FORESTS OF THE MIND
Na die Kruger Wildtuin het ons na Merry Pebbles net buite Sabie geskuif. Die kamp is groot, met heerlike groen gras en groot bome wat baie welkom was na die droë wildtuin. Die Sabie omgewing is groen en welig met groot denneboomplantasies.
Ons bure by die kamp was Dave en Janet met hulle hond Zorro.
Zorro het ook net 3 bene – hy het in sy jeug vir’n week in ‘n strik vasgesit terwyl Janet die wêreld omgekeer het om hom te soek. Nadat die persoon wat die strik gestel vir Zorro vrygelaat het kon hy homself tot by die huis sleep. Ongelukkig kon die veearts nie sy agterbeen red nie en tot vandag toe kan jy ‘n vae lyn in sy agterlyf se hare sien waar die strik hom vasgedruk het.
![]() |
| Zorro het in die Fortuner geklim en wou nie regtig uitklim nie |
Vandag is hy ‘n ou man, living his best life terwyl hy oral saam met Dave en Janet kamp.
Ons het op ‘n paar daguitstappies gegaan – die eerste was na God’s Window buite Graskop met uitsigte so groot soos die Heer se genade.
Die vorige keer was ons saam met my ma en pa daar gewees - ‘n spesiale herinnering vir ons.
Ons het vir Flip en Trudie by Punda Maria ontmoet en hulle het aanbeveel dat ons ‘n draai by die Graskop Gorge Lift gaan maak.
Dis ‘n relatiewe nuwe ontwikkeling met zip line oor die kloof, ‘n big swing tot onder in die kloof en ‘n hysbak wat 51m na benede tot onder in die kloof daal. Jakkie het amper ‘n floute gehad toe hy die big swing aanskou, so ons het met die hysbak afgegaan en die roete deur Afromontane woud gaan stap.
Die voetpaadjies is van hout gebou met stoppunte wat inligting oor die fauna en flora van die kloof gee. Die tydjie onder in die kloof se digte bos was soos om vir ‘n periode in ‘n ander wêreld rond te beweeg.
Die volgende dag is ons na Witrivier om ‘n draai te maak by die Witrivier Heritage and Motor Museum.
Dis tussen interessante winkeltjies in ‘n kompleks effens buite die dorp geleë. Die museum doen ook vir privaat eienaars restourasiewerk op ou karre en motorfietse so ons kon na hartelus ronddwaal. Daar is onder andere Morris Minor modelle presies soos wat Jakkie se pa en my pa in hulle jong dae besit het.
Ander interessante modelle sluit ‘n 1940s Harley Davidson met ‘n side car en ‘n 1911-1912 Willys Overland 59ft. Ek is gek oor die ou karre en kan vir ure na die fyner detail kyk maar die bestuurder en passasiers se veiligheid was definitief nie altyd die grootste prioriteit nie.
Ons het later baie lekker
pizza in die kompleks geëet... Ek noem dit omdat dit die eerste ordentlike
pizza was wat ons in maande kon eet – ‘n groot treat vir ons.
Natuurlik moes ons deur digte mis stoei om ook ‘n draai by Pelgrimsrus te gaan maak. Die dorpie gaan agteruit maar dit bly lekker om daar rond te stap en in die winkeltjies vir aandenkings te snuffel.
Ons volgende kampplek was by Goederus in Schoemanskloof. Dis ‘n klein kampterrein amper aan die einde van die Sterkspruit-pad wat al langs die rivier kronkel.
Goederus is weggesteek tussen die kloof se bome en plantegroei wat dit
‘n paradys vir voëlkykers maak. Die kamp is baie netjies met privaat ablusie en
‘n eie kombuisie vir elke kampplek.Daar is glad nie selfoonsein nie, maar die
eienaars maak van satelliet-internet gebruik, so hulle het Jakkie en Netwerk24
se vriendskap gered! Ons het heerlik saam met die plaashond, Schnucki, en Bella,
die buurman se hond, langs die rivier gaan stap.
Die kamp het ook die stertkant van die groot storm wat soveel skade by Skukuza veroorsaak het ervaar. Die krag was vir ‘n paar uur uit, maar Eskom het dit ten minste vinnig herstel.
Die groot uitstappie was ons besoek aan die Sudwala
grotte wat baie interessant was. Ons het saam met die gids deur die grotte
gestap en hy het ons in detail van die grotte se 250 miljoen jaar se geskiedenis
vertel.
Ons het ook by The Butterfly Effect net onder die grotte gestop om rond te kyk. Die organisasie skep ruimte vir skoenlappers om veilig voort te plant omdat die insekte se habitat vernietig word - en skoenlappers vorm 'n baie belangrike deel van ons ekosisteem. Die tuine is mooi en daar is tot 'n labarint wat ons gestap het.
Ons is vir die volgende paar weke by De Rust in Dinokeng waarna ons vir ‘n wyle by Almega gaan kamp.
NS. Toe ons by Merry Pebbles die wa wou hak het die kalant vir ons onder die jockey wiel se plankie gewag. Nie baie groot nie en ook nie 'n giftige soort skerpioen nie, maar dit het ons groot laat skrik! (Hierdie keer was Jakkie nie die enigste een wat soos 'n meisie gegil het nie... 😉)










































































Opmerkings