ALL CREATURES GREAT AND SMALL

 

 

Natuurlike bosluisbeheer







Die steenbokkie se horings lyk soos die antennas van 'n wifi router...

Toe vind ons uit - Elvis bly al die jare eintlik in Punda Maria

Die grondpaaie rondom Punda Maria en Parfuri was baie goed vir ons want dit het heelwat wild opgelewer. Ons het ook die S99 Loop om Punda Maria gery en ‘n dooie jong kameelperd gekry met ongeveer 40 aasvoëls wat met die karkas gewoel het. 




Later, in die omgewing van Shingwedzi, het ons ook verby 'n dooie olifant gery - omring deur honderde aasvoëls wat besig was om hulle werk te doen.



Later dieselfde dag het ons ook 'n dooie buffel in die rivierloop gesien - geen idee waaraan die dier dood is nie, maar dit het nie gelyk of die roofdiere aan hom gevreet het nie.  

Die krokodille het die dooie buffel heeltemal ignoreer

Nooit ‘n lekker gesig om te sien nie, maar ongelukkig ‘n harde werklikheid van die natuur en ‘n aanduiding dat die voedselketting werk soos dit moet.

By die Punda Maria watergat het ‘n jong buffelkalfie het in die watergat se modder vasgeval – ongelukkig het die wildbewaarders het eers volgende oggend gekom om die dier uit te help. Hulle kon nie die vorige middag dit doen nie want daar was heelwat olifante by die watergat wat dit gevaarlik gemaak het. Almal wat naby die watergat se omheining gekamp het moes deur die nag die gebulk van die kalfie aanhoor. Dis glad nie lekker nie, laat jou hart saamtrek en jammer voel vir die dier, maar weereens, dis die natuur. Nobody ever promised life to be kind or fair… Die ma het tot laat die aand vir die kalfie gewag en later moed opgegee. Die wildbewaarders het wel die kalfie uitgehaal, bietjie afgespoel en probeer water gee, maar dit was tervergeefs. Die dagtemperature het tot 36°C gestyg wat te hoog was vir die reeds verswakte kalf. Ons het later gehoor dat ‘n ou buffelbul ook in die modder vasgeval het.


Ons het wel op een van ons roetes by ‘n bruggie arriveer met HONDERDE buffels wat heen en weer stap om te gaan water drink. 



Dit was ons eerste ernstige verkeersknoop in die Kruger Wildtuin, want ons is vir ten minste 10 minute tot stillstand gedwing voor enige karre ‘n gaping kon kry om verby die buffeltroppe te ry.

Soos genoem is dit die einde van die winter en baie van die watergate en riviere se sytakke is droog. Dit keer egter nie die olifante nie – hulle grou eenvoudig gate in die rivierbedding tot daar water is wat hulle kan drink. Die groter olifante doen die harde werk sodat die kleintjies ook ‘n waterkans kry.





Alhoewel Shingwedzi ‘n groter kamp as Punda Maria is het die bome min blare, maar ons kon darem ‘n gaatjie met ‘n bietjie middagskadu kry. 

Shingwedzi het darem gesorg vir ons eerste trop leeus wat in die rivierloop gestap het om te gaan water drink.






Daar was heelwat wild en ons het die afgelope paar dae al amper almal gesien, behalwe vir die wildehonde, renosters en ‘n luiperd. Hopelik sal ons geluk hou!

By Letaba ruskamp kon ons naby die omheining kamp en die hienas het na sononder langs die omheining kom patrollie doen met die hoop dat hulle iets te ete kan kry. 




Die kennisgewings in die kamp en op die heining vra mooi dat mense hulle nie moet voer nie want hulle raak aggressief en moet van kant gemaak word. Ons het hulle wel hoor lag, en dis presies soos dit in The Lion King klink. Ten spyte van die versoeke het ons wel gesien hoe braaivleis oor die heining gegooi word sodat mense ‘n beter foto kan neem…

As ons soggens ekstra-vroeg uit die kamp vertrek is ontbyt problematies, maar by dié uitkykpunt het ons tyd gehad vir die ingepakte koffie, muesli en jogurt. Breakfast of champions!

‘n Hoogtepunt was ons ontbyt by Olifants ruskamp – dit was nie beplan nie, maar Jakkie kon nie die versoeking van pap, kaiings en twee gebakte eiers weerstaan nie!


Uitsig vanaf die restaurant

Behalwe vir die leeus en ander gewone diere by Shingwedzi en Letaba het ons ook ‘n paar ongewone dinge raakgeloop.

Laatmiddag, naby die Letaba ruskamp, sien ons ‘n leeuwyfie op die rivieroewer lê, min gepla.

Kyk mooi - die spoeg spat!

Twintig meter verder staan ‘n koedoekoei, baie ontsteld oor die leeuwyfie se teenwoordigheid. Gewoonlik sal koedoes voete klap en maak dat hulle wegkom, maar nie die koei nie. Sy het vir 10 minute daar gestaan en aandagtig na die leeu gekyk terwyl sy elke paar sekondes ‘n bulk geluid maak dat die spoeg letterlik spat. Die leeuwyfie het haar aan niks gesteur nie en uiteindelik het die koedoe omgedraai en weggestap.

Lank in die tand het letterlike betekenis gekry met die ou losloper olifantbul wat langs ‘n grondpad staan en wei het. Ons altwee het nog nie ‘n olifant met sulke groot en lang tande in lewende lywe gesien nie.




En op ons laaste middag het ons gesien dat tegnologie ook in die Kruger posvat toe ons ‘n zebra afneem met ‘n QR code op sy rugvel. Kyk, dis regtig waar!




Die pad na die Skukuza ruskamp was ook nie sonder opwinding nie – ons was in ‘n verkeersknoop wat deur een enkele olifant veroorsaak is. Die jong olifantbul het op ‘n klein bruggie gestaan en eet aan die bome langs die pad en wou nie karre deurlaat nie. Die voorste bakkie het een of twee keer probeer verby sluip maar die die bul het elke keer na die bakkie gedraai, ore geflap en nader gestorm. 

Later was daar ongeveer 10 karre aan beide kante van die brug wat maar die 15 minute rustig moes wag tot die bul besluit het sy ontbytkeuses is beter in die veld langs die pad. Jakkie dink die ou in die voorste bakkie het ‘n skoon onderbroek nodig gehad na die olifant se mock charges! 😆

Kort na die verkeersknoop was daar ‘n trop hienas wat by ‘n watergat langs die pad besig was om af te koel. 







Die dag was reeds WARM so die hienas se ontspanning in die dorpswembad was seker te verstane. (Hulle bly grillerige diere…)

Ons was ook gelukkig om ‘n groepie van drie Bromvoëls langs die pad te sien – hierdie koddige voëls is ‘n bedreigde spesie in Suid-Afrika.

 



Ons is tans by die Skukuza ruskamp en sal daarna vir ‘n paar dae by Berg-en-Dal kamp voor ons die Kruger Wildtuin verlaat.

NS. 

Ons het die buffel gesien - minus die helfte van sy een horing. Dit lyk of dit seer was!

'n Ongemanierde voël by Punda Maria het amper in my oggendkoffie gepoef - die moegoe!


Die 2013 vloedvlakke by Shingwedzi 😮

Fun fact - 'n kameelperd se tong is so donker om te sonbrand te keer

Opmerkings

Gewilde plasings