KRUGER CRUISING
Die laaste paar dae by Zvakanaka was lekker rustig en ons het darem die dorp gaan verken en by MacRidge net anderkant die plaas gestop vir makadamianeute en olie. Jakkie kon uiteindelik weer op die plaas begin ente draf en ons het ook van die kort staproetes beproef. Soos genoem is die omgewing regtig boomryk met die mooiste uitsigte oor die berge en kranse.
Die week het ‘n donderstorm met reĆ«n
gebring en toe ons Vrydagoggend moes oppak het die weer vir ons misreƫn
gebring, maar dis beter as om in die bloedige son kamp op te slaan.
Ons is deur die Verwoerd-tonnels in die rigting van Musina - die tonnels is in 1961 geopen, maar ons het gewonder wanneer die spesifieke naam ook sal verander...?
Die eerste stop op ons pad na die Kruger Nasionale Park se Parfuri-hek was by die Sagole Big Baobab wat oos van die dorpie Tshipise geleƫ is.
DiĆ© enorme kremetartboom is tussen 1 500 en 3 000 jaar oud. Die kenners sĆŖ ongeveer 1 500 jaar, maar die mense glo dis eerder 3 000 jaar oud. Maak nie saak nie, dis wel die grootste kremetartboom in die suidelike halfrond – die stam het ‘n deursnit van 10,5m en die omtrek is 34m! Dit beteken dat dit 34 mense wat hande vashou sal vat om die boom te omsirkel.
Nogal groot en baie indrukwekkend om dit so voor jou te sien.
Dink net wat die boom al alles gesien kom en gaan het in sy leeftyd van 3 000
jaar…
Na al die draaie was ons
uiteindelik by die Parfuri-hek en het die pad gevat na die Punda Maria-kamp.
Ons het nie net langs die teerpad gery nie, maar eerder grondpad waar ons kon.
Dit was die moeite werd, want op ons pad na die kampplek was ons gelukkig om ‘n
jagluiperd te sien, besig om doodluiters oor die grondpad te stap! Jackpot!
By Punda Maria het ons tyd geneem
om ‘n kampplek te kies en gelukkig kon on seen reg langs die omheining kry wat
oor die watergat uitkyk. Teen die tyd wat ons arriveer het was die blouapies druk
besig om kwaaddoenplek te soek, maar ons was bewus van hulle. Jakkie het die voorste
vensters van die kar laat sak sodat hy mooi kon sien hoe om die wa te terug te
stoot, gestop en uitgeklim om seker te maak dat hy tevrede was. TIEN sekondes –
en toe ons weer kyk hardloop ‘n bobbejaan (nie ‘n blouapie nie) met ‘n sak
makadamianeute oor die vlakte! Alles het SO vining gebeur – die bobbejaan het
by die oop venserruit ingeklim en tot op die agtersitplek gespring om die neute
te kry… Ek was so vies vir die flippen bobbejaan!
Gelukkig het die troppe olifante by die watergat vergoed vir die bobbejane. Ons het front row seats in die oggende, agtermiddae en aande as die olifante hulle modderbad kom vat en die aand se loopdop drink. Daar is verskillende troppe wat in sarsies naderkom, amper asof hulle vooraf tydgleuwe bespreek het. Dit beteken nie dat die hele gedoente sonder onderonsies is nie. Sommige raak vies vir ander en laat almal dit goed verstaan. Die koeie wat kleintjies het is hoofsaaklik gefokus op die veiligheid van die kinders en help sodra een van die kleintjies sukkel om te drink of uit die modder te kom.
Af en toe waag ‘n paar vlakvarke of buffels dit by die watergat, maar hulle word vriendelik verplig om ‘n ander drinkplek te gaan soek. Punda Maria het ook ‘n “hide” wat oor die watergat uitkyk – die ideale plek om die watergat-dramas vanuit die lug te bekyk.
Sekere dele van die park is baie droog, soos te verwagte vir die tyd van die jaar, maar dit het ons toegelaat om heelwat wild te sien. Ons het Saterdag tot by Parfuri Picnic Spot en Crook’s Corner gery, ‘n gedeelte wat ruig en groen is.
Crook's Corner het 'n interessante geskiedenis, want dit is die plek waar Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe mekaar ontmoet - wat ivoorsmokkelaars en ander rampokkers in die ou dae die ideale ontsnappingspunt gebied het.
Selfs tussen die ruigtes het ons heelwat wild gesien, selfs twee elande.
Die wild wat ons tot dusver gesien het:
(Natuurlik ook baie blouapies en bobbejane…)1. Olifante
2. Buffels
3. Blouwildebeeste
4. Kameelperde
5. Zebras
6. Jagluiperd
7. Jakkals
8. Seekoeie
9. Krokodille
10. Vlakvarke
11. Rooibokke
12. Waterbokke
13. Njalas
14. Koedoes
15. Elande
16. Tsessebes (basterhartbees)
17. Duikers
18. Steenbokkies
Ons bly vir die volgende week of twee in die Kruger en skuif more na Shingwedzi-kamp. Hopelik sal ons binnekort ‘n paar ander roofdiere sien!
NS. Ons het buitengewone
besoekers by Punda Maria gehad – die bosnagapies (thick-tailed bushbabies) en
die kuifkoptarentale (Crested guineafowl).
Jakkie het aanvanklik gedink dis ‘n
kat wat op die omheining stap, maar toe sien ons die groot ogies en die
oortjies van die bosnagapie. Hulle is redelik skugter, maar waardeer appelskyfies
of stukkies pynappel.
Ek lag elke liewe keer vir die kuifkoptarentale
– die voĆ«ls lyk of hulle gepermde mohawk pruike dra. Die arme goed is gestraf
met hulle belaglik kapsel!

















Opmerkings