NORTH STAR

 

Die res van ons nagte by die ATKV Eiland Spa was baie warm, so die aircon in die wa was ‘n absolute lewensredder!

Een van die middae het ons in die koelte van die wa gaan rus, maar vergeet om die klappe by die kombuis toe te maak – die gevolg was dat die blouapies ons vrugtebak rot en kaal besteel het! So leer jy... Daar was darem nog ‘n appel en twee naartjies in die bak oor, genoeg om die volgende aand ‘n njala-koei die appel te voer. 



Sy het na skemeraand tussen die staanplekke rondgedwaal, glad nie bang vir die kampers nie, natuurlik om te sien of daar nie dalk ‘n lekkerny te vinde is nie. Natuurlik het sy ietsie lekker by die Oliviers gekry en heerlik aan die appel gesmul.

Die aand voor ons vertrek het ons gou die awning opgeslaan ter voorbereiding van die volgende oggend se vertrek. Dit was ‘n goeie plan gewees, want die wind het gedurende die nag baie sterk gewaai en teen vroegoggend was die meeste kampers buite om die stand van hulle tente en tenttoue te inspekteer. Die weer het ook heeltemal verander van snikhete dae tot koel en bewolk.

Die Fortuner se neus het vir die langnaweek noord gedraai, in die rigting van Louis Trichardt en Musina. (Ons was maar te dankbaar vir die koeler weer, veral omdat ons in die Musina-omgewing sou wees!) Ons het vir Jan en Annelize by ‘n vulstasie in Louis Trichardt ontmoet en saam-saam verder gery, op pad na die Moreson plaas-ontwikkeling, ongeveer 35km van Musina.

Die pad buite Louis Trichardt wat deur die Soutpansberge kronkel was baie besig met trokke en motors, maar dit is regtig baie mooi om so deur die groen, beboste ruigtes te ry. By Moreson was ons gelukkig genoeg om saam met Jan en Annelize ‘n paar dae in ‘n huisie te spandeer, veral omdat dit koud en winderig was. Die plaas-ontwikkeling het wild wat vry rondloop en daar is elke middag ‘n groep njalas wat vir ietsie lekker kom vry – en die sak wortels in die yskas is besig om baie vinnig te verminder. 





Jakkie rantsoeneer die hoeveelheid wortels wat ek per dag vir die njalas kan voer, want ek sou seker teen die eerste middag die hele sak gevoer het! Die naweek saam met vriende was goed gewees, want ons kon baie lekker gesels, lag en kuier.

 

Na die naweek sal ons vir nog ‘n paar ekstra dae by Moreson kamp en dan terugbeweeg na die Louis Trichardt omgewing voor ons tyd in die Kruger Wildtuin sal spandeer.

NS. My rekenaar se hardeskyf het vandag besluit om die gees te gee, so die week se blog is lig op foto’s. Ons sal noodgedwonge iemand moet kry om al die foto’s en dokumente van my hardeskyf te onttrek. Dit is ‘n epiese pyn in my fondament!

 


Opmerkings

Gewilde plasings