortuner gesien nie, dus het sy nie gevra om te kyk nie.)

Die kampplekke tussen Pandamatenga en Nata is skaars, so ons het besluit om by die Nata Lodge oor te bly. Ons het verby die Elephant Sands Camp gery, maar wou nie daar bly nie – volgens vorige kampers is die kampplek substandaard en ons het teen die tyd al hordes olifante van naby gesien.

Nata Lodge se kampplek is goed om vir ‘n nag of twee oor te bly en die kragpunte was baie welkom, want dit was drukkend warm daar gewees. 



Die hoogtepunt van ons aand daar was die nagapies wat in die kampplek se bome rondgespeel het – baie oulike diertjies!

Ek het vir ons padkostoebroodjies gemaak en vroeg die volgende oggend het ons weer die lang pad aangedurf. Ons het in die ry gekyk vir moontlike kampplekke buite Palapye waar ons die laaste nag in Botswana sou slaap. Die keuse was Twin Rivers Farm, ongeveer 7km buite die dorp. 





Die kampplek het tente wat reeds opgeslaan is, maar hulle het darem ‘n gaatjie vir ons wa gekry. Dit was regtig net om oor te slaap – ons het nie eers die wa afgehaak nie.

Teen die tyd was ons redelik gatvol vir die lang pad en die tekort aan lekker kampplekke, so ons was redelik gretig om by die grenspos te kom. Die Martin’s Drift grenspos aan die Botswana kant was redelik gou gewees, tot ons by die brug oor die Limpopo-rivier gekom het. Die brug is in 1943 gebou en kan net eenrigting verkeer hanteer. Dus moes ons tussen al die Zambiese kopertrokke wag tot die hordes trokke van Suid-Afrika oor die brug gekom het voor dit ons beurt was.





En toe moes ons weer tussen die hordes trokke by die Groblersbrug grenspos aan die Suid-Afrikaanse kant wag. 


Dit was sover die onordelikste grenspos wat ons ervaar het, want daar is geen duidelike afbakening vir trokke en motors nie. Ons was tussen al die trokke ingedruk – kompleet soos ‘n bees in ‘n drukgang.

Vir die eerste keer in 5 maande was ons terug in Suid-Afrika en ons het na ordentlike boerewors, lekker biltong en ordentlike beskuit uitgesien – Jakkie het amper die kar omgekeer toe by die Proe-i-Bietjie padstal net buite Baltimore sien. 


Ons het gestop vir koffie en ‘n muffin, maar weggery met beetblatjang, agurkies en marmalade!

Die Nyl River Bush Camp buite Mokopane was ons kampplek vir die volgende drie nagte. 






Dis deel van die Moorddrift Dairy buite die dorp en al die staanplekke kyk oor die Nylrivier uit. (Dis nie die Nylrivier van Noord-Afrika nie, maar wel die Nylrivier buite Mokopane wat later deel van die Limpopo-rivier word.)

Natuurlik moes ons ‘n draai in “Potties” gaan maak, hoofsaaklik om inkopies te doen, maar ook om vir Andy Goetsch te gaan kuier. Jakkie ken vir Andy al meer as 30 jaar, sedert Jakkie in die 1990s by die RMI se Pretoria-kantoor gewerk het. Andy word binnekort 80, maar hy is aan die gang met sy besigheid, die plaas buite die dorp – en hy speel nog gereeld tennis! Hy wou niks hoor van ‘n vinnige kuier nie en ons het later middagete saam met Andy en Retha geëet voor hy ons die plaas gaan wys het. Ons het so lekker gekuier!

Iemand het die oggend die RMI branding afgelaai en Jakkie moes saam met Andy model speel

Teen 16:00 daardie middag kon ons uiteindelik by die Checkers inloop vir kruidenierware…

Jakkie se vae vermoede dat die kampplekke by Nyl River sou opvul teen Vrydag was korrek. Wel, dit was ‘n interessante ondervinding. Papgooiers sover die oog kon sien! Die meeste mense was baie aangenaam en het stil-stil opgeslaan en op hulle visvangery konsentreer, maar daar was wel ‘n paar ander baie ongewone karakters wat ruim gebruik gemaak het van keurige taal.

Teen Saterdagoggend was ons nog nie seker waar ons volgende stop sou wees nie, want die kampplekke in Magoebaskloof het nie goeie resensies nie. Ons het uiteindelik besluit om vir ‘n paar dae by die ATKV Eiland Spa te kamp. 



Dis die eerste keer wat ek by ‘n ATKV oord kamp – alles is baie netjies en ordelik, maar die staanplekke is kleinerig en daar is te veel nuuskierige “swaeltjies”. Natuurlik gee dit vir ons kans om al die skinderstories te roofluister, wat ons lekker laat giggel. Weereens is ons dankbaar vir die kragpunt, want die temperatuur het die afgelope twee dae by 38 ˚C gedraai. (Ons het nog nie die swembad gaan besoek nie, ons het nie ons pool noodles soos die ander swaeltjies nie... 😄)

Ons beweeg later die week nader aan Musina waar ons die langnaweek by Moreson gaan spandeer. 

😁😆


Opmerkings

Gewilde plasings