WILD DOGS AND GRUMPY GENTLEMEN


 
Die besoek aan die Kruger Wildtuin is nou agter die rug maar ons is baie dankbaar dat ons met elke dag se uitstappie iets nuut of net besonders gesien het.








Lang gesig soos 'n weeshuisbrood

 
Skukuza se ruskamp is groot en daar is selfs ‘n Cattle Baron restaurant, maar ons het dit ‘n mis gegee. Daar was een aand tydens ons verblyf redelike sterk wind gewees – en die nalatigheid van gaste het gesorg dat drie van die chalets by Olifants ruskamp afgebrand het.

As die kwik op 41 °C staan dan lê die buffels ook maar laag

Die dae by Skukuza was knetter-warm en ons het elke middag in die wa gerus met die aircon op full blast en selfs dan het ons die hitte gevoel. Die ergste was toe die kwik op 41 °C gedraai het – tot die voëls se bekke het oopgehang.
 
Ons het wye draaie op hoofsaaklik grondpaaie gery en het heelwat wild gesien, maar nie alles nie. Aanvanklik het ons gedink dat die wildehonde ons gaan ontwyk, maar op die ou end was die enigste dier wat ons nie kon raakloop nie ‘n luiperd. Met die wildehonde was ons gelukkig genoeg om hulle op pad na Krokodilbrug in ‘n rivierloop te sien, besig om aan ‘n rooibok te eet. 



Die aasvoëls het baie hard prober om ook ‘n paar happies te steel, maar die wildehonde was paraat en het die aasvoëls verjaag. Kort daarna het ons ‘n renoster teen ‘n heuwel gesien, maar ongelukkig nie naby genoeg vir ‘n foto nie. ‘n Groot maanhaarleeu het ook verskyn, maar weereens was dit te ver vir ‘n foto. Ten minste kon ons sien dat dit ‘n volgroeide leeumannetjie was want hy het ‘n wilde bos maanhare gehad.
 
Hienas was daar baie (vir ons) want ons het hulle twee verdere kere gedurende die dag raakgekuier – die een keer was ‘n groep besig om aan ‘n vangs te vreet, maar dit was buitengewoon om later ‘n ma met drie kleintjies langs die pad te gewaar.



Die meneer het 'n halsband aan om die trop se bewegings te monitor


Hienas is (soos sommige mense) ook net oulik terwyl hulle klein is

By Berg en Dal was ons verras om nie net “nuwe” voëls te sien nie, maar ook ‘n gewone klein nagapie (bushbaby), ratel (honey badger) en ‘n muskeljaatkat (genet)! Die ratel was nie so stout soos die apies nie, maar hy het ook gemik vir die vullissak, dus moes ons elke aand seker maak om die sak in die groot asblikke weg te gooi. Die muskeljaatkat was ‘n groot verrassing want dis ‘n skugter nagdier wat sluipaanvalle op knaagdiere, voëls en vlermuise uitvoer. 



Die foto’s moes vining met 'n selfoon geneem word, want dit was al donker en die kat het vining verdwyn.
 
Gedurende die afgelope week het ons nog twee keer groepe Bromvoëls (Southern Ground Hornbill) langs die pad gesien en ook kans gehad om ‘n Gompou (Kori Bustard) af te neem.


Ons het een oggend tot by Renosterpan gery om na die seekoei te gaan kyk en ook om ons ontbyt te eet. Natuurlik was die spreeus baie vooraan, maar die kuifkophoutkapper het op die kar se kantspieël kom sit, so hy het ietsie lekker gekry. 




Net klein happies van die oorskiet jogurt, maar ek is seker hy was dankbaar!

Papegaaiduif 


Koffie en beskuit by die uitkykpunt

Die ander hoogtepunt was toe ons die Papegaaiduif (African Green-Pigeon) by ‘n uitkykpunt bo-op ‘n groot granietrots kon sien, en later ook ‘n Groottroupant (Purple Roller) en Rooiwangmuisvoël (Red-faced Mousebird).



Die groot voëls het ook nie teleurgestel nie want ons kon ‘n Berghaan (Bateleur), Breëkoparend (Martial Eagle), Bruinslangarend (Brown Snake-Eagle) en Monnikaasvoël (Hooded Vulture) identifiseer.
 
Die laaste dag wat ons in die wildtuin kon spandeer het ons weer onbekende grondpaaie verken, maar toe die honger begin knaag het ons by die Afsaal-piekniekarea en restaurant gestop vir roosterkoeke. Baie lekker – ons kan dit aanbeveel! Die blouapies by Afsaal was meer hans as gewoonlik en het ‘n piesang en appel by iemand gesteel. Ons het eers gedink die groot sondebok is dalk in ‘n brand gevang, want sy pels het in alle rigtings gestaan en was plek-plek swart. Die werkers het ons ingelig dat hy ‘n gewoonte-misdadiger is want hy het nie gebrand nie, maar wel drie weke vantevore in ‘n blik swart verf geval. Die verfblik se deksel was nie ordentlik toe nie en die apie was nuuskierig.
 
Ons kamp tans in die Sabie-omgewing en sal aan die einde van die week na Schoemanskloof skuif.
 
NS.
Na een van ons oggendritte is ons Hazyview toe vir proviand – en net daar, in Hazyview se Checkers, het Jakkie ‘n nuwe loopbaan oorweeg toe hy vir ‘n plastiek Checkers Sixty60 motorfietshelm gesmeek het. Kyk net hoe oulik!

 
Die wildtuin leer jou om oplettend, paraat EN geduldig te wees. Ons het twee keer amper ‘n kameelperd raakgery. Nie omdat ons vining ry nie, maar as jy regs kyk vir koedoes, dan besluit die kameelperd om van links af reg voor die kar in te stap!
Geduld is nodig as daar olifante langs die pad wei. Ons het ‘n ou, alleenloper olifantbul teëgekom wat nie vir ons lus was nie, dus moes ons ‘n hele ent agteruit ry terwyl hy met (onder andere) flappende ore nader stap.





Opmerkings

Gewilde plasings